Groep swaar gestraf wat transitoroof beplan

Foto ter illustrasie. (Foto: Netcare 911/Twitter)

Agt mans is in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gevonnis op aanklag van ʼn rits oortredings wat verband hou met hul plan om ʼn geldwa in September 2017 op die N2 tussen Kokstad en Harding te kaap.

Die mans, Xolani Mpisana, Morrison Ngcobo, Muzi Blose, Sabelo Buthelezi, Thuthukani Dlamini, Msizi Mkhize, Sibusiso Malusi Ncegwa en Sipho Msayi Nyosi, het voor die voorval en ter voorbereiding vir die transitorooftog, twee voertuie gesteel wat hulle sou gebruik. “Hulle het ʼn BMW 3-reeks gesteel wat aan Xolani Ngwenya behoort het en ʼn Ford Territory wat aan Jonathan Coleman behoort het,” sê Natasha Ramkisson-Kara, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag. “Ngwenya se beursie en selfone is ook gesteel.”

Op die dag van die voorval het die mans hulself toegerus met vuurwapens en springstof indien hulle enige weerstand sou teëkom. Hulle het ook ʼn Toyota-bakkie gebruik wat aan Mkhize behoort het – dit sou hul wegkomvoertuig wees.

“Hulle was nie bewus daarvan dat die polisie reeds inligting van hul bronne ontvang het oor die beplande rooftog nie. Hulle wou die mans onderskep en in hegtenis neem voor hulle hul misdaad kon pleeg. Die polisie het een van die gesteelde voertuie opgemerk en wou dit voorkeer, maar die verdagtes het gevlug en skote op die beamptes gevuur.”

Die polisie het teruggeskiet en drie lede van die bende is doodgeskiet. Vyf polisiebeamptes is beseer. Die res van die groep is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op vuurwapens, ammunisie en springstof.

Senior staatsaanklaer Monde Mbaqa het die ooggetuies se getuienis en selfoon- en ballistiese bewyse gelei. Dié bewyse het die mans met die misdade verbind.

Mpisana, Ngcobo, Blose, Buthelezi, Dlamini, Mkhize en Ncegwa is tot 95 jaar tronkstraf gevonnis vir hul rol in die oortredings. “Die hof het egter bevind dat van die vonnisse gelyklopend uitgedien sal word en hulle sal effektief 30 jaar tronkstraf moet uitdien.”

Nyosi is lewenslange tronkstraf en 95 jaar tronkstraf opgelê. “Hy sal effektief lewenslange tronkstraf uitdien omdat van die vonnisse gelyklopend uitgedien word.”

Adv. Elaine Zungu, direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal, het die ondersoekbeamptes van die polisie gelukgewens en die vervolgingspan vir die uitsonderlike samewerking in die saak. “Voortgesette samewerking sal lei tot suksesvolle vervolgings en die misdaad van transitorooftogte hokslaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SomeOne ·

wanneer gaan ie howe besluit om die “samelopend vonnisse”, mee wegdoen
dit skrik nie die oortreders af nie, vir hulle is 20, 30 jaar in die tronk die regte geleentheid om hulle makkers wat buite is te help om nog misdade te pleeg
dan word die vonnisse as swaar aangegee

Waarnemer ·

Tyd dat die doodstraf weer in SA in werking gestel word…..30 jaar beteken eintlik 3 maande dan mediese parool.

Pikkie ·

EN DAN KOM MINISTER BEKI CELE ”Die Minister van POLISIE ”EN LAAT HY N’ KLOM KRIMINELE VRY!! NEE WAT MET DIE REGERING SAL KORRUPSIE en SELF-VERRYKIING VIR ALTYD VOORT DUUR!! Ongeluukig is dit hulle ”ENIGSTE MISSIE”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.