Grondgrype: Polisie en Tshwane-metropolisie moet opdok

hof-hamer

Argieffoto.

AfriSake, in samewerking met sy regspan, het onderskeidelik op 31 Augustus en 1 September drie finale hofbevele bekom om te verhoed dat enige onwettige betreders grond in gebiede in Pienaarspoort en Bronkhorstspruit betree.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens asook die Tshwane-metropolisie is ook gemaan om grondeienaars in hierdie verband by te staan soos uiteengesit in die Grondwet en die Wet op Suid-Afrikaanse Polisiediens (no. 68 van 1995). Die regter het ook ’n kostebevel in die guns van AfriSake en die grondeienaars toegestaan.

Die sukses kom na aanleiding van drie dringende interdikte waarmee AfriSake verskeie grondeienaars in dié gebiede oor die afgelope 12 maande bygestaan het.

“Ons is bly dat die polisie en die metropolisie aanspreeklik gehou word vir die koste. Die staat het ál drie die aansoeke teengestaan omdat hulle meen dat dit ongegrond is. Die regter se uitspraak beteken dat die staat in die toekoms gaan sukkel om in soortgelyke sake te seëvier. AfriSake oorweeg dit ook om ’n siviele eis teen die staat in te stel nadat ons met ons regspan oorleg gepleeg het,” het Charles Castle, bestuurder van die arbeidsregadvieseenheid by AfriSake, gesê.

“Grondeienaars moet aanhou teëstand teen ongegronde grondgrype bied en die regte prosesse volg om te verseker dat hul eiendomsreg doeltreffend beskerm word,” het Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik ·

Dit is goed dat die hof dit besluit het maar as jy sien wat in Pienaarspoort aangaan en wat die SAPD en Metropolisie doen/of bereid is om te doen om hulle te beskerm, beteken hierdie hof bevel maar niks.

Leon ·

Alles goed en wel dat die polisie en die Metro polisie gaan moet betaal………………..net jammer daai geld word deur ons belasting betalers betaal, so ons betaal weereens vir ander se opneuk!!

Riaan ·

Baie goeie nuus! En dit boonop so voor die naweek. Mense is so geneig om die goeienuus te ignoreer en te fokus op die slegte.

Piet Snot ·

Maroela, gee asb mettertyd meer detail.
Op grond waarvan, meen Afrisake, kan ‘n siviele eis teen die Staat ingestel word? Watter skade is gelei, en hoekom is die Staat daarvoor aanspreeklik?
Baie interessant.

Boontjie ·

Het julle al gesien hoe lyk dit by Waaikraal tussen Bronkhorstspruit en Delmas waar daai nuwe nedersetting onlangs gebou is? Vieslik vuil, rommel orals gestrooi en die rivier is seker nou besoedel!! Hoekom ‘n nedersetting daar bou as daar nie infrastruktuur is om ten minste van die rommel ontslae te raak nie? Nou word alles net daar in die pad gegooi om te waai en te bly le waar dit wil. Watse siektes gaan nie nou alles daar uitbroei nie?? Daar is krag maar is daar toilette?? Ou rommel karre sukkel ook om hul wegtrek daar te kry in aankomende veerkeer in, wanneer gaan daar ‘n helse ongeluk wees? Wat ‘n gemors van ‘n voorheen pragtige area.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.