Groepe vir én teen Zuma betoog buite Luthuli-huis

Foto: Twitter via @BraObza_Sibasa.

Verskillende groepe betogers het Maandagoggend buite Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, begin saamdrom.

Een groep is ANC-ondersteuners wat ANC-president Cyril Ramaphosa en “Zuma must fall” ondersteun terwyl die ander ANC-ondersteuners is wat Zuma ondersteun en sê “Hands off Zuma”.

Maroela Media het vroeër berig ʼn #HandsOffZuma-optog word Maandag by die ANC se hoofkantoor beplan, met ʼn teenoptog wat terselfdertyd sal plaasvind. ANC-lede wat die teenoptog ondersteun, het gesê hulle verdedig die party, nie een man nie.

Die ANC het in ʼn verklaring gesê hulle is nie amptelik in kennis gestel van enige betogings onderweg na hul kantore toe nie, maar “vertrou dat alle groepe wat wel gaan betoog die nodige toestemming het”.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale woordvoerder van die polisie, het gesê die situasie is tans nog kalm. “Geen voorvalle van geweld is by ons aangemeld nie. Daar is baie polisie ontplooi,” het hy gesê.

Op Twitter het gebruikers egter video’s gedeel van ʼn Njala-pantservoertuig met ʼn sleepwa vol doringdraad wat by die toneel opgedaag het. Daar was ook ʼn skermutseling tussen ʼn BLF-ondersteuner wat by die toneel opgedaag het en toe weggejaag is deur ANC-lede wat vir hom “f*****f” geskree het.

Lede van Black First Land First het die ANC versoek om Zuma toe te laat om sy termyn uit te dien en het gewaarsku dat ʼn gedwonge uittrede tot maatskaplike onrus en moontlik ʼn burgeroorlog kan lei.

Daar het intussen nog nie ander BLF-lede by die betoging aangesluit nie. Daar is wel gerugte dat groepe BLF-ondersteuners op Ghandi-plein bymekaar begin kom het. ʼn Vragmotor vol BLF-ondersteuners het by die toneel opgedaag, maar is binne minute deur ANC-ondersteuners verjaag.

Die ANC se werkskomitee vergader later vandag by Luthuli-huis oor pres. Zuma se toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hester ·

Die land sal nooit regkom met sulke negatiewetyd nie besluit en hou daar by Ramaposa sal hierfie land regruk nie sois Zuma verkoop nie

Joe Hall ·

Stem saam!
Dis tyt vir positiewietuite en om vi Zoema te vikkoop.

jaco ·

Hoekom is Black First Land First dan eintlik teen Ramaphosa? Hy is dan die een wat openlik gesê het hy gaan wit boere se plase se grond sonder vergoeding onteien. Dis dan wat Black First Land First juis wil hê.

Blits ·

Hulle is n misleidende faksie van die Zuma bondgenote, hulle is daar om zuma te beskerm en gebruik die grond kwessie om aandag af te trek van hulle werklike mandaat

Alida ·

Dit was tjoepstil toe Mbeki gedwing was om te bedank. Hulle maak mens siek.

Flip Pretorius ·

Nee nee Jaco jy is feitelik heeltemal verkeerd. BFLF word deur die Guptas geborg en ondersteun. Zuma is die Guptas se lakei. As Zuma waai, waai die BFLF saam met hom. Kyk die ou groupie is in elk geval so klein. Ek sal verbaas wees as hulle 2 x taxis sal volkry. Hulle betaal mense van die straat af (met Gupta geld) om saam met hulle te betoog en te lawaai. Nee wat laat die klomp van die ANC hulle maar self n pak slae gee

Pottie ·

Die Black First Land First kry seke elke maan so ou ietsie van Zuma af hoe dan nou anders

Houtoog ·

Dis seker eerder ‘lemmetjiedraad’ want ‘doringdraad’ is vir permanente heinings.

Jacques Venter ·

Flip Pretorius
Jy slaan die spyker sekuur op sy kop. Mooi verduideliking.

PJC ·

Ja Flip jy is doodreg. BFLF is ń spul lawaaimakers in diens van JZ met Gupta geld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.