Grondhervorming alleen sal mense nie ophef nie

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Die opvatting dat grondhervorming alleen sal lei tot die opheffing van mense, is ʼn illusie gelykstaande aan die sprokie van Alice in Wonderland.

Só sê Armand Cloete, VF Plus-LP in die Vrystaat, ná ʼn debat in die Nasionale Raad van Provinsies. “Dit wys ook hoe die ANC vaskleef aan ideologiese illusies eerder as om die harde realiteit van Suid-Afrika se probleme te erken.”

Cloete meen die blote besit van grond sal nie welvaart of gelykheid skep nie. “Kwessies soos werkskepping en ekonomiese groei moet eerder aandag geniet. Die kwessie van grond is vir die ANC ʼn bruikbare, maar gevaarlike populistiese wapen en die ware probleme word geïgnoreer.”

Hy voeg by die aangeleentheid wys hoe ver die ANC-regering uit voeling is met die gevoel van die breë publiek, aangesien ʼn meningsopname van die Instituut vir Menseregte (IMR) aangetoon het dat ekonomiese groei die enkel grootste saak is wat die publiek wil hê die regering moet aanpak.

“Die mite dat mense grondhonger is en blote grondbesit beskou as ʼn middel tot regstelling en opheffing, word nêrens beter geïllustreer nie as deur grondeisers self wat in 93% van alle gevalle van suksesvolle grondeise, geld bo grond verkies. Die EFF het die populistiese kwessie van grond begin en die ANC moes die EFF na die kroon steek oor die aangeleentheid om verlore kiesers terug te wen.”

Cloete sê die ANC-regering is boonop nie in staat om grondhervorming in Suid-Afrika suksesvol deur te voer nie. “Sowat 20 000 eise van die eerste grondhervormingsprogram wat in 1994 begin is, is nog nie afgehandel nie. Slegs ʼn onbeduidende aantal private mense het in die 26 jaar sedert die proses van restitusie in 1994 begin het, besitreg verkry. Dit is hoofsaaklik tradisionele leiers en gemeenskaplike eiendomsverenigings beskore.”

Volgens hom is dit vandag ʼn bewese feit dat tussen 70% en 80% van alle grondhervormingsprojekte onder die ANC misluk het. “Hierdie projekte het grootliks ʼn teelaarde vir korrupsie geword. Dit kan nie so voortgaan nie.”

Die grondkwessie kan wel suksesvol behandel word deur ongebruikte staatsgrond vir grondhervorming aan te wend en besitreg aan eisers oor te dra, voeg hy by. “Privaateiendomsreg moet beskerm word en onteieningsmagte moet by howe gesetel wees. Onteiening moet in openbare belang en teen markverwante vergoeding geskied en produktiewe landbougrond moet ten alle koste beskerm word. Die debat oor grond in Suid-Afrika met eerder fokus op maniere om grond aan te wend om die ekonomie te laat groei en werk te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Louis ·

Die waarheid was nog nooit ‘n leuen nie. Kort en kragtige berig, dankie!

Gail ·

Ek glo dat Cyril Rhamposa gaan die regte ding doen. Ons hoef nie bekommerd te wees nie. Hy noem in die openbaar “land grabs” is illegal.
Dit beteken dat hy nie aan private grond gaan raak nie. Sovêr doen ons President die regte dinge. Ons moet vertroue in hom hê
.

Frederik C ·

‘n Kommunistiese regering, wat die besitreg van staatsgrond aan privaat persone oordra, sal nooit, nooit gebeur nie.

Rose ·

Opheffing. Ek dink nou terug aan n paar jaar gelede toe my pa nog gelewe het, Omdat hy baie lief was vir lees het hy heelwat ou koerante, tydskrifte en plakboeke opgegaar. Onder andere het hy n koerante by iemand gekry wat baie oud was. die papier was gedeeltelik verbrokkel. Elkeen was opgerol en sorgvuldig toegedraai in n plastiek sakkie. Die voorblaaie het ook berig van probleme ens, en iewers elders was n beriggie wat se hoofopskrif gelees het ; ”Opheffings werk gaan voort onder die naturelle”. Ook n vreemde woord vir my gewees. So die opheffings werk, wat dit ookal behels het, het daardie tyd al plaasgevind. (Die koerante was regtig oud, in die advertensies was geldeenhede aangedui as pennies of sjielings ek ken glad nie die ou eenhede nie. )

daniel ·

Die grondgrype van die ANC is maar net nog n manier om die korrupsie en selfverrykings veld te vergroot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.