Grondeiser “boer met mense”

Argieffoto

Argieffoto

Die hoofman van die Mhlongo-stam het boere in die Carolina-omgewing in Mpumalanga warm onder die kraag omdat hy grond wat deur ʼn grondeis bekom is, na bewering aan plakkers verhuur en nie daarop boer nie, het Beeld Woensdag berig.

Hoofman Reuben Ndlovu Dlangamandla verhuur glo erwe op die plaas Kromkrans vir so min as R100. Volgens een van die inwoners is niemand wat daar bly van die Mhlongo-stam nie.

“Dit was nooit ʼn plaas nie. Ons verskaf ʼn blyplek aan diegene wat sonder ʼn heenkome is,” het Dlangamandla gesê.

Boere op omliggende plase beweer hulle het reeds miljoene rand se skade gely weens veldbrande en veediefstal. Die grond is glo ook net vir landboudoeleindes om voedselsekerheid te verseker.

Danie du Plessis, streekvoorsitter van die TLU-SA in die provinsie, het gesê onderverdeling van landbougrond is onwettig tensy ʼn aansoek vir hersonering ingedien is.

ʼn Verslag oor grondhervorming op dié plaas wat in 2003 uitgereik is, het aangedui dat die grond vir landboudoeleindes soos weiding, veeboerdery en gewasseproduksie gebruik sou word.

Die provinsie se grondeisekommissaris was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Volgens die TLU misluk tussen 80% en 85% van alle plase wat deur grondeise bekom is. Dit is in teenstelling met swart boere wat self die grond aangekoop het, waarvan 95% van dié boere suksesvol is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jb ·

Dit gebeur as jy iets verniet kry en nie gewerk het daarvoor nie!! Waardeer niks nie! Gaan beslis al meer en meer gebeur!!!!

m ·

Hier in Hectorspruit is ‘n beesplaas ook nou ‘n woongebied met onwettige behuising. Erwe is teen R1000 stuk verkoop. Water word van die dorp af aangery met onpadwaardige voertuie. Misdaad het ook toegeneem. Onwettigie en onveilige toegange direk op die N4, waar aansoek gedoen moet word deur wettige besighede vir toegang tot die N4 is die sommer net daar en niks word daaraan gedoen nie.

Melissa ·

Nou ja, wys jou net, dit is presies wat hulle wil doen met grond (die wat grondeise instel). Hulle wil nie vir die land of nasie boer nie, hulle wil net daar bly en vir hulleself en klein family sorg van dag tot dag, of geld maak van ander mense af wat daar kom bly. En hoe meer daar bly, hoe beter is dit vir hulle!

Dié wat WIL boer, koop hul eie plase en maak sukses daarvan! As al die grond net so weggegee word aan almal soos wat MALema wil hê, is hierdie land gedoom en dan kom daar wraggies ‘n oorlog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.