Grondonteieningswetsontwerp afgestem

Argieffoto (Foto: Wes-Kaapse regering)

Die voorgestelde wysiging van art. 25 van Suid-Afrika se Grondwet ten opsigte van die onteiening van eiendom sonder vergoeding is Dinsdag afgestem.

Die Nasionale Vergadering het Dinsdagmiddag oor die wysiging van die Grondwet gestem om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak. Die debat het om 14:00 begin en net voor 16:30 is die stemme getel.

Altesaam 267 stemme was nodig vir ʼn tweederde-meerderheid, maar net 204 het ten gunste van die voorgestelde verandering gestem en 145 daarteen.

TLU SA sê ofskoon dit ʼn goeie uitslag was, is dit egter beslis nie die einde van die wetsontwerp nie.

“Die proses is beslis nie verby nie. Daar is dié wat vasbeslote is om dit op die een of ander manier deur te voer. Ons as TLU SA is natuurlik dankbaar vir almal wat daarteen gestem het, maar ons kan nie nou terugsit en van die aangeleentheid vergeet nie,” het Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, gesê.

“Dit gaan beslis weer geopper word. En die gevaar vir ons land se ekonomie is dat dit wantroue en gevolglike skade veroorsaak, al word daar net gepraat daaroor. Beleggers raak al hoe versigtiger om te belê en ons ekonomie het dié vaste beleggings broodnodig. Hoe gouer die ANC van die standpunt afsien, hoe beter.

“Ek wil baie spesifiek die ad hoc-groep vir die beskerming van privaat besitreg en al 53 organisasies wat hierby ingeskakel en hul rol gespeel het om die ware feite ter tafel te bring, bedank. Ons is wel baie realisties oor die pad vorentoe. Die saak is nie afgehandel nie en ons sal bedag wees op enige pogings om ons ekonomie só omver te werp.”

Volgens Van Zyl is die onteieningswet steeds in proses en hiervoor is net ʼn volstrekte meerderheid nodig. “Daar sal beslis weer pogings wees om dit deur te voer. Die rooi gevaarligte flikker dus steeds.”

Dr. Corné Mulder, die VF Plus se hoofsweep, sê die voorafgaande prosedurele proses om die wet tot stand te bring was deurspek met ongerymdhede en het daartoe bygedra dat die proses sedert 2018 onnodig uitgerek is. Hy sê dit het tot groot onsekerheid onder Suid-Afrikaners en potensiële beleggers gelei.

In dié tyd het sowat 75% van alle Suid-Afrikaners in openbaredeelname-prosesse, deur voorleggings en in die parlement, hulle teen die verandering aan art. 25 en onteiening sonder vergoeding uitgespreek.

Volgens Mulder is die rede vir die weerstand teen die proses eenvoudig. “Eiendomsreg is ʼn internasionaal erkende, basiese mensereg. Om dit weg te neem sal lei tot ʼn ekonomiese ineenstorting en die land vernietig,” sê Mulder.

“Die ANC het goed besef onteiening sonder vergoeding is niks anders nie as beslaglegging en het dit probeer verbloem deur eufemistiese woordspel soos ‘nul vergoeding’ wat vir eiendom sou geld.

“Niemand het daarvoor geval nie, ook nie die meerderheid in Suid-Afrika se parlement nie.

“Die regering moet homself nou eerlik afvra wat die beste internasionale praktyk is wat eiendomsreg betref. Suksesvolle lande waarborg eiendomsreg en die oppergesag van die reg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Shakespeare

Dankie Vader in Jesus naam. U beskerm ons teen die bose.

Dries

Dank die Hemelse Vader. Daar is hard gebid hiervoor. Dankie Here

Santie

Die Here verhoor ons gebede. Amen

Jannie van Niekerk

Ek sal nie te gou opgewonde raak nie. Die ANC sal enige iets doen om twee derdes te kry. Selfs die Presidentskap vir ou Joeljas die groot vegtende nar aanbied vir sy en sy ongedissiplineerede soldate se steun

Coolbanana

Dis waarom die ANC moet uit !!!! dit sal nooit ophou terwyl hulle plunder nie