Groep vas oor tronk-geldmaakskema

Argieffoto

Argieffoto

Die Valke het sewe verdagtes in hegtenis geneem, insluitend ʼn veroordeelde misdadiger, nadat hulle glo ʼn polisiebeampte nagemaak het in ʼn geldmaakskema.

Die groep is in hegtenis geneem nadat ʼn gevangene in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria die Phalaborwa-polisiestasie in Limpopo gebel het en homself as ʼn luitenant-kolonel van die Valke voorgedoen het.

“Die ‘kolonel’ het die polisie in kennis gestel van ʼn verdagte wat in die plaaslike landdroshof moet verskyn,” het brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, in ʼn verklaring gesê. “Hy het die polisie opdrag gegee om met die verdagte se familie in verbinding te tree en sy kontakbesonderhede aan hulle te verskaf.”

Toe die familie die ‘kolonel’ bel, is hulle aangesê om ʼn onbekende bedrag kontant in ʼn bankrekening te deponeer, sodat die verdagte vrygelaat kan word op borgtog en dat die dossier vernietig kan word.

Die verdagtes, twee mans en vier vroue, is in Brits en Witbank in hegtenis geneem en sal Woensdag in die Phalaborwa-landdroshof verskyn op aanklag van korrupsie en dat hulle ʼn polisiebeampte nagemaak het. Die gevangene sal ook binnekort in die hof verskyn. Die verdagtes is almal tussen 28 en 45 jaar oud.

Dit is die tweede deurbraak nadat nóg ses mense in hegtenis geneem is nadat hulle ʼn soortgelyke skema gebruik het om niksvermoedende familielede te bedrieg. Margaret Polo (43), Simon Motlhasedi (33) en Rachel Holmes (32) is tans vrygelaat op borgtog van R1 000 elk. Die gevangenes David Mellow, Donald Mahlabathi en Jimmy Moeti sal ook Woensdag saam met hul medebeskuldigdes in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J.Z ·

Mooi goeie werk maar sluit hulle toe en gooi die sleutel weg.

Martin ·

Het die familie die geld oorbetaal? Indien wel, wat gaan hulle oorkom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.