Grondonteiening: ‘Regstappe nou nodig’

oudregter-william-de-villiers-ad-hoc-2018-09-06

Oudregter William de Villiers sê daar kan en behoort nou regstappe gedoen te word om die oorweging van grondonteiening sonder vergoeding te stuit. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Oudregter William de Villiers sê daar behoort onmiddellik regstappe gedoen te word om die oorweging van grondonteiening sonder vergoeding in sy spore te stuit.

De Villiers het ʼn regsperspektief en juridiese alternatiewe gegee oor die ANC se planne om artikel 25 van die Grondwet te wysig om grondonteiening sonder vergoeding te wettig. Hy was een van ʼn paneel sprekers wat die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsregte by die TLU SA se kantoor in Silverton, Pretoria toegespreek het.

Die Afrikanerbond en TLU SA maak saam met ander organisasies en politieke partye deel uit van dié groep wat glo die wysiging van die Grondwet hou negatiewe implikasie vir die ekonomie, voedselsekerheid, sakevertroue en eiendomsreg oor die algemeen in.

“Ons [landbou en ander bekommerde organisasies] het dalk te lank op ons agterstewe gesit en niks gedoen nie. Ons was geregtig en verplig om hof toe te gaan die oomblik toe die mosie vir die wysiging aanvaar is en te sê hier word inbraak gemaak op my fundamentele regte om eiendom te besit en vergoeding daarvoor te ontvang,” het De Villiers gesê.

Volgens hom is die organisasies en selfs individue geregtig om kragtens artikel 38 van die Grondwet hof toe te gaan en te sê daar dreig ʼn inbreukmaking op hul fundamentele eiendomsreg en reg op onteiening teen vergoeding.

Hy het bygevoeg hy weet dit sal nie ʼn populêre standpunt wees om die konstitusionele hof te nader nie omdat die hof reeds “ ʼn paar taai klappe uitgedeel het” met uitsprake wat nie verwag is nie.

De Villiers is egter oortuig artikel 38 plaas ʼn verpligting op die hof om gepaste regshulp in die saak te verleen.

“Die regering het eintlik ʼn skelm metode gevolg om die hele ding te hanteer. Hy het nie eers na sy regsadviseur gegaan om ʼn nuwe wetsontwerp op te stel wat hulle kon voorlê en sê hier is die nuwe wet en dit gaan inbreuk maak op jou regte op hierdie en hierdie manier nie.”

De Villiers het gesê niks kan die aansoekers in so ʼn saak stop om nou ʼn interdik te kry wat die regering verbied om voort te gaan met die hele grondonteieningsaak totdat die regering meer inligting gegee het oor die inhoud van die beoogde wetsontwerp nie. Hy het bygevoeg meer aansoekers in so ʼn saak sal ook beter wees.

“As ons dit eers het, kan ons dit voor die hof argumenteer en dan moet die hof besluit of dit wel met die Grondwet strook. Ek is oortuig ons het ʼn onomstootlike saak kragtens die Handves van Menseregte wat eiendomsregte insluit.

“Ons het ongelukkig versuim om dit dadelik te doen – ons moes eintlik ʼn jaar gelede al in die hof gewees het, maar nou moet ons eenvoudig opskud en optree. Dit gaan nie help om te wag tot oor ses maande nie, want dan het ons posisie al verswak.”

  • Lees ook op Maroela Media wat dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, gesê het op die geleentheid oor eiendomsregte en die ANC se planne om artikel 25 van die Grondwet te wysig.
  • Lees ook op Maroela Media wat dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldboere-organisasie, gesê het op die geleentheid oor eiendomsregte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

MJ ·

Sè asb net wat ons gewone mense moet en kan doen om hierdie teenstand te ondersteun en ons doen dit…..

Nic ·

Presies! Waar kan ek deel word van so ‘n regsaksie? of het ons nou net soos die parlement geraak wat praat en praat en niks konstruktief word gedoen nie.

Anoniem ·

Die Regering moet maar voort DROOM in hulle eie Wêreld !

Wynand ·

Wat is die vinnigste manier om die hof te nader en wie gaan die aansoek rig?

Piet ·

Daar kom dit nou van n regskenner: “…die regering het ‘n skelm metode gebruik om die hele ding te hanteer”. Dit het baie duidelik geword toe hulle in die geheim n lys begin opstel het sodat grondeienaars nie teen die onteiening kon voorberei nie. Hulle was so skelm dat hulle die grootste landbou unie in SA by die gekonkel betrek het net sodat hulle later moet kan se die lanbou was tenvolle betrokke by die besluit. As hierdie wet sou slaag het kommunisme finaal die land verower- vryheid is dan iets van die verlede.

Jakkalas ·

Die gewone mens op straat is nie “justice smart” nie en iemand met die nodige kennis soos die oudregter moet ons laat weet wat om te doen en ons kan en sal almal saamstaan om die maligheid te stop voor die buite beheer raak. Eks bereid om te help met regskostes tensy dit legit is…

Pieter ·

Laat die mense n PETIESIE begin en dit adverteer dan teken ons en maak hulle word sterker.

Staak ·

Die interduk word toegestaan en die staat maak sy planne bekend wat hy inelkegeval moet doen en die hele proses begin van voor af.

Stella ·

Iets maak seker “inbreuk” op ‘n mens se regte, nie “inbraak” nie, sê dalk vir die regter.

Stella ·

Iets maak “inbreuk” op ‘n mens se regte, nie “inbraak” nie.

Grassie ·

Die regter het die hele aangeleentheid mooi raakgevat en ek hoop sy raad word gevolg. Sy opmerking dat al die betrokkenes te lank op hul agterstewes gesit het, is baie waar. Ter versagting kan gesê word dat dit nogal baie aanpassings verg om organisasies wat in die verlede van mekaar verskil het, nou te laat saamwerk. Dit is merkwaardig om die Afrikanerbond (die ou Broederbond) en TLU in dieselfde kraal te sien. Miskien begin die sg “verligtes” nou insien dat hul verligtheid nie lig nie, maar duisternis vir ons volk gebring het. Daar is dikwels gesê dat ons (witmense) eers baie swaar sal moet kry voor ons sovér sal kom om saam te staan. Miskien begin die wiel nou draai. Ek hoop so.

Anche fischer ·

Ons praat nog net. Gaan oor tot die daad asb en hou op praat

Anche fischer ·

Ons praat nog net. Kan ons nou oorgaan tot die daad en doen, asb

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.