Grondverslag: Buthelezi bevraagteken regering se vermoë om grond te bestuur

Mangosuthu Buthelezi. (Foto: Sibonelo Ngcobo/ANA)

Die leier van die IVP, Mangosuthu Buthelezi, het die regering se vermoë om die Ingonyama-trust se grond te bestuur bevraagteken, sou die regering die aanbevelings wat onlangs in die grondverslag gemaak is, in werking stel.

“Daar is geen rede om te glo dat die regering ʼn beter voog van die trustgrond gaan wees as sy majesteit die koning nie,” het Buthelezi gesê.

Koning Goodwill Zwelithini is die enigste trustee van die grond, wat volgens stamme verdeel word en deur ʼn groep tradisionele leiers bestuur word. Die Ingonyama-trustraad administreer die trust wat sowat 30% van die grond in landelike KwaZulu-Natal besit.

Buthelezi het gereageer op die verslag van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming wat ʼn week gelede bekendgemaak is.

Buthelezi is nie die enigste een wat bedenkinge het oor die staat se vermoë om grond te bestuur nie. Die verslag het self gelui dat die huidige grondhervormingsprogram “deurspek is van korrupsie en ondoeltreffendheid”.

Die Ingonyama-trust was maar een van vele kwessies wat in die verslag gepak is en die regering se uiteindelike besluit gaan beïnvloed om grond sonder vergoeding te onteien.

Die toekoms van die trust, wat ingevolge wetgewing tot stand gekom het, is toenemend onder skoot, veral ná ʼn hoëvlakpaneel onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe verlede jaar aanbeveel het die wet word herroep of minstens beduidend verander om bestaande tradisionele grondregte te beskerm.

Die adviespaneel het dieselfde bevind en aanbeveel dat die wet hersien of herroep word, dat voogskap van die grond dadelik aan die regering, deur middel van grondrade oorgedra moet word, en dat verblyfreg toegestaan moet word.

Die voorstelle en kritiek in Motlanthe se verslag het destyds die koning, vir Buthelezi asook baie van die koning se ondersteuners briesend gehad. Zwelithini het die verslag ʼn uitlokking en oproep tot oorlog genoem.

Die bevindings in die jongste verslag gaan na verwagting dieselfde uitwerking hê.

Zoeloe-koning Goodwill Zwelithini (Foto: ANA)

eNCA het Saterdag berig Zwelithini het aan sy volgelinge gesê dat hy nie oor die verslag geraadpleeg is nie en terugvoer daaroor by die jaarlikse rietdans in September sal gee. Hy het egter benadruk dat die grond, wat al jare lank aan Zoeloe-koninklikes behoort, nie “gevat” sal word nie.

“My gevoel is dat die adviespaneel dieselfde fout gemaak het as die hoëvlakpaneel deurdat hulle versuim het om die siening van die Ingonyama-trust se raad óf dié van die koning in ag te neem,” het Buthelezi gesê.

Hy het gesê hoewel die Grondwet tradisionele leierskap erken, wetgewing wat sedert 1994 deurgevoer is, deurlopend versuim om die rol, magte en funksies van tradisionele leiers uit te stippel.

Dit beteken tradisionele mag kan “eenkant toe geskuif word, geïgnoreer en aan voorgeskryf word wanneer dit kom by plaaslike regering”, het Buthelezi gesê.

Die adviespaneel het onder meer ook bevind die trust laat nie “demokratiese uitdrukking” van diegene wat op die grond woon toe nie.

Buthelezi het egter gesê die tradisionele gemeenskap is juis so gestruktureer om te verseker “die wil van die mense word bekend, gehoor en gerespekteer deur konsultasie, samewerking en ooreenstemming”.

Die verslag het ook bevind die trust neem die rol van grondeienaar aan deur mense se toestemming om op grond te woon in huurooreenkomste te verander en hulle dan stygende huurgeld te vra vir grond waarop hulle families al geslagte lank woon.

Hulle kan van die grond afgeskop word as hulle nie huurgeld betaal nie, het die verslag bevind.

Die paneel het bevind daar is talle voorbeelde van ʼn gebrek aan openbare verantwoordbaarheid deur die trust wat sy finansies behels, asook die instelling van huurgeld op grond wat mense reeds besit.

Buthelezi sê egter die paneel se voorstel dat die grond aan die regering oorhandig word, neem dit juis uit die hande van “die mense”.

“Wat nou gemeenskaplik besit word, sal in die geheel aan die staat behoort en gemeenskappe onteien van hulle waardevolste bate. Om die koninklike nasie se grond te vat, sal wees soos om sy siel te vat,” het Buthelezi gesê.

Regter Jerome Ngwenya, voorsitter van die trust, het gesê hy was in die buiteland toe die verslag uitgereik is en sal eers daarop kommentaar lewer wanneer hy dit kon bestudeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Chris du preez ·

Los die koning se grond dat hy dit self bestuur en hou op om hom miljoene rande in te stop

Budgie ·

Ek gaan nog springmielies koop. Die ANC ‘regering’ bied puik teater aan.

Ri na ·

Los almal se grond uit. Staat het alreeds n groot probleem ……. geld

Wonder net ·

As ek reg onthou kry die trust jaarliks R19 000 000. Dit is nie die geld vir die koning se huishouding ingereken nie.
Die trust genereer nie inkomste nie, maar nou lees ek dat die grond verhuur word. Dit is mos inkomste?
Met die enorme bