Groepe bepleit herinstelling van SAOG-tribunaal

Barend Uys, Mqondisi Moyo, dr. Theo de Jager, Ben Freeth en Kgosi Mogakolodi Masibi (foto: verskaf)

Verskeie instellings, soos die Mike Campbell-stigting, die Mthwakazi Republiek Party (MRP), die landbounetwerk Saai, AfriForum en die kantoor van Kgosi Mogakolodi Masibi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi-kultuurgemeenskap, het Maandag ʼn memorandum aan die sekretariaat van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gestuur waarin die herinstelling van die SAOG se streekhof, die SAOG-tribunaal, bepleit word.

Volgens Ben Freeth, uitvoerende direkteur van die Mike Campbell-stigting, is die streekhof toeganklik vir enige SAOG-burgers wat meen die regstelsel in hul eie land het hulle in die steek gelaat.

“Die effektiewe sluiting van die tribunaal was ʼn verwringing van die gereg wat meer as 400 miljoen burgers in 16 SAOG-lande van geregtigheid ontneem het,” verduidelik Freeth.

Mqondisi Moyo, president van die MRP, beklemtoon dat die herinstelling van die SAOG-tribunaal noodsaaklike wigte en teenwigte teen korttermyn- politieke belange sal help vestig. Dit sluit in die herbevestiging van SAOG-regerings se verbintenis tot menseregte, die oppergesag van die reg en geregtigheid vir alle burgers in die SAOG-streek.

“As ʼn netwerk van familieboere en verteenwoordigers van die meerderheid van Zimbabwiese kommersiële boere, is Saai hier om druk te plaas op die herstel van die SAOG-tribunaal,” sê Theo de Jager, uitvoerende direksievoorsitter van Saai.

Volgens De Jager word die hulp van die internasionale gemeenskap hiervoor benodig. Dit sal verseker dat vergoeding betaal word aan die wit Zimbabwiese boere wat steeds nie vergoed is nie vir grond waarvan hulle die titelaktes besit, maar met geweld afgeskop is.

Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sê dit was ʼn voorreg vir AfriForum om saam met ander organisasies en kultuurgemeenskappe te werk om geregtigheid te laat geskied en eiendomsreg van alle gemeenskappe in Suidelike Afrika te beskerm. Uys sê die burgerregtegroep is dankbaar vir talle regs- en ander oorwinnings wat reeds gesamentlik in hierdie lang proses behaal is en hulle bly verbind tot dié proses.

“ʼn Herstelde SAOG-tribunaal het ʼn noodsaaklike rol om te vervul om vreedsame naasbestaan en ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir alle kultuurgemeenskappe in Suidelike Afrika te verseker. Dit sluit in gevalle om geregtigheid aan alle kultuurgemeenskappe te verseker – veral waar geregtigheid aan gemeenskappe en individue in hul eie lande geweier is,” sê Uys.

Verteenwoordigers en ondersteuners wat die memorandum aan die SAOG onderteken het (foto: verskaf)

Kgosi Mogakolodi Masibi, van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi, verneem dat kultuurgemeenskappe in die landelike gebiede van Suidelike Afrika ʼn groot behoefte aan ontwikkeling het. Die sleutel tot ontwikkeling word as ʼn belegging bestempel.

“Werksgeleenthede volg daarop en vooruitgang word oor tyd heen opgebou. Ons ondersteun die herstel van die SAOG-tribunaal ten volle, aangesien dit ʼn boodskap aan potensiële donateurs, beleggers en internasionale gemeenskappe stuur dat die regerings van die SAOG werklik verbind is tot die oppergesag van die reg,” sê Masibi.

Suid-Afrika se Konstitusionele Hof het in 2018 beslis dat die Suid-Afrikaanse regering se betrokkenheid by die proses om die tribunaal se werksaamhede op te skort ongrondwetlik, onregmatig en irrasioneel was. Die regsgeding hieroor duur steeds voort.

“Ons het nie die stryd om geregtigheid verloor nie; die bose kry op die ou end nie die oorhand wanneer genoeg mense saamstaan vir dit wat goed en reg en regverdig is nie. Ons is geëerd om deel van so ʼn dinamiese groep rolspelers te wees. Ons staan aan die regte kant van geskiedenis,” sê Freeth.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christine ·

Ek bid en glo en hoop dat dit her ingestel word sodat geregtigheid kan geskied
Sterkte aan almal betrokke

Cassie Carstens ·

Hierdie moet gou van die grond af kom. Hier is te veel vergrype in Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.