Grondonteiening: Twee prosesse tans aan die gang

land-grond-landbou-deur-edouard-tamba-unsplash

Foto: Edouard Tamba/Unsplash.com

Daar is tans twee parallelle prosesse aan die gang om grondonteiening sonder vergoeding in te stel.

Buiten die ANC se beoogde wysiging van artikel 25 van die Grondwet het die departement van openbare werke op 21 Desember ʼn hersiene wysigingswetsontwerp in die staatskoerant gepubliseer wat die omstandighede uiteensit waaronder die staat grond sonder vergoeding kan onteien.

Volgens die wysigingswetsontwerp is dit regverdigbaar vir die regering om grond sonder vergoeding te onteien as dit in die openbare belang gedoen word.

Die wysigingswetsontwerp stel ook voor dat die volgende eiendomsoorte sonder vergoeding onteien kan word:

  • Grond in staatsbesit of in besit van staatsondernemings;
  • Grond wat deur huurarbeiders beset word;
  • Grond wat deur ʼn eienaar verlaat is;
  • Grond wat bloot vir spekulatiewe doeleindes gehou word; en
  • Grond waarvan die markwaarde gelykstaande of minder is as die huidige waarde van direkte staatsinvestering of subsidie in die aankoop of kapitale verbetering van die grond.

Verder stel dit dat ʼn onteiende gesag die reg het om die eiendom tydelik te gebruik indien dit dringend benodig word, maar dit mag slegs vir ʼn tydperk van hoogstens 12 maande gedoen word.

Die publiek het van 21 Desember af 60 dae tyd om skriftelike kommentaar op die wysigingswetsontwerp te lewer, gerig aan die departement van openbare werke.

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga, het gesê al die organisasies is ernstig bekommerd oor wat onteiening sonder vergoeding vir die toekoms van Suid-Afrika inhou. Foto: Morné Prinsloo/Sakeliga Onteieningberaad.

Twee prosesse gelykertyd aan die gang

Daniel du Plessis, regsontleder verbonde aan Sakeliga, het bevestig dat die wysigingswetsontwerp afsonderlik staan van die ANC se planne om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding toe te laat.

Die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad van Provinsies het vroeër in Desember ʼn konsepverslag aanvaar wat die grondwetwysiging aanbeveel. Daar sal nou ʼn bykomende parlementêre komitee in die lewe geroep word om ʼn wetsontwerp op te stel wat nodig is om die veranderinge aan artikel 25 van die Grondwet te maak.

Partye soos die ANC en die EFF het aangevoer grondwetlike verandering is nodig om skewe eienaarskappatrone uit die verlede te takel. Talle organisasies, wat onder meer die landboubedryf verteenwoordig, asook sommige opposisiepartye en burgerregte-organisasies meen egter dié soort wysigings sal eiendomsregte ondermyn en beleggers afskrik.

Die konsepwetsontwerp van die departement van openbare werke is die derde weergawe van die betrokke wetsontwerp. Die eerste weergawe is in 2008 beskikbaar gestel.

Twee denkstrome oor onteiening sonder vergoeding

“Binne die ANC word daar geredelik aanvaar dat grondonteiening sonder vergoeding moet plaasvind, maar daar is twee parallelle idees oor hoe dit gedoen kan word.

“Daar is die kamp wat nader aan die EFF se siening hieroor lê. Hulle glo die Grondwet moet verander word om dit moontlik te maak.

“Dan is daar ʼn ander groep, wat akademici en mense soos Albie Sachs, oudregter van die konstitusionele hof insluit. Hulle meen die Grondwet maak reeds voorsiening vir onteiening sonder vergoeding. Daar moet nou net gekyk word wat binne artikel 25 gedoen kan word om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak,” het Du Plessis gesê.

Hy het egter bygevoeg dat dit heel onwaarskynlik is dat Suid-Afrika ʼn wysiging aan die Grondwet voor die verkiesing sal sien en dat die regering hierdie konsepwetgewing as ʼn soort terugvalplan beskou.

“Wat wel kan gebeur is dat die konsepwetgewing se bewoording gebruik kan word as ʼn soort maatstaf om te bepaal hoeveel daar aan die artikel 25 gewysig moet word, indien enigsins.”

“Die konsepwetgewing skep beslis die indruk dat die regering altyd teen min of geen markwaarde sal kan onteien nie. Dit gee ook geen aanduiding van die skaal waarteen onteiening sal plaasvind nie terwyl die internasionale tendens is om vir ʼn openbare doel te onteien. In die konsepwet word gesê daar kan vir ʼn openbare doel en belang onteien word, maar openbare belang is ʼn baie arbitrêre term.”

Volgens Du Plessis is die kern van hierdie nuwe wet maar eintlik net dieselfde problematiese bepalings van artikel 25 van die Grondwet.

“Dit is so wyd en onduidelik dat die regering maar eintlik enigiets met die waarde van die grond kan doen as die hof bereid is om toe te gee. Dit veroorsaak natuurlik ʼn moeilike situasie vir grondeienaars,” het hy bygevoeg.

