Grondoudit: Populistiese mites nou nek omgedraai

sonkol-koring-landbou

Foto: Munruthel/Pixabay.com

Die VF Plus het die onafhanklike grondoudit verwelkom, wat onder meer die populistiese mite dat wittes 80% van die grond besit weerlê.

Maroela Media het vroeër berig oor Agri SA se grondoudit wat toon dat 26,7% van landbougrond in hektaar reeds in swart Suid-Afrikaners se besit is. Die oudit het ook na die waarde en potensiaal van landbougrond gekyk, en daarvolgens is 29% en 45% onderskeidelik reeds oorgedra.

Dié oudit, wat fokus op die transaksie van landbougrond tussen 1994 en 2016, is Woensdagoggend by Agri SA se kantoor in Centurion bekendgemaak.

Volgens Dan Kriek, president van Agri SA, was die afwesigheid van ʼn nasionale grondoudit nog al die jare ʼn “olifant in die vertrek”. In die afwesigheid van feite het die debat oor grond grootliks ontaard met talle radikale uitsprake rondom dit.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die party, het gesê hy wag nou vir ʼn verslag van Gugile Nkwinti, die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, oor die amptelike nasionale grondoudit. “Dit behoort interessant te wees om te sien hoe dit vergelyk. Wat hierdie oudit veral waardevol maak, is die feit dat die staat se oudit nou hieraan gemeet kan word om sodoende te verseker dat die ware feite rondom grondbesit op die tafel geplaas word.”

Die regering se teiken volgens die Nasionale Ontwikkelingsplan was om 30% van landbougrond teen 2014 oor te dra na swart besit. Die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (Bureau for Food and Agricultural Policy), ʼn niewinsgewende navorsingsliggaam, het in Augustus vanjaar gesê hulle reken meer as 20%, of 18 miljoen hektaar landbougrond, is reeds oorgedra of finansiële vergoeding is daarvoor ontvang.

Luidens BusinessLive het dié navorsingsliggaam gesê daar is kommer dat grondhervorming nie suksesvol is nie, maar daar is ook min konsensus oor wat as suksesvolle grondhervorming beskou kan word.

Verder kan die sukses volgens die navorsingsliggaam nie net gemeet word aan die hoeveelheid grond wat oorgedra word nie. Dit moet ook gemeet word aan die prestasie van die grond in terme van produksie, en of dit gebruik word om werkgeleenthede en welvaart vir die begunstigdes te skep.

kalf-bees-plaas-landbou

Foto: Pixabay.com

Produktiwiteit

Daar word wyd gespekuleer dat tussen 70% en 90% van die grondhervormingsprojekte misluk het of sukkel sonder die nodige ondersteuning.

Kriek het gesê die oordrag van grond moet in die eerste plek met die oordrag van eienaarskap gepaardgaan om suksesvol te wees. Hy beweer dat min nuwe grondeienaars sedert 2002 eienaarskap kry van die grond wat aan hulle oorgedra word.

“Ek dink hierdie is een van die areas waar ons saam met die staat moet werk, en gaan bepaal hoe produktief is daardie grond.

“Dan is daar die persepsie dat die grond wat deur private transaksies oorgedra is meer produktief is, maar ek dink daar moet eers meer navorsing gedoen word voordat sulke soort stellings gemaak word,” het Kriek bygevoeg.

grondoudit-2017-11-01

Dan Kriek, president van Agri SA. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Werklike syfers

Johann Bornman is die ekonoom wat die omvattende oudit van stapel gestuur het en dit is met die hulp van Agri SA, Agri Develompent Solutions (ADS) en Landbouweekblad voltooi.

Bornman het gesê die ras van die nuwe grondeienaars is bepaal deur na name te kyk. Hy het erken daar kan foute insluip met name, maar glo die foute sal daartoe lei dat swart eienaarskap onderskat word en nie oorskat nie.

Voorts was dit ook baie moeilik vir die navorsers om die eienaarskap van maatskappye en trusts te bepaal. Die navorsers reken ook veral politici sal verkies om landbougrond in trusts te registreer.

Die landbou-organisasie is egter van mening daar is konserwatief met die syfers in die oudit gewerk, wat beteken selfs meer grond is in swart besit as wat hulle tans aangedui het.

