Grond is verdelende kwessie tydens staatsrede-debat

Staatsrede 2018 (Foto: GCIS)

‘n Spertyd vir regstellende aksie sodat wit jongmense nie verdere diskriminasie in die werkplek ervaar nie, was een van die voorstelle wat vanuit die opposisie aan pres. Cyril Ramaphosa gemaak het om die land te verbeter.

Die voorstel het gekom van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, wat die Nasionale Vergadering verstom het deur ‘n deel van sy toespraak in Zoeloe te lewer.

Dit was ‘n dag waarop opposisiepartye probeer het om hul rol aan te pas by die optimisme van die ontluikende Ramaphosa-era, en waarop die grondkwessie – meer spesifiek onteiening sonder vergoeding – weer die meeste emosionele debat ontlok het.

Eerste aan die beurt was die DA-leier, Mmusi Maimane, wat vir die eerste deel van sy toespraak so positief was oor Ramaphosa dat die EFF hom spottend gevra het of hy graag in die Ramaphosa-kabinet wil dien.

Maimane het gewys die DA-positiwiteit oor Ramaphosa het darem nie al die mosterd uit hom gehaal nie toe hy die ANC kaalvuis getakel het oor die ANC-geaffilieerde vakbond Sadou se vernietigende invloed op onderwys.

Hy het ook uitgewys dat die nasionale gesondheidsversekeringsplan tans totaal onbekostigbaar is, dat kaderontplooiing misluk het en dat die kabinet verklein moet word.

Van die kabinet gepraat, as iemand al ooit haarself uit ‘n bevordering uitgepraat het, is dit Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings. Sy het van een punt na die ander gesukkel, heeltemal onpresidensieel oorgekom, bitsig en verveeld gelyk en die vreemde fout gemaak om verkeerdelik te beweer die joernalis Peter Ndoro is afgedank.

Dit was so ʼn mislukte toespraak dat net ‘n wonderwerk Sisulu nog in die stoel van die land se adjunkpresident kan laat bedank wanneer Ramaphosa sy nuwe kabinet na verwagting Donderdag aankondig. Die voorlopers in daardie wedloop om die adjunkpresidensie is nou waarskynlik Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, en Naledi Pandor, minister van wetenskap en tegnologie.

Alle oë was op die EFF-leier, Julius Malema, en op hoe hy die EFF sou posisioneer – nader aan die ANC of nader aan die opposisie.

Hy het begin deur die DA aan te val omdat hulle onteiening sonder vergoeding teenstaan. Volgens Malema kan dit die samewerking tussen die EFF en die DA in metro’s soos Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai bedreig – ‘n onverwagse stelling omdat dit juis een van die aspekte is waaroor die DA en EFF ooreengekom het om te verskil op munisipale vlak.

Malema het gesê die EFF glo nie dat Ramaphosa werklik toegewy is aan onteiening sonder vergoeding nie. Hy het ook gesê al die berade wat Ramaphosa aangekondig het, wys hy het geen plan van sy eie nie.

Malema het gelyk of sy fut ‘n bietjie uit is. Hy het net nege van sy toegewysde veertien minute gebruik. Toe het hy niks meer te sê gehad nie, en gaan sit.

Die IVP-leier, Mangosuthu Buthelezi, het ook op die grondkwessie gefokus. Sy toespraak was perfek gerig op die kiesers van landelike KwaZulu-Natal, waar onteiening sonder vergoeding uiters ongewild is omdat dit die mag van die Zoeloekoning sal ondermyn.

Buthelezi en die IVP sien duidelik potensiële groei in kiesersteun, en presies hoe sekuur Buthelezi se pyl die teiken getref het, was duidelik daaruit dat die adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Mcebisi Skwatsha, onmiddellik gereageer het met ‘n stelling dat geen besluit oor hoe onteiening gaan werk, nog geneem is nie.

So swak as wat Sisulu se toespraak was, so goed was Skwatsha s’n. Moenie verbaas wees om sy naam onder die nuwe kabinetslede te sien nie.

Skwatsha het ‘n goed nagevorste toespraak, waarin hy die verlies van grond deur swart mense toegelig het met taamlik ysingwekeknde voorbeelde aangehaal uit die dagboek van oudpres. Paul Kruger van die ZAR. Terselfdertyd het hy die grootste deel van sy toespraak gewy aan ‘n oproep dat die oplos van die grondkwessie verantwoordelik gedoen moet word, en nie op ‘n manier wat nasiebou sal ondermyn nie.

Cope se leier, Mosiuoa Lekota, het die koppe laat draai toe hy hom uitgespreek het teen onteiening sonder vergoeding, omdat dit ongrondwetlik sal wees. Hiermee het die ACDP-leier, eerw. Kenneth Meshoe, akkoord gegaan.

Uit die aggressiewe reaksie op Lekota uit die geledere van die EFF en ANC – en die vurige steun vir Lekota se uitsprake ten gunste van die Grondwet van die DA en die IVP – was dit weer duidelik dat grond die potensiaal het om die mees prominente en verdelende politieke kwessie van die jaar te wees.

Ramaphosa sal môre op die debat antwoord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stan ·

Dit wil voorkom of grondhervorming onafwendbaar is. Met klimaatsverandering en sosioekonomiese spanning stuur dit op ‘n ramp af! Sterkte aan Suiderlike Afrika. Magsbeheptheid gaan sy tol eis en dan is dit te laat.

Chris ·

Lekota slaan die spyker so op sy kop.Jammer dit word nou n stryd om stemme vir die vekiesing te probeer wen.Leer ons mense niks?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.