Grondbesetters in Marikana eindelik verwyder

Foto: AfriForum

Foto: AfriForum

Grondbesetters in Marikana is Woensdag verwyder nadat ʼn uitsettingsbevel verkry is om hulle van die grond, wat in private besit is, af te kry.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Vrydag die bevel in die hooggeregshof in Mafikeng bekom. Marcus Pawson, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Noordwes, het gesê teen Vrydag het die grondbesetters drie strukture op ʼn groot gedeelte van ’n stuk private eiendom in Marikana opgerig.

Die verwagting was dat die balju Maandag die bevel sou uitvoer, maar dit het nie gebeur nie. AfriForum het ingegryp en teen Woensdag is die balju saam met polisiebeamptes na die gebied om die onwettige besetters te verwyder. “Die probleem is dat die getal strukture binne vyf dae van drie tot 57 gegroei het,” het Pawson gesê.

“AfriForum kan bevestig dat die spesifieke besetting deur die EFF gekoördineer is, met me. Kgolisa Bangala as die besettingskoördineerder. Bangala was in beheer van die erfmetings op die private grond.”

Kgolisa Bangala. Foto: AfriForum

Kgolisa Bangala. Foto: AfriForum

Pawson het gesê die polisie moes al Saterdag opgetree het toe die klag van betreding deur die grondeienaars gemaak is. “Dit is as gevolg van die polisie se nalatigheid dat die besetters se getalle toegelaat is om – met die EFF se ondersteuning – te groei,” het hy gesê.

Volgens Pawson is dit tragies dat families wat na die EFF geluister het geld moes bestee om die nuwe strukture op te rig.

“AfriForum sal nou sy regspan opdrag gee om die moontlikheid te ondersoek vir ʼn nasionale bevel om die EFF te verhoed om verdere besettings te propageer of te ondersteun. Dit is veral belangrik nadat die EFF volgens mediaberigte tydens hulle kongres in Januarie ʼn beleid aanvaar het om grond te gryp,” het Pieter Rautenbach, AfriForum se algemene raadgewer vir takke, gesê.

“AfriForum beoog om ook teen die SAPD op te tree nadat die polisie nie wet en orde toegepas het soos wat die Wet op Oortreding vereis nie. Om die betreders te verwyder, kos nou duisende rande ekstra, wat AfriForum nou van die polisie gaan terugeis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pop ·

Wat sal ons tog doen sonder afriforum!!! Mense julle moet hulle ondersteun, knyp n bedrag maandeliks af. Al die baklei vir geregtigheid kos geld!!!

CHRISTA ·

JA! As AfriForum ook teen die polisie begin optree, sal hulle minister uit haar diepe slaap ontwaak en SORG dat wetgewing behoorlik deur haar onderdane toegepas word!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.