Geld versus land

In die argument teen ʼn meer radikale grondhervormingbeleid word daar dikwels gesê mense verkies finansiële kompensasie bo grond.

Kriek het gesê die stelling word in die grondoudit aangespreek, maar dit kom dikwels voor tydens grondrestitusiesake waar eisers wel dikwels verkies om die geld te neem.

“Ek dink egter mense besef ʼn boerdery is deesdae ʼn sakeondermening en hulle weet hulle beskik nie oor die vaardighede om dit te doen nie, daarom neem hulle eerder die geld. Die grond eindig in dié geval dan outomaties terug in die hande van die regering.”

“Sommige van hierdie grondeise word ook op stedelike en nasionale parke se grond ingestel, wat dan beteken die eisers sal eerder finansiële vergoeding ontvang,” het Hamlet Hlomendlini, senior ekonoom van Agri SA, gesê.

Volgens Anim van Wyk, redakteur van Africa Check, het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ook in ʼn verslag bevind dat mense wat in 1997 ʼn grondeis ingestel het steeds op ’n beslissing hieroor wag en dan in baie gevalle verkies om die finansiële vergoeding te neem om die saak net afgehandel te kry.

jong-boere-graan-landbou-plaas-pixabay

Foto: Pixabay.com

Kommer oor afname in landbougrond

Kriek het gesê ʼn syfer wat in die grondoudit in die toekoms fyn dopgehou moet word, is die 4%-afname van landbougrond die afgelope 23 jaar.

“Die daling kan toegeskryf word aan stedelike uitbreiding en mynbou. In hierdie stadium is dit dalk nie só ’n groot daling nie, solank hierdie tendens nie voortgaan nie.”

Kenners reken dat Suid-Afrikaanse boere teen 2035 vir sowat 80 miljoen mense sal moet voedsel produseer.

“Indien die tendens van meer prospekteerregte, mynbou en skaliegasontginning voortgaan, moet hierdie syfers ons egter begin bekommerd maak,” het Kriek gesê.

Kriek en sy span meen die hele oostelike streek van Suider-Afrika, wat uit hoëpotensiaal-landbougrond bestaan, moet onder suksesvolle produksie geplaas word om voedselsekerheid in die toekoms te verseker.

“Suid-Afrika produseer tans 40% van die gebied se voedsel en as ons plaaslike besproeiingskemas aan die gang kan kry met belegging, kan dit dadelik help om produksie te vermeerder.”

Hy reken ook tegnologie kan ʼn groot rol speel om produksie in die landboubedryf selfs verder te verhoog, terwyl wanvoeding en vermorsing in die waardeketting aangespreek moet word.

Minister Gugile Nkwinti. Foto: GovernmentZA/Flickr

Sal die regering die syfers glo?

Tog wonder talle gewone Suid-Afrikaners of die regering die syfers in die grondoudit sal glo en of die oudit nie net in nog ʼn politieke speelbal sal ontaard nie.

“Ons sit die syfers in alle nederigheid op die tafel, maar dit is syfers waarin ons glo. 450 000 akte-transaksies is ontleed en die onafhanklike ouditfirma, Nkonke, het dit geverifieer. Agri SA wil graag ʼn gesprek met die minister hê en help om oplossings te soek – die debat is nou oopgestel.

“Ek dink die oudit bewys dat Suid-Afrika nie die radikale roete hoef te volg met grondhervorming nie. Die syfers wys daar was veel meer vordering as wat aanvanklik geglo is en met ʼn vennootskapsbenadering met die regering en beleggers kan ons selfs meer sukses behaal,” het Kriek gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Hendrik ·

Ek stem saam met die laaste opskrif. Gaan die regering die syfers glo en indien nie, wat dan…..?

Faff ·

26.7 % van alle landbou grond behoort aan nie -wittes. nou aan wie behoort die ander 73.3% .

kan die totale asb afgebreek word.

John ·

Dit gaan nie oor %’s en wat vrugbaar is wat waar of onwaar is nie, Afrika wil gryp en die grootste en mooiste is vir die sluwes en sterkstes… Onderhandel? Nee. Die boere sal moet besin oor hoe hulle hierdie geveg gaan benader veral nadat die pres-kandidate aangedui het hulle is nog nie klaar met die rewolusie nie. Die terroriste is reeds aan die opmars en klop nie eens voor hulle die plaashuise betree nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.