‘Grondhervormingsplan nie ANC-resolusie’

Argieffoto Foto: led.co.za

Argieffoto Foto: led.co.za

Die ANC het glo nie vir Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, ‘n mandaat gegee rakende die omstrede nuwe grondhervormingsvoorstelle nie, berig City Press.

Die omstrede voorgestelde grondhervormingsplan behels dat die helfte van elke kommersiële plaas in Suid-Afrika aan plaaswerkers oorgedra word. Die beleidsdokument sorg vir groot onsekerheid en is wyd gekritiseer.

Volgens City Press se berig dra die ANC ook nie behoorlik kennis van die beleidsdokument nie. ‘n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee het glo aan die koerant gesê dat voorstelle wat in die beleidsdokument gemaak word nie spruit uit die ANC se besluite wat op die Mangaung-konferensie van 2012 geneem is nie.

Nog iemand in die binnekring van die ANC het aan die koerant gesê dat die voorstelle in die beleidsdokument waarskynlik nie die grondwetlike toets sal slaag nie aangesien dit neerkom op onteiening sonder vergoeding.

Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, het aan City Press gesê dat die regerende party nie ‘n beleidstandpunt oor die voorstel van ’n 50%-aandeelskema vir plaaswerkers het nie. Volgens berigte is die voorstelle dié van die departement en is dit nie gegrond op ANC-resolusies nie.

Die dokument stel voor dat “historiese eienaars” die helfte van hul plase behou en dat die staat betaal vir die 50% wat deur die plaaswerkers bekom word. Die geld sal egter nie aan die grondeienaar betaal word nie maar in ʼn trust wat ten doel het om die plaas verder te ontwikkel.

Plaaswerkers sal aandele in die plaas kry na gelang van jare diens en die bydrae wat hul gelewer het tot die ontwikkeling van die plaas. – Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.