Grondonteiening: ‘Boodskap van boere aan die president’

Dr. Pieter Groenewald. Argieffoto: Twitter

Die VF Plus is van mening pres. Cyril Ramaphosa sal dit nie regkry om almal ʼn rat voor die oë te draai oor presies wat onteiening sonder vergoeding is en wat die ANC-regering daarmee beoog nie.

Ramaphosa het hom en die ANC Woensdagmiddag tot die duidelikste mate tot dusver gedistansieer van die EFF se voorstelle om die staat die eienaar van alle grond in Suid-Afrika te maak.

Ramaphosa het geantwoord op ʼn vraag deur die DA-leier, Mmusi Maimane, oor hoekom die ANC dit nodig ag om die Grondwet te verander ten einde grondhervorming te versnel.

Dinge het egter warm geraak toe die EFF-leier, Julius Malema, ʼn opvolgvraag oor die kwessie stel.

Malema het gesê dat Ramaphosa ʼn denkfout maak deur die oordrag van titelaktes aan minderbevoorregtes te bepleit, want hy meen al wat sal gebeur is dat die rykes die armes weer sal uitkoop en weer alles sal besit omdat die armes in die versoeking sal wees om hul eiendom weer van die hand te sit. Daarom meen die EFF die staat moet alle grond besit en dit aan landsburgers toewys vir gebruik.

Hiervan wou Ramaphosa niks hoor nie en hy het Malema uitgetrap dat die EFF swart mense onderskat. “Ons mense is trots op die eiendom wat hulle besit, en sal nie sommer daarvan afstand doen nie. Ons kan nie die reg om grond te besit, weer van ons mense steel nie. Die openbare verhore wys dat ons mense grond wil besit.

“Hierdie situasie is nie vergelykbaar met ons standpunt oor minerale regte nie. Buitendien is daar heelwat groot maatskappye wat wil help met die verskaffing van grond sodat mense daarop huise kan bou,” het Ramaphosa gesê.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het Woensdag in vraetyd in die parlement aan Ramaphosa gesê hy draai nie almal ʼn rat voor die oë oor die ANC se plan vir grondonteiening sonder vergoeding nie.

“Ek wil aan president Ramaphosa sê ek verskil van sy siening oor onteiening sonder vergoeding. Onteiening sonder vergoeding gaan nie die grondhervormingsproses versnel soos hy voorgee nie,” het Groenewald gesê.

“Die president self sê beleggers wil sekerheid hê oor hul eiendom, maar dit is nie net beleggers wat sekerheid wil hê nie. Die mense wat die hardste vra om sekerheid is die grondeienaars van Suid-Afrika. Hulle wil weet wat met hul grond gaan gebeur.”

Groenewald het gesê almal weet die president is ʼn goeie onderhandelaar.

“Net soos hy Roelf Meyer met sy onderhandelings-vermoëns gemesmeriseer het, neem ek aan het hy nou ook gedoen met sommige landbouleiers. Ek het egter ook ʼn belangrike boodskap van ander boere aan die president. Dié boodskap is dat hulle nie vrywillig van hul grond sal afstand doen nie. Die president moet dit óók verreken in hierdie proses van onteiening sonder vergoeding,” het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Wikus ·

Boere kan hulle grond en bestaansreg beskerm deur selfbeskikking.

Jordaan ·

So swart mense moet hulle grond besit, behalwe as dit onder ‘n tradisionele leier val? Dit is duidelik dat logika geen rol speel vir kaders soos Ramaphosa nie.

Hanna Hoekom ·

Kyk, CR is nie onnosel nie: hy weet maar al te goed dat al hierdie bose plannetjies die land en die ekonomie baie duur te staan gaan kom. Hy het homself ook lelik misreken met die “massas” wat elke woord aanhang en nou grond gryp… Die hartseer is, dat ou CR maar met n “puppet on a string” in die ANC se hande is. Die EFF steun is op die oomblik baie belangrik met die oog op die vlg verkiesing. Daarom word daar anderpad gekyk en stil swye gehandhaaf wanneer hierdie bose dade teenoor ons boere gepleeg word. Ja nee, CR het sy hand lelik oorspeel! Wat n teleurstelling is die padda-meester nie.

Wikus ·

Boere kan mos hulle grond en bestaansreg beskerm deur selfbeskikking.

posduif ·

wikus verduidelik asb wat jy verstaan onder SELFBESKIKKING!

Lerato ·

Groenewalt sê Ramaphosa het Meyer gemesmiriseer, dus gehipnotiseer.
So wat het Ramaphosa uit Meyer gekry, wat Meyer nie wou gee nie?

Theo ·

Nou meer as ooit te vore moet ons die VF+ se hande versterk om sodoende die party uit te bou om n sterk opposisie rol te verteenwoordig vir ons as minderheidsgroep. Die DA sal en gaan dit nie doen nie, DAAROM ELKE STEM VOORENTOE MOET VF PLUS WEES.

Celtis Africana ·

Ek hoop werklikwaar daar is n terugkeer na ons mense toe.

Eish ·

Heeltemal korrek. Veral die gemesmerisering van sommige landbouleiers.

Theunis Krüger ·

Die vertel van die halwe waarheid lees soos ‘n storie boek, wat geskryf is van tagtiger jare af, wat die algemene man en vrou op straat in hulle gemak sone, aan die slaap sus. Die regering en hulle napraters/meelopers sê net genoeg om hulle te laat besef, “ons is nog veilig”, maar intussen word jou ondersteuning uitgekalwe. Word wakker, voor dit te laat is en almal om jou wil beskuldig deur te sê: hoekom het julle ons nie gesê nie, of, hoekom het julle niks gedoen om die golf te keer nie.

Paul ·

Sê hom , Dr Groenewald, sê hom. CR praat uit twee monde. En die besettings van plase wat nou al reeds begin het? Hierdie pres van “ons” leef in ontkenning. Ook ‘softtalk’ hy die boere en sê hulle moenie aan hul grond vasklou nie. Wat se nonsies is dit? Hoe vertel jy iemand moenie aan sy wetlike eiendom vasklou nie? Hy het nie begrip vir enige van die partye se behoeftes nie en dan steur hy hom ook nie aan wat op die vergaderings gesê is nie, terwyl hulle ook nog nie klaar die geskrewe insette verwerk het nie. Hierdie man is ‘n ramp.

Wa ·

Eerlikwaar………ek is al so siek en sat vir hierdie kat en muis speletjie. Dit is soos ‘n drukkoker wat nie onder beheer is nie! Ramaphosa het hierdie land tot by die afgrond gelei en ek is nie so seker dat ons daarvan kan terug draai nie. Ek spreek dit hoegenaamd nie oor ons land uit nie maar een of ander tyd gaan die drukkoker se deksel afskiet. Die Boere se bloed vloei al jare oor hulle grond. Een of ander tyd gaan hulle opstaan en self besluit waarvoor daai bloed gevloei het!

Grassie ·

Dr Groenewald beïndruk my al meer. Met “sommige landbouleiers” neem ek aan hy verwys na Agri-SA, ‘n mening wat ek heelhartig met hom deel.
CR sê in die berig “sy mense” is trots op hul eiendom en dat hulle graag grond wil besit. Nou wonder ek waarom ongeveer 80% van hulle wat met grondeise geslaag het, die geld geneem het in plaas van die grond. Sovèr die “trots” betref, dit word weerspieël in wat met die plase gebeur het nadat dit aan die nuwe trotse eienaars oorhandig is.
CR is nie onnosel nie – hy weet al hierdie dinge en tog gaan hy voort om die ANC se leuens aan sy “our people” en die res van die wêreld te verkoop. Ek glo dit is deel van ‘n agenda wat al van voor 1994 af beplan is.

Paul ·

Absoluut! En dan wil ek vir CR vra, is die blankes dan nie trots op hul eiendom en die blanke boere op hul plase nie? Waarom sê hy dan vir die blanke boere hulle moenie aan die grond vasklou nie?

Roñnie ·

Soms voel ek wat soek ek ‘n vreemdeling ongeag my geboorteland hier .Hoeveel keer moet ek of ons uitgesluit word in uitsprake wat praat van “our people'” Mnr Lekota wag ook op CR oor wie is “our people”

Slaan yster terwyl warm is ·

Dr. Groenewald moet die sec.of State
Mr. Pompeo goed inlig dat artl 25 van grondwet
Nou reg geskryf en bewoord word ; (hou net r meyer uit die samesprekings) in elke provinsie gedeelte is en blanke vrywillig onder eie bestuur onafhanklik kan leef en boer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.