“Verder beskou die konsepwetgewing grondonteiening as ʼn oplossing vir die land se ekonomiese probleme en daarmee stem ons natuurlik glad nie saam nie,” het Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser by Sakeliga, gesê.

Argieffoto (Foto: goumbik/Pixabay)

Nuwe wetsontwerp te eng

Agri SA, ʼn landbou-organisasie wat gekant is teen onteiening sonder vergoeding, het kort ná die plasing in die Staatskoerant sy kommer oor die konsepwet uitgespreek. Die organisasie meen ook dat terwyl die voorgestelde wet meer duidelikheid bied oor hoe onteiening sal plaasvind moet die omvang en definisie daarvan dringend en duidelik verklaar word.

Die organisasie het ook gesê die omskrywing van onteiening in die nuwe wetsontwerp is te eng en strook nie met internasionale tendense nie wat die gevaar stel dat die staat allerhande beperkinge op eienaarskap kan plaas sonder om die eienaar te vergoed.

Agri SA se grootste kommer is egter ook oor die onteiening van grond wat deur huurarbeiders beset word. Huurarbeider-eise is kompleks en die meeste van dié eise is nog nie geverifieer nie.

“Baie van die persone wat op plase in KwaZulu-Natal en Mpumalanga woon se status as huurarbeiders is glad nie uitgeklaar nie,” sê Annelize Crosby, hoof van die organisasie se Grondsentrum vir uitnemendheid. “Daar is ook kommer oor die onekonomiese aard van baie van die stukke grond waarop daar huurarbeider-eise is asook oor die produktiewe gebruik daarvan. Die eintlike probleem is dat die Huurarbeiderwet nooit na behore geïmplementeer is nie.”

Agri SA sal skriftelike kommentaar op die wetsontwerp indien en aktief aan al die konsultasie-prosesse wat gaan volg, deelneem.

Sakeliga het ook gesê die organisasie wil die publiek se kommentaar insamel vir skriftelike terugvoer op die konsepwetgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

Soveel vrae oor en probleme met die konsepwetsontwerp en klagtes oor talle moontlike waninterpretasies en foute wat gemaak gaan/kan word terwyl die gemoedere hoog loop, met die tyd min vir repliek. CR wil en gaan hierdie wet afjaag voor die verkiesing om die ANC te plesier en homself as ‘n roemryke held te vertoon. Enigeen wat nog altyd Zimbabwe wou besoek, spaar geld en bly tuis. Dit gaan na jou toe kom…

Natan ·

Soek die antwoord buite die kraal. Grondonteiening is deel van Agenda 21 van die VN. Die VN en die ANC is bedmaats. Grondonteiening is ook deur oud-pres. Obama gedoen in Nieu Meksiko om olie en uraan na die staat oor te dra. Suid-Afrika is mineraalryk en juis hierdie lank se juk.

Die ANC en EFF is duidelik werkers van die groter wêreldbestel. Die meerderheid Suid-Afrikaners stel in elk geval nie in grond belang nie. Grondonteiening maak ons eiendom van die staat. Dit kom neer op verraad teen die bevolking en laat die veroordeelde Boeremag se dade lyk soos ‘n klomp straatkinders.

John ·

CR wil en gaan hierdie wet afjaag voor die verkiesing om die ANC te plesier en homself as ‘n roemryke held te vertoon.

Gert ·

Hierdie wette gaan oor gelykheid. As jy die grond vat by die suksesvolle boer sonder om hom te betaal, en jy gee dit vir iemand wat glad nie kan boer nie, sal altwee arm sukkelaars wees, dus is hulle dan gelyk.

marco polo ·

Wel, ek is een van die beleggers wat reeds afgeskrik is. Ek het dit sterk oorweeg om vir my eiendom in SA aan te skaf, maar die risiko is net eenvoudig te groot as ek nie voltyds op my eiendom kan bly nie. Ek sal maar liewer my geld in die buiteland hou.

Ja Nee ·

Marco polo. Gelukkig het jy tot jou sinne gekom, hou jou geld buite SA want na die anc en sy maaitjies klaar is met hul planne gaan die Rand minder as gebruikte toilet papier werd wees.

Daniel ·

“grond wat bloot vir spekulatiewe doeleindes gehou word”. Sluit dit my 2de huis in wat ek nie bewoon nie, maar as extra inkomste verhuur?

Sarel ·

Jy sien die lig, so ook moontlik jou spaargeld as gekyk word wat gebeur het met toegewysde fondse vir paaie, ongelukkefonds en vele ander.

johan ·

Skryf ook in die wet wat nie onteien mag word nie soos bv ‘n suksesvolle plaas ens. Geen grond waarop n plaasaanval plaasgevind het of lewens bedreig word mag ooit onteien word nie, al is dit hoe verlate.

Hardus ·

Lyk my ons huidige grondwet is maar baie “los” en “wyd” geskryf. So asof dit deur amateurs gedoen is. Dalk is die die beste waarmee n spul BA Regte en LLB graduandi vorendag kan kom. Tydens my tyd op Stellenbosch het ons chemiese ingenieur studente juis nie die regte studente as baie slim beskou nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.