Grondhervorming: SA’ners sal bloot huurders wees

(Argieffoto: Morné van Rooyen)

Indien onteiening sonder vergoeding goedgekeur word, sal Suid-Afrika ʼn veel hoër prys betaal as wat die Covid-19-pandemie en selfs die onlangse onluste die land en sy inwoners gekos het.

Só het dr. Mimmy Gondwe, die DA se skaduminister van staatsdiens en administrasie, Woensdag tydens die party se nasionale beraad oor grondhervorming in Suid-Afrika gesê.

Die party het hom opnuut daartoe verbind om die regering se beplande wysiging van artikel 25 van die Grondwet ten alle koste te beveg, terwyl verskeie kenners en boere op die paneel die vernietigende impak van só ʼn wysiging uitgewys het.

Die paneel was dit eens dat die skending van eiendomsreg deur só ʼn wysiging verreikende en vernietigende gevolge vir die demokrasie, ekonomie, voedselsekerheid, werkskepping asook die algehele integriteit van die Grondwet in Suid-Afrika sal hê.

Boonop het die ANC en EFF kragte saamgesnoer in ʼn poging om dié wysiging deur te druk en daar is ook voorgestel dat howe nie oor onteieningsake moet kan beslis nie, maar dat die regering as “bewaarder” volmag daaroor moet hê.

“Die Grondwet maak reeds voldoende voorsiening vir wettige onteiening en grondhervorming.

“Daar is absoluut geen rede om die Grondwet te wysig nie,” het dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, gesê.

Die party sê die ANC wil die wysiging bloot as ʼn kortpad gebruik om hervorming toe te pas en hulle eie mislukkings ten opsigte van suksesvolle grondhervorming onder die mat te vee.

Boonop wil die regering inwoners van die reg ontneem om eiendom te besit en hulle tot “huurders” van ʼn “reeds korrupte” staat reduseer.

Dít sal ook beteken dat eiendom wat ná 1994 met wettige hervormingsprosesse bekom is, wéér van regmatige eienaars af weggeneem word.

“Die Grondwet stel dit onomwonde dat eiendomsreg nie net beskerm moet word nie, maar ook bevorder moet word.

“Indien burgers nie die reg het om eiendom te besit nie, sal hulle bloot die regte van huurders hê. Dít is ʼn onreg,” het Martin van Staden, ’n regsnavorser by die Vryemarkstigting, gesê.

Van Staden sê die regering besit groot hoeveelhede grond, waaronder munisipale grond, wat hulle selfs verniet aan gesinne kan gee sodat hulle grondeienaars kan word en deel van ʼn groeiende ekonomie kan word.

“Eiendomsreg is uiters belangrik om die magsbalans tussen die burgery en die regering te handhaaf.

“Sonder eiendomsreg kan daar ook nie suksesvolle hervorming plaasvind nie. Deur eiendomsreg te beskerm hou jy ook die deur vir ander mense oop om eiendom in die toekoms te bekom. Sonder eiendomsreg sal burgers altyd in die staat se mag wees en sal jou lewensbestaan toenemend bedreig word.”

Waarde van eiendomsreg ‘onmeetbaar’

Annette Steyn, DA-woordvoerder oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê voorts wanneer mense nie eiendom besit nie, daar ook geen motivering is om in sodanige eiendom te belê of produksie te bevorder nie.

Dít geld nie net vir landbougrond nie, maar ook stedelike eiendom.

“Die waarde van eiendomsreg is onmeetbaar. Daarsonder kan jy byvoorbeeld nie eers ʼn lening aangaan om kapitaal te bekom om jou eiendom of bedrywighede verder uit te bou nie.

“Hoekom sal jy plant en saai as jy nie eers weet of jy dit volgende jaar sal kan oes nie?”

Anthea Jeffrey, navorsingshoof by die Instituut vir Rasseverhoudings, sê onteiening sonder vergoeding is ook ʼn bedreiging vir finansiële instellings en burgers se spaargeld in banke.

“Funksionele finansiële instellings is die rugsteun van ekonomieë.

“Sou die regering eiendom sonder vergoeding onteien, sal mense steeds die banklenings wat hulle vir sodanige eiendom bekom het, moet afbetaal, wat hulle nie sal kan doen nie.

“Banke sal ten einde dié lenings moet afskryf, wat enorme implikasies tot gevolg sal hê. Op die ou einde sal burgers se spaargeld, wat in sodanige banke belê is, ook in gedrang wees.”

Bedreiging vir voedselsekerheid

Verskeie boere het ook opnuut die aandag op die bedreiging van die voorgestelde wysiging op voedselsekerheid gevestig.

Pieter Swart, ʼn boer van Ermelo in Mpumalanga, sê dit help nie om grond aan opkomende boere te gee sonder om hulle op te lei nie, aangesien daardie grond eindelik tot niet sal gaan.

“Die regering sien kommersiële boere as ʼn bedreiging, terwyl hulle ons as mentors kan inspan.

“Gevestigde boere kan opkomende boere oplei en die regering op dié wyse bystaan.”

Swart sê voorts dat dit nie net die boer en sy gesin is wat in ʼn boerdery belê nie, maar ook die werknemers van so ʼn boerdery.

“As dit nie joune is nie, gaan jy egter nie daarin belê en daarop voortbou nie aangesien jou grond gevat kan word. Dit plaas nie net voedselsekerheid in gedrang nie, maar ook werkskepping.”

Lotriet sê dat daar eindelik nie vir ʼn wysiging aan wetgewing gestem kan word indien daar nie voldoende impakstudies gedoen is nie.

“Volgens die inligting wat ons ontvang het, sal daar eers ná die implementering van die wysiging impakstudies gedoen word. Dit is heeltemal te laat.”

Geordin Hill-Lewis, die DA se skaduminister van finansies, sê indien die wetgewing wél gewysig word en hulle daarna besef dat hulle ʼn fout gemaak het, dit dekades kan neem om dit reg te stel en weer die vertroue van beleggers en inwoners te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anoniem

Maar dit is nou tipies omdat hulle alle jare nog net gekry het en nie weet waar dit vandaan kom nie.
Ons en ons voorgeslagte moet werk en betaal vir alles in ons lewe maar hul vat net want volgens hul
siening het ons dit mahala gekry. Hul wil hierdie land nou totaal en al vernietig.
Die laekoste behuising wat voorsien is vir mahala moet mos dan onteien word en dan moet daardie inwoners en die plakkers ook dit terug huur van die Regering. So ook die President en ministers.
Geldgierigheid het nie einde nie.

Willem Wikkelspies

Miskien is dit nie sleg as die regering alle grond besit nie, solank hulle net my verband dan ook maar betaal .. want hoekom sal ek enigsins moet of wil .. ek het dan mos niks om te wys vir dit nie, of hoe?

Porseleintjie

Kommunisme op sy beste. Geen mens sal die reg eers he om te droom nie.

Kanjynoumeer

Kommunistiese ideologie het nog nooit gewerk nie en sal ook nie.
Suid-Afrika sal opeindig soos Venezuela.
Verarm en die geldeenheid sal geen waarde hê nie.

Anel

Dit kom eintlik net daarop neer dat hulle diefstal wettig maak. Dan kan diefstal ook maar uit due wetboeke verwyder word want dit gaan nie bestaan nie. En verder kom die kinsep neer op komunisme. Kyk hoe gaan dit in Kuba, byvoorbeeld. Die ryk regeting elite en die res van die bevolking vrek van elende. Hier sal dit net erger gaan.