Grondtoestande belemmer reddingspoging by Kusasalethu-myn

Argieffoto

Moeilike grondtoestande belemmer die soek- en reddingspogings vir drie myners wat steeds ondergrond vasgekeer is by Harmony Gold se Kusasalethu-myn naby Carletonville.

Die bestuur van die myn, die inspektoraat van die departement van minerale hulpbronne en verteenwoordigers van die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het Sondag die gebied ondersoek waar vyf myners Vrydagoggend, 25 Augustus, vasgekeer is, het Harmony Gold in ʼn verklaring gesê.

Die myners is vasgekeer ná ʼn seismiese gebeurtenis ongeveer 3,1 km ondergrond wat ʼn rotsstorting tot gevolg gehad het. Ongeveer 3 000 myners was besig om te werk toe gedeeltes van die myn omstreeks 10:30 ineengestort het.

Maroela Media het berig dat die liggame van twee van die vasgekeerde mynwerkers reeds na die oppervlak gebring is. Hulle het ongelukkig aan noodlottige beserings beswyk.

Soek- en reddingsdienste duur voort sedert die voorval en Harmony-werknemers en spesiaal opgeleide vrywilliger reddingspanne van Harmony en ander myne in die omgewing, werk onverpoosd voort. In ʼn stadium was daar tot ses reddingspanne ondergrond bedrywig.

“Die partye wat Sondag aan die inspeksie deelgeneem het, het gewys op die uitdagende grondtoestande wat reddingspogings veral bemoeilik. Pogings om by die oorblywende drie werknemers uit te kom sal voortduur totdat elkeen gevind is. Harmony het alle mynboubedrywighede kort ná die voorval opgeskort.

“Die families van die oorledenes en van die werknemers wat steeds vasgekeer is, is in kennis gestel en is na die myn gebring waar hulle aangedui het dat hulle graag wil kom. Hulle ontvang ondersteuning van die maatskappy in hierdie moeilike tye,” het Harmony Gold gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris Ws ·

Ek het self in daai omgewing ondergronds gewerk(Oos Driefontein) en ken die toestande daar onder.Glo my dis nag,die dat ek ondergrond werk gelos het.Net Een kubieke meter rots weeg 2,8 ton.
Maar die redding spanne (Proto Teams) word gereken as die beste in die wereld so dit gee mens hoop dat daai werkers lewend gevind kan word.Hoop net hulle het nie ernstige beserings opgedoen nie.’n Goudmyn is NIE ‘n pretpark nie,glo my.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.