Groepe slaags oor Namakwalandse diamante

Delwers by Kleinsee in Namakwaland. Foto: Verskaf

Daar sal na verwagting vandag uitspraak gelewer word oor ʼn hofaansoek van De Beers om mense te verbied om voort te gaan met onwettige delwery in ou slote van die maatskappy by die Namakwalandse dorpie Kleinsee.

Dié onwettige delwery by Kleinsee het reeds verlede jaar begin en sedertdien stroom plaaslike inwoners en fortuinsoekers uit ander provinsies na die gebied in ʼn hoop op kitsrykdom.

Intussen word daar baklei oor wie die onderskeie “delwersgroepe” verteenwoordig en wie nou eintlik hul belange bevorder. Een van dié mense wat die leierskapposisie oor die delwers aan homself wil toe-eien, is Amos Palori, ʼn verteenwoordiger van die Komaggas/Buffelsrivier-gemeenskap. Die ander is Paulus Swartbooi, kaptein van die Boesmans.

Verder word beweer die sogenaamde “delwerskomitee” is nie verteenwoordigend van die gemeenskappe nie. Baie plaaslike inwoners wil weet deur wie en hoe hulle gekies is.

Een van die delwers het anoniem vertel dat Palori en Swartbooi groepe delwers het wat vir hulle delf. “Hierna verkoop hulle agterlangs die diamante aan Portugese. Hulle is skatryk en ry nuwe karre,” sê die delwer.

Jay Dee Cloete, ʼn gemeenskapslid, meen die inwoners van Kleinsee ly die meeste onder die toestroming van onwettige delwers, terwyl faksies onderlangs met mekaar bots en verdeeldheid saai.

Intussen is Swartbooi ook in ʼn bekgeveg betrokke met DA-LP Veronica van Dyk. Volgens Van Dyk het Swartbooi ʼn vete met haar omdat sy vra dat die wet gerespekteer moet word, sodat mense in veiligheid kan delf vir markverwante diamantpryse.

Paulus Swartbooi (met sy rug na die kamera) praat met die delwers by Kleinsee. Foto: Verskaf

AfriForum het ook vroeg vanjaar ʼn haatspraakklag teen Swartbooi ingedien omdat hy glo verskeie rassistiese uitsprake teenoor wit mense op sy Facebook-profiel gemaak het. Hy het glo gesê dat De Beers en “die klomp wit rassiste in Kleinsee” moet skoert.

Die plaaslike inwoners beskuldig intussen vir Swartbooi dat hy daarvoor verantwoordelik is dat “elemente” van oral in die land na Kleinsee gestroom het.

Swartbooi voer aan dat almal wat hier in die diamantbedryf betrokke is “basies smokkelaars is” en dat elke ou met die diamante wat hy opgrawe, kan doen wat hy wil. Hy erken hy het mense van buite die provinsie genooi om “te kom deel in die rykdom van Suid-Afrika”, maar voer aan dit was om ʼn sterker magsbasis te hê om teen die polisie en De Beers se veiligheidsbeampte te baklei wat delwers by Kleinsee in hegtenis wil neem.

Swartbooi sê hy het ook mense genooi om vandag na Springbok op te ruk om die hofuitspraak aan te hoor oor wie toegelaat sal word om op Kleinsee te delf.

Victor Cloete, voorsitter van die Kleinsee Gemeenskapsforum (KGF), sê intussen hy is bitter teleurgesteld in Godfrey Oliphant, die adjunkminister van mineralehulpbronne.

“As regeringsverteenwoordiger het hy mense aangemoedig om onwettig te gaan delf. Dit is niks anders nie as opportunistiese muntslanery uit ʼn plofbare situasie. Dit sal ernstige nagevolge vir die hele Namakwaland inhou,” sê Cloete.

Oliphant het verlede jaar tydens sy November-besoek aan Namakwaland oor die plaaslike radiostasie, Radio NFM, glo gesê dat almal maar kan gaan delf as hulle wil.

Volgens Cloete was die KGF nog nooit teen die delwery nie, maar hulle veg vir ʼn gereguleerde wettige proses, sodat die plaaslike inwoners uiteindelik maksimale voordeel hieruit kan trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Afrikaner ·

Mens weet die adrenalien pomp, maar hou dit net orderlik manne.

Theresa ·

Shame almal is maar desperaat vir klein fonteintjie. Ek sal ook graag daar wil delf..

Kfn ·

Dit is onwettig vir my om goedkoop sigarette by die Pakistanis te koop, maar ok vir hulle om diamante agteraf aan die Portugeuse te verkoop.
Agterstevoor land hierdie.

Karel ·

Dit is onwettig vir my om goedkoop sigarette op die ‘agtergeblewe’ mark by die Pakistanies te koop maar ok vir hulle om diamante agteraf aan die Portugeuse te verkoop?
Lekker deurmekaar plek hierdie.

petra ·

ai ou Kerel, daar out jy jouself….
se groete vir kfn in die spieel

Willie ·

Daai was sper area in die ou dae… jy was geskiet sou jy daar peuter… die ondergang en stropry is maar net op alle vlakke sigbaar

Andre C ·

in die ou dae het die adjunk minister ook nie onwettighede aangemoedig nie.Olifante is anderster as n Oliphant.

Rooibok ·

As onwettige bedrywighede toegelaat word omdat die skurke regte het is die land soos ‘n gebou met gebreukte vensters ….. binnekort word die hele gebou en alles binne in weg gedra.

Wielspore ·

Die besit van mineraal regte op grond is vreemd, volgens wet besit die staat alle regte, hoe is dit moontlik dat De Beers dan sulke regte kan besit.
Ek kan verstaan dat die staat aanspraak kan maak op olie, steenkool en ander grootmaat produkte se regte omdat dit ekonomies tot voordeel van die land is. Maar diamante en ander waardevolle stene, regtig, die persoon wat dit vind of optel moet tog die voordeel daarvan kry.
Sal daarvan hou om my spore tussen die diamante te gaan trap vir so ‘n meevaller.

Nettie ·

Familie van my moes MOEWIESE bedrae betaal vir ‘n konsessie om by Kleinsee te gaan ‘delf’ en word verplig om enige vondse aan De Beers te verkoop – hoekom kan elke Jan Rap en sy Maat nou aanspraak maak op die reg om te gaan grou vir diamante daar en – nog meer – wat máák hulle met enige diamante wat hul vind?

Hennie ·

Waaroor kla De Beers? Hulle is mos die voorlopers van regstellende aksie . . .

P ·

Mense baklei waaragtig oor als in die lewe of jy nou mag of nie dit maak nie saak nie hulle doen net wat hulle wil

Jepetto ·

Praat a rukkie terug met a Namakwalander baie buurstate veral Zimbabwers e Malawiers stroom ook soon toe

Elsa ·

Al hierdie instroming na Kleinsee agter diamante aan, gaan maak dat misdaad in die eens rustige Weskus dorpie toeneem. Ek het oorweeg om vir my daar ‘n huis te koop en my laaste jare daar te gaan bly, maar moes maar van my planne afsien.

C R (Radie) Ferreira ·

Ek wil graag `n epos aan julle stuur (Forward) wat ek aan die Britse Parlementslid , James Rees Mogg, gestuur het na aanleiding van Prof Fransjohan se artikel. Dis nie vir publikasie nie, dis net my kommentaar ter inligting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.