Grondhervorming ‘nie prioriteit’ in verkiesing

Die verkiesing is op hande en die uitslag gaan bepalend wees vir die groei, transformasie en volhoubaarheid van Suid-Afrika – en uiteraard die landboubedryf.

Kommer oor die toekoms van dié bedryf is Woensdag by die 56ste Nampo Oesdag uitgepluis in die “Nasie in gesprek” reeks met Waldimar Pelser, direkteur van KykNET-kanale by MultiChoice, as gespreksleier.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz; Moeletsi Mbeki, politieke ontleder; Isaac Matshego, hoofekonoom van Nedbank; en JP Landman, politieke en ekonomiese ontleder, het aan dié gesprek deelgeneem.

Pelser het verskeie vrae vir die paneel gehad.

In antwoord op ʼn vraag oor hoekom die ANC-regering hom tans oor die landboubedryf – en spesifiek kommersiële boerdery ontferm – was Matshego se antwoord dat die regering op die een krisis ná die ander kapitaliseer.

“Die regering mors nie ʼn goeie krisis nie,” het hy geskerts.

Hy sê altesame R943 miljard is vir die volgende drie jaar vir infrastruktuur, onder meer elektrisiteit, paaie en water, begroot.

“Hierdie infrastruktuur is van kritieke belang vir die sukses van ons landboubedryf.”

Matshego sê ook hy hoop die verkiesing bring verandering mee sodat die foute van die verlede nie herhaal word nie.

Pelser het opgemerk dat die landboubedryf die afgelope jare toenemend koppe met die regering gestamp het oor grondhervorming, veral onteiening sonder vergoeding, en wou by Sihlobo weet of die verhouding tussen die landboubedryf en die regering intussen verbeter het.

Hy meen dit het wel verbeter.

“As ons aan grondhervorming dink, glo ek almal in die landboubedryf sal saamstem dat dit wel nodig is. Daar was egter ʼn probleem oor hoe daar beplan is om grondhervorming deur te voer.

“Onteiening sonder vergoeding is ʼn bekommernis vir baie, maar as ons na die onlangse verlede kyk sal jy opmerk dat talle in die landboubedryf aan die landbou- en landbouverwerkings-meesterplan deelgeneem het. Hierdie meesterplan takel ongeveer 70% van die probleme in die landboubedryf en ek dink dit is ʼn bewys dat die verhouding tussen die bedryf en die huidige regering wel verbeter het.”

Die president het onlang in ʼn toespraak bevestig dat 25% van Suid-Afrika se grond nou aan swart boere behoort.

Sihlobo het egter benadruk dat 2,5 miljoen ha grond wat in sogenaamde “swart besit” is, aan die staat behoort.

“As hierdie grond geprivatiseer word, kan beduidende verbeterings in die bedryf plaasvind.”

Volgens Mbeki is grondhervorming egter nie nodig nie omdat die landboubedryf in Suid-Afrika reeds aan die dryfvere vir grondhervorming – sonder die regering se inmenging – voldoen.

Sihlobo meen egter dat raskwessies as deel van die dryfvere vir grondhervorming gesien moet word.

“Gegewe Suid-Afrika se historiese konteks en omdat minder as 10% van die land se kommersiële boere swart is, moet grondhervorming wel plaasvind. Selfs belangriker is dat die grond wat tans in staatsbesit is, deur grondhervorming in volle produksie geplaas moet word sodat verdere groei en werkskepping in die landboubedryf kan plaasvind.”

Landman het gesê Suid-Afrika se landbousektor is reeds van wêreldgehalte. Hy het ook saam met Sihlobo gestem dat grondhervorming weens Suid-Afrika se geskiedenis wel noodsaaklik is.

“Ons het vir omstreeks ʼn eeu in ʼn land van ongelykheid geleef en dit moet doodeenvoudig reggestel word.

“Grondhervorming in die land gaan oor gelykheid, nie oor doeltreffendheid nie. Ons het reeds ʼn wêreldklas landbousektor, ons moet dus net die kwessie van gelykheid regstel.”

Hy meen egter dat grondhervorming nie in die komende verkiesing vir die regerende party ʼn prioriteit soos in die verlede is nie en dat dit ook boekdele spreek van hoe die verhouding tussen die landboubedryf en die regering verander het.

Sommige kenners is egter van mening dat die verkiesingsuitslag kan aanleiding gee tot ʼn beter ruimte om landbousake te doen.

Die landboubedryf speel ʼn kardinale rol in die vorming van die politieke agenda en grondhervorming en onteiening sonder vergoeding was in die 2019-verkiesing ʼn besonder groot kwessie. Volgens kenners fokus politieke partye vanjaar egter eerder op kwessies soos beurtkrag, algemene dienslewering en vervalle infrastruktuur.

Hoewel hierdie kwessies ʼn beduidende rol in die sukses van die landboubedryf speel, blyk dit volgens Johann Kotzé, uitvoerende hoof van Agri SA, dat vanjaar se verkiesing minder op die landboubedryf gefokus is.

Die landboubedryf funksioneer in ʼn hoogs komplekse sosio-ekonomiese omgewing; die rede hiervoor is dat verskeie kulture deel van die bedryfswaardeketting vorm.

“Daar is egter ʼn kans dat die landboubedryf verder gepolariseer kan word. Die landboubedryf is reeds polities verdeeld met verskeie politieke partye met verskillende manifeste en mandate. Die neiging dat die landboubedryf vir politieke gewin gebruik word, is ongelukkig ʼn gegewe,” sê Kotzé.

“Ek hoop dat ons ʼn vreedsame verkiesingsdag op 29 Mei sal hê. Die landboubedryf moet nou saamstaan en saam werk en ons moet alles in ons vermoë doen om ons land te bly dien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Asseblief mense, KRY END met landbouskoue en TV reekse op Kyknet en Via oor landbou en suksesvolle wit boere. Al dié goed stel ons net onnodig bloot en “merk” ons net. ‘n “Lys” kan dus nou al saamgestel word vir wie eerste slagoffers van onteiening sonder vergoeding sal wees.

JohanR ·

Verbaas ou Ramaphosa het nie hier ook ‘n dokument geteken nie!

Ronél ·

Dis ‘n sluimerende kwessie wat haat nog meer gaan aanblaas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.