Grondonteiening: Sakeliga dien PAIA-aansoek in  

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Die sakeorganisasie Sakeliga het nog ’n PAIA-aansoek ingedien waarin die rekords van plase wat moontlike toetssake vir “regverdige en billike vergoeding” vir onteiening is, aangevra word by die departement vir landelike ontwikkeling en grondhervorming.

Dit volg ná ʼn artikel in Rapport waarin Rendani Sadiki, die waarnemende direkteur-generaal van die departement, erken het dat ʼn lys van 139 plase wat vir hierdie doel geoormerk is wel bestaan.

Die departement het in antwoord op Sakeliga se aanvanklike PAIA-aansoek die bestaan van ʼn lys met eiendomme geoormerk vir onteiening sonder vergoeding ontken. Dit is waarom Sakeliga nou ʼn PAIA-aansoek gebring het om die lys van plase te versoek wat geoormerk word vir onteiening vir “regverdige en billike” vergoeding.

“Dit blyk dat die departement op die tegniese punt – dat die lys van 139 plase nie noodwendig ʼn lys van toetssake vir onteiening sonder vergoeding is nie, maar eerder van potensiële sake vir onteiening onder markwaarde – wil staatmaak. Nietemin bestaan daar duidelik ʼn lys van 139 plase en dit is ongetwyfeld hierdie lys waarna senior ANC-amptenare in die afgelope weke verwys het toe hulle die ANC-beleid om toetssake vir onteiening uit te soek, bevestig het,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê.

“In ons jongste PAIA-aansoek versoek ons die rekords van plase wat vir litigasie geteiken word, waar die staat die grondwetlike definisie van regverdige en billike vergoeding wil toets. Ons het die aansoek so opgestel om enige eiendom in te sluit en het spesifiek gevra vir die eiendomme waar staatsaanbiedinge deur eienaars van die hand gewys is. Verder hoop ons om die staat se waardasies van hierdie eiendomme, die aanbiedinge deur die staat gemaak en enige inligting oor hofverrigtinge wat tans onderweg is, te bekom,” het Armand Greyling, regs- en beleidsanalis van Sakeliga, gesê.

“Waar onteiening vir ʼn openbare doel onderneem word, moet dit binne die raamwerk van ʼn wet van algemene toepassing en teen markwaarde gedoen word. Die departement se pogings om toetssake te bou waar onteiening onder markwaarde verskoon word, verskil slegs van onteiening sonder vergoeding in graad en nie in beginsel nie. Dit is in die belang van nie net plaaseienaars nie, maar ook die algemene publiek in Suid-Afrika dat die departement en die ANC hierdie onteieningspogings laat vaar. Dit sal skadelik wees vir die hele land, en selfs meer, sou die departement aanhou om in die geheim voor te berei. Die departement moet die lys – waaroor daar nou geen twyfel kan bestaan nie – aan ons beskikbaar maak sodat geaffekteerde en belanghebbende partye ʼn gesamentlike regstrategie kan ontwikkel,” het Le Roux afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marous ·

Wetgewing wat toeganklikheid van inligting vir die publiek reguleer.

Cherokee ·

Ó.. ek dog dissie mense wat die tolhekke op die paaie doen.

Paul ·

Mooi Piet! Gooi CR met alles wat julle het terwyl daar ook nou ander partye is wat die stem dik maak, en selfs Trump het reageer het. Smee die yster terwyl dit warm is.

Boervrou ·

Ek gaan jou nie Lerato noem en krediet gee aan jou skuilnaam nie want ons weet almal jy is blank en skuil agter ‘n tradisionele swart noemnaam. Ek sal wel jou vraag beantwoord.
PAIA staan vir Promotion of Access to Information Act

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.