Grondkwessie in kollig tydens wetgewer-debat

Koning Goodwill Zwelithini deur Reinhardt Hartzenberg, Wikimedia Commons

Blessed Gwala, Inkatha Vryheidsparty-lid (IVP) van die provinsiale wetgewer in KwaZulu-Natal, het ANC-leiers daarvan beskuldig dat hulle huigelaars is omdat hulle beweer dat hulle die Zoeloe-koning, Koning Goodwill Zwelithini, respekteer, terwyl hulle van plan is om grond wat onder die monarg se beheer val, oor te neem.

Gwala het dié uitsprake Donderdag tydens ʼn Menseregtedag-debat in die KwaZulu-Natalse wetgewer gemaak. Hy het hom uitgespreek teen planne om grond oor te neem wat onder die Ingonyama Trust val, waarvan die koning aan die hoof staan.

“Ons weet van die ANC-leiers wat kom asof hulle eer betoon aan die koning in sy paleis en vir hom beeste as geskenke bring, maar terselfdertyd beraam hulle planne om grond by sy Majesteit oor te neem,” het Gwala gesê.

Hy het verwys na ʼn verslag waarin daar aanbeveel word dat die Ingonyama Trust ontbind word en dat die grond deur die regering oorgeneem word. ʼn Hoëvlak-paneel gelei deur voormalige pres. Kgalema Motlanthe het, nadat grondeienaarskap reg oor die land ondersoek is, aanbeveel dat die raad ongrondwetlik is en dat die wet geskrap moet word.

Gwala het gesê die besluitnemers agter só ʼn aanbeveling is mense wat niks weet van grondgebruik nie. “Vir ons swart mense is grond die bron van ons lewensbestaan. Ons sal nie toelaat dat ons mislei word deur individue wat nie eens ʼn klein tuintjie kan groei nie, en sodoende ons grond, waarvoor ons voorvaders dapper geveg het, laat oorneem nie,” het Gwala gesê.

Hy het bygevoeg dat die ANC-regering se planne om hierdie grond oor te neem beteken dat daar niks is om op Menseregtedag, wat gister herdenk is, te vier nie.

ANC-LP Sihle Zikalala, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, het in reaksie op Gwala se uitsprake die IVP as onrussaaiers bestempel wat die kwessie van die Ingonyama Trust gebruik om gewild te bly. “Ons respekteer die koning, want hy is nie net jou koning nie, maar die koning van al ons Zoeloes,” het Zikalala gesê.

Hy het gewaarsku dat pogings om ʼn wig tussen die ANC en die koning in te dryf nie suksesvol sal wees nie, omdat dit ʼn verouderde styl van politiek is waarvan baie IVP-lede hulself distansieer. “Maar ons weet dat die ouer garde van die IVP, wat deur mense soos Gwala verteenwoordig word, steeds klou aan daardie styl van politiek omdat dit hulle relevant maak,” het hy gesê.

Die Zoeloe-koning het onlangs aangedui dat hy enige pogings van die regering om die grond van die Ingonyama Trust oor te neem sal beveg. In ʼn toespraak tydens die opening van die KwaZulu-Natalse wetgewer in Februarie vanjaar het die koning Zoeloes aangemoedig om R5 te skenk as deel van ʼn fondsinsameling om regstappe te doen om sulke pogings te beveg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann cb ·

Ek wens Gwala wil hom oor die algemeen teen onteiening uitspreek! Die nasie sal hom regtig blessed…

Johann ·

Presies hoeveelkos die “koning ons as belasting betalers? En wat DOEN hy en sy koningkryk vir WIE?

Oom Kalahari ·

ANC moenie kap aan die Zoeloe koningryk waar dit nou nie jeuk nie. Hier kom ‘n ding en as hul die boere se grond onder die Staat wil plaas dan moet hul alle grond so neem wat almal het en verdeel onder die staat behering.

Lyn ·

Die sogenaamde koning(sy majesteit nogal….!)kos die belastingbetalers miljoene en vermors dit jaarliks al hoe meer. Die regering kan gerus die trust oorrneem.

Johanna Botha ·

N tradisionalis wat heel gelukkig is om belastinggeld te ontvang gemaak deur kapitalisme …en nou is sy grond ingedrang en word hy kamtig nie gerespekteer …wat n joke !

L ·

Wel, die Zulus, is al wat ons aan ons kant sal he, as daar vir jou eie grond geveg moet word…

Selfbeskikking ·

Laat die Zulus hulle eie land kry en ons kry ons eie land, die huwelik werk nie, ons wil onsself regeer en nie in ons eie land meer onderdruk en uitgemoor word nie. Laat ons met sterk selfbeskikkingsonderhandelinge begin met verskeie belangegroepe soos die Zulu koning buiteland on die regering, maar uit sal ons moet uit as ons n toekoms wil oorhe. Ek belowe julle daars geen ander oplossing nie.

Martin ·

Alles is ongrondwetlik net sodat die ANC hul hande daarop kan le, besit en/of kan beheer

Karooboer ·

Georganiseerde landbou moet die Ingonyama trustgrond herverdeling ‘n voorvereiste maak vir die begin van ENIGE onderhandelinge met die regering. Wys die arrogante, hebsugtige ANC regime ons het ook eise.!

Gerrit ·

Gee vir ons die weskaap en Natal vir die Zoeloe dan kan die anc ,eff rustig die ander provinsies in die grond in bestuur wie gee om.

Selfbeskikking ·

Dit is presies hierdie tipe gesprekvoering wat nou moet begin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.