Grondgryppoging in Witrivier afgeweer

Die polisie op die toneel. Foto: Verskaf

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Sondag in samewerking met die polisie gehelp om grondgrypers te verhoed om privaat grond in die Witrivier-omgewing in Mpumalanga onregmatig te beset.

Hillel Coetzer, AfriForum se streeksveiligheidskoördineerder vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga (Noord-Streek), het Maandag aan Maroela Media gesê ʼn groep van sowat 300 grondgrypers het omstreeks 11:00 opgeruk en begin om ʼn boer van die omgewing se grond onregmatig te beset.

“Daar is gepoog om die groep te verhoed om die grond te beset, waarna daar ʼn brand op die plaas gestig is,” het Coetzer gesê.

Devon McCullough, die voorsitter van AfriForum se Nelspruit-buurtwag, het die boer na die naaste polisiestasie vergesel om ʼn saak van betreding aanhangig te maak, terwyl Joe Pelser, die voorsitter van AfriForum se Witrivier-buurtwag, die buurtwaglede gekoördineer het om saam met die brandweer die brand te bestry.

“Die buurtwaglede het verhoed dat enige diere naby die brand kom. Die brand is later onder bedwang gebring sonder ʼn verlies aan lewe of enige skade aan strukture. Die boer het wel baie voer en weiding verloor,” het Coetzer gesê.

Die grondbesetters is teen sowat 17:00 deur voortgesette pogings van die polisie en AfriForum van die gebied verwyder.

Kol. Mtsholi Bhembe, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Hy het gesê nege mense is tydens die voorval in hegtenis geneem op aanklagte van betreding en opsetlike saakbeskadiging. Die polisie het ook tydens die voorval beslag gelê op ʼn bakkie wat glo gebruik is om dié misdrywe te pleeg.

Die nege verdagtes sal na verwagting vandag in die Witrivier-landdroshof verskyn.

“Grondeienaars word aangeraai om by georganiseerde instellings soos AfriForum aan te sluit sodat ons in samewerking met grondeienaars hul eiendomsreg kan beskerm. Ons gemeenskappe kan hierdie tipe misdade teenstaan deur hulself te organiseer en die regte stappe te volg tydens hierdie voorvalle. Ons moet eenvoudig net gereed wees om binne die raamwerk van die wet op te tree, om te verseker dat ons ons gemeenskappe kan beveilig,” het Coetzer bygevoeg.

“Ons moedig die publiek aan om betrokke te raak by jou plaaslike buurtwagte of veiligheidsinstansies om jou veiligheid te prioritiseer,” het Llewellynn Hemmens, koördineerder vir die Noord-Streek, gesê.

AfriForum het die polisie se openbare orde-eenheid, blitspatrollie en honde-eenheid vir hul optrede en vinnige reaksie bedank. Die organisasie het ook die brandweer, ander buurtwagte en veiligheidsinstansies bedank wat betrokke was.

Die polisie op die toneel. Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anoniem ·

Ons kan lekker saamwerk as ONS wil ! ! ! Goed gedoen en baie geluk aan almal wat gehelp het en dat daar geen lewensverlies is nie ! ???

Paul ·

En die ANC-regering moedig grondgryp aan. Die nuwe gonswoord is ‘grondgryp’, dit val sagter op die oor, en een van die dae beslis die grondwethof ten gunste daarvan.

Skokkend ·

Hoe gaan ons ontwettige grondvergrype na Augustus as die grondwet verander het keer? Die mense het heeltemal ‘n verkeerde idee van grondonteiening sonder vergoeding .. dit gee die STAAT die mag om grond te onteien, NIE vir tshepo, mopyane of grietjie nie … MAAR die wet gaan dit nou so maklik maak vir hierdie mense om die allervreeslikste goed aan te vang ..

Keerwal ·

Ons sal dit nie toelaat nie, onder geen omstandighede gaan ek net wegloop van dit wat ek my lewe deur voor gewerk het om iewers in armoede haweloos te wees nie.

jaco ·

afriforum doen privaatvervolgings vir allerhande nonsens sake wat NIKS met plaasbesettings en ander bedreigings (plaasaanvalle, regstellende aksie) teen ons mense te doen het nie. Selfs n absurd geval van dieremishandeling. Is mishandeling van ons eie mense nie belangriker nie? So as al hulle geld op hierdie privaatvervolgings oor nonsens uitgegee word, wat bly dan oor om ons mense te help met gevalle waar ons regtig bedreig word?

Eish ·

Ek dink weer hul buig agteroor ten einde so akkommoderend moontlik te wees. Dis plaasgrond, so waar is die landbou organisasies? Dit is hul lede wat betrokke is en die Vader weet, indien dit nie vir Afriforum was nie!

Eish ·

Sterkte vir julle. Veral wanneer die weermag op jul toesak soos reeds in die Vrystaat gebeur het.

Lynette ·

Duidelik behoort Jaco nie aan AfriForum nie anders sal hy nie sulke nonsens praat nie!

Nettie ·

@Lynette, Jaco praat die harde, duidelike waarheid. Ek is lid van Afriforum en voel op hierdie stadium baie lus om my lidmaatskap op te skort, want Afriforum en Adv. Nel is soos twee “bull dog puppies” – baie blaf, maar min byt.

Hulle vervolg ‘privaat’ – nadat ‘n nolle prosecui sertifikaat bekom is …. Ja, nè? Wie hét hulle dan nou al suksesvol ‘privaat’ vervolg. huh? Afriforum raas, blaas en steun, maar verder …. wel, verder kry hulle maar min uitgerig.

Vat eerder al daai geld wat so na Afriforum se kant toe gegooi word, stig ‘n fonds en help mense om uit hierdie godsverlate gemors van ‘n land te kom – dán help julle regtig!

Boer ·

Almal van julle hierbo wat wil weghardloop is die rede hoekom die land is waar hy is…omdat lafharte en hensoppers soos julle in ons midde is….vat liewer julle goed en trek sodat die wat n verskil wil maak hier kan bly om dit te doen. Ons Boere het genoeg vyande…ons het dit nie van ons eie mense ook nodig nie. Die van julle wat sal staa en veg waarvoor ons voorvaders geveg het…ek staan saam met julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.