Grondoudit-verslag: ‘Regering wil publiek om die bos lei’

landbou-mielies-pexels

Foto: Pexels/Pixabay.com

Die gesloer van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming om die jongste grondouditverslag van die regering openbaar te maak, is ʼn slenter om sekere feite van die publiek te weerhou in ʼn poging om die land oor die aangeleentheid te mislei. Só sê Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Volgens Groenewald dui uitgelekte inligting van die verslag in die media op ʼn hele aantal ernstige feitefoute.

“Een voorbeeld is waar die verslag glo aandui dat Suid-Afrika 112,9 miljoen hektaar landbougrond het, terwyl navorsing van 2016 deur kundiges soos Agri Development Solutions (ADS) in samewerking met Landbouweekblad en Agri SA toon dat daar slegs 93,25 miljoen hektaar landbougrond is.

“Volgens prof. Ruth Hall van die Instituut vir Armoede, Grond en Agrariese Studies (Plaas) toon die verslag van die regering dat plagiaat gepleeg is uit ʼn ou VN-verslag.”

“Dit is duidelik dat die regering en die ANC die publiek wil mislei oor die grondkwessie. Die regering weet dit is blote propaganda dat 80% van grond in Suid-Afrika deur wittes besit word.

Die VF Plus meen die regering dryf sy eie politieke agenda om regverdiging te kry vir sy standpunt van grondonteiening sonder vergoeding “terwyl hy weet grondhervorming het misluk weens korrupsie en die onvermoë van die departement om die proses te bestuur.”

Die VF Plus het die minister versoek om die volledige verslag openbaar te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karooboer ·

Die ANC onder leiding van sy Dept Landbou se spreekbuis, maak Agri SA se grondoudit verdag deur te beweer dat hul oudit fiktief en onakkuraat is. Omdat hul opname berus op die name wat glo op die titel akte in die titel akte kantore landwyd verskyn. Soos byv; Des van Rooyen. ‘n Swartman met ‘n Afrikaanse naam en van.!
Nou wonder ek wat gaan die ANC se kriteria wees.

PJC ·

Ek dink dit sal dom wees om enigiets te glo wat hierdie ANC regering oor grond te sê het. Hulle het duidelik nog al die jare hulle eie agenda en niks gaan dit verander nie.

Rabes ·

Ek hoop net dat die persone wat hierdie berekeninge doen die gronde wat in die ou tuislande geleë is ook in berekening bring dan sal die getalle heel anders vertoon.

snoefie ·

mensesal net ernstig en winsgerig werk aan wat hulle voor betaal het. grond verniet kry, gaan hongersnood inlei.

Theresa ·

Wys die volledige huidige verslag. Lig die plagiaat uit en dagvaar. Hierdie onbevoegdhede van topleiers moet uitgewys en tot die lig gebring word. Elke keer. Met als. Sodoende kan mens hoop en bid dat ‘n suiwer, regverdige topbestuur die land lei na ware vryheid. En dis vir almal bedoel nie net vir sekeres nie. Vryheid kom deur orde en struktuur nie ‘n deurmekaar gemors van misleiding, wanbestuur en vraatsugtigheid nie.

Denise ·

Ek wil net graag weet wat wil hulle met die grond maak , want die grond wat die boere het word gebruik om vir almal kos op die tafel te sit so gan hulle ook die grond benut en voortbou op wat die boere doen produseer ???????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.