Meer as 1 000 grondbesettingsvoorvalle het die afgelope jaar op munisipale grond van die Kaapstad-metro plaasgevind.
Pogings om grondbesettings te probeer keer het die provinsiale departement van menslike nedersettings sedert die 2018-’19-boekjaar reeds R269 miljoen uit die sak gejaag.
Volgens Matlhodi Maseko, lid van die Wes-Kaapse wetgewer, het antwoorde op parlementêre vrae aan die lig gebring dat daar sedert Maart verlede jaar altesaam 1 025 gevalle van grondbesetting was op grond wat deur die Stad Kaapstad besit word.
“Grondbesettings is ʼn volgehoue probleem in die Stad Kaapstad en in die Wes-Kaap as geheel,” sê Maseko. Enkelinge en groepe is dikwels, wanneer hulle grond beset, onbewus daarvan dat baie van die grond nie geskik is vir behuisingsontwikkeling nie.
Maseko sal versoek dat die Stad Kaapstad asook die provinsiale departement van menslike nedersettings die komitee oor grondbesettings kom inlig oor maniere waarop hierdie misdadige aktiwiteite in die toekoms versag kan word. “Begunstigdes wat geduldig op hul beurt gewag het, moet nie verder op die lys afgedruk word deur mense wat probeer om voor in die ry te kom nie.”
Daar was sedert Maart verlede jaar ʼn toename in die aantal georkestreerde grondbesettings oor die provinsie en die provinsiale departement van menslike nedersettings moes in die afgelope boekjaar R54 miljoen bestee om grond te beskerm.
“Georkestreerde grondbesettings word dikwels gebruik as ʼn manier om hoër op die waglys vir staatsgesubsidieerde huise te skuif ten koste van bejaardes, gestremde mense, militêre veterane en mense wat al langer as 15 jaar vir behuising wag,” het Maseko gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
7 Kommentare
Wie is almal “militêre veterane”?
Die regering werk daaraan om die Kaap af te breek en/of in hul beheer te kry. Laat die Kaap weer op sy eie wees nadat dit deur Britanje so bietjie meer as ‘n honderd jaar saam met die ander dele van SA ‘n unie gemaak het. Maak die Kaap onafhanklik.
En sodra die riviere weer afkom in reenseisoen, moet die lot weer gered word.
Vreemd dat Wingfield en farm 757 in Ottery nog nooit beset is nie. Dis reusagtige stukke oop, onbenutte staatsgrond wat aan die nasionale departement van openbare werke (by implikasie die ANC) behoort. Geen plakkers daar nie. So net provinsiale grond en grond van die stad Kaapstad mag beset word, want dis onder beheer van “die rassistiese DA” em die DA mag ook niemand uitsit nie, want dan bewys dit glo hoe rassisties die DA is.
Lekker mag mos doen net wat hul wil, geen wet in ons land.