Grondeienaars ‘staan gereed’ vir grondbesetters

Inwoners van kleinhoewes in Knoppieslaagte, Timsrand en Mnandi buite Centurion vrees vir hulle lewens, maar is slaggereed indien opstandige grondbesetters weer op hulle wil toeslaan.

Onwettige grondbesetters het verlede week sowel as vroeër vandeesweek amok in die omgewing gemaak deur infrastruktuur te brand en paaie te versper. Dit volg nadat ʼn uitsettingsbevel toegepas is wat hulle dwing om die grond te verlaat.

“Die situasie bly gespanne en inwoners staan gereed vir ʼn volgende aanval. Ons kry meer en meer dreigemente,” sê Lukas Olivier, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Olievenhoutbosch en grondeienaar in die gebied.

Die besetters het in Augustus verlede jaar ʼn stuk grond in die omgewing – van sowat 180 ha – betree en met verloop van tyd 6 000 tydelike wonings opgerig. Die eienaars het hulle na die hof gewend en in November is uitspraak gelewer dat dié besetters nie plakkersregte het om die grond te beset nie en dat hulle verwyder moet word.

Die inwoners is Maandag deur die GPF in kennis gestel om hul huise te ontruim weens gewelddadige betogings deur die grondbesetters. Die meeste inwoners het besluit om te bly en hul grond, besittings en diere te beskerm.

“Dit is ons huise en ons sal dit nie verlaat nie, hoewel ons vir ons lewens vrees en nie weet wat volgende kan gebeur nie,” vertel ʼn inwoner op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media.

Behalwe vir die GPF en verskeie sekuriteitsmaatskappye wat op gereedheidsgrondslag geplaas is, is daar ook tans sterk polisieteenwoordigheid in die omgewing.

Ná onderhandelinge en versoeke deur die DA aan die Gautengse provinsiale polisie is bykomende hulpbronne en nog openbare orde- polisiëringsbeamptes Donderdag ontplooi om die polisie van Olievenhoutbosch op die toneel by te staan.

“Inwoners sal uiteindelik ʼn sug van verligting slaak met die wete dat daar hoë polisiesigbaarheid en openbare orde- polisiëringsbeamptes is, te midde van die onlangse wisselvalligheid en geweld weens onwettige grondgrype,” sê Crezane Bosch, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in Gauteng.

Bosch sê die Olievenhoutbosch-polisiestasie het die DA verseker dat hulle ʼn gedetailleerde operasionele plan gereed het om die veiligheid van die gemeenskap te verseker. Die stasie het ook voldoende hulpbronne om die gebied en sy omgewing te monitor om verdere vyandigheid, geweld of aanvalle op die gemeenskap te voorkom.

“Die eiendomsreg van die private grondeienaars, soos verskans in die Grondwet, moet gehandhaaf en beskerm word. Die DA sal voortgaan om die situasie te monitor en die plaaslike belanghebbendes en wetstoepassingsagentskappe te betrek om ondersteuning te verskaf wanneer nodig.”

Die DA doen ʼn beroep op lede van die gemeenskap om nie reg in eie hande te neem nie en om kalm en waaksaam te bly en enige verdagte gedrag onmiddellik by die polisie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Die land is een groot PLAKKERSKAMP danksy die ANC! Hulle moet by die Minsters se huise gaan plakkerskampte opslaan dat ons sien hoe lank gaan dit hou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.