Grondboontjiebotter: Ondersoek ook na ander produkte uitgebrei

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die nasionale verbruikerskommissie doen nou ʼn beroep op alle vervaardigers van  grondboontjiebotter, grondboontjiebotter-gebaseerde produkte en produkte met grondboontjies in om hul produkte na te gaan vir moontlike verhoogte vlakke van aflatoksien. Die produkte sluit ook in sjokolade, lekkers, koekies, roomys en grondboontjiebotter-smeersels.

Die oproep kom nadat verskeie verskaffers die afgelope maand hul grondboontjiebotterprodukte inderhaas van winkelrakke moes verwyder het nadat bevind is dat die produkte hoër as gereguleerde vlakke van aflatoksien bevat.

Dit maak dit ongeskik vir menslike verbruik.

Woolworths en Eat Naked was van die jongste verskaffers om hul grondbootjie-handelsmerkprodukte te onttrek nadat hulle gevind het dat ook dié produkte hoër as gereguleerde vlakke van aflatoksien bevat.

Woolworths se tweeliter-grondbootjieroomys (strepieskode 6009211273436) sowel as Eat Naked se sogenaamde grondbootjiebotter-sakkies en grondbootjiebotterkoppies is gevolglik onttrek.

Pick n Pay onttrek dié grondboontjiebotterprodukte. Foto: Pick n Pay)

Pick n Pay het ook begin vandeesmaand noodgedwonge drie grondboontjiebotter-handelsmerkprodukte – No Name Smooth Peanut Butter, Eden Smooth Peanut Butter en Eden Crunch Peanut Butter – onttrek weens hoër as gereguleerde vlakke van aflatoksien.

Dischem het kort daarna aangekondig dat sy Lifestyle (400 g Smooth and Crunchy) Lifestyle (800 g Smooth and Crunchy), Wazoogles Superfoods (alle groottes; 32 g tot 20 kg), Pick n Pay No Name (1 kg smooth) en Eden All Natural óók van winkelrakke verwyder moes word.

Maroela Media het vroeër berig die Pick n Pay- produkte en Dischem se Lifestyle-produkte word landwyd versprei, terwyl Wazoogles Superfoods se produkte hoofsaaklik in die Wes-Kaap versprei word.

Thezi Mabuza, waarnemende nasionale verbruikerskommissaris, sê die kommissie is bekommerd oor die hoeveelheid grondboontjieprodukte wat die afgelope ruk noodgedwonge onttrek moes word.

(Foto: Verskaf)

“Om hierdie uitdaging beter te begryp het die kommissie ʼn kennisgewing ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming aan vervaardigers en verskaffers van grondboontjiebotter uitgereik.

“Die kennisgewing vereis dat verskaffers onmiddellik dringende ondersoek instel, hul produkte vir aflatoksien toets en hul resultate binne 14 dae na ontvangs van die kennisgewing aan die kommissie verskaf.”

Mabuza sê terwyl die vervaardigers hul produkte ondersoek, word vervaardigers, invoerders en kleinhandelaars versoek om dadelik regstellende maatreëls te neem waar gevind word dat hul produkte onveilig is.

Aflatoksien is ʼn gifstof wat deur sommige soorte muf afgeskei word.

Mabuza sê die inname van produkte met hoër as aanvaarbare vlakke van aflatoksien, kan verskeie gesondheidskomplikasies tot gevolg hê, waaronder naarheid, braking en maagpyn.

Suid-Afrikaanse verbruikers wat produkte gekoop het wat nou onttrek is, word versoek om die gebruik daarvan dadelik te staak en die produkte terug te neem na die winkel waar hulle dit gekoop het vir ʼn volle terugbetaling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet parys ·

Eerstens toets jy die produkte en dan plaas jy dit in die mark en nie anders om nie . So vernietig die staat boerdery en al die werkers kry dan sassa maar dis wat hulle wil hê..BEHEER ALLES OF VERNIETIG ALLES . .

Pieter ·

en so wordo ns stelselmatig vergiftig, want daar bestaan lyk my nie meer so iets soos quality control nie.

Jsgroen ·

@Pieter. Wat is nog kwaliteit vandag? Letterlik gemors kos wat ‘n fortuin prys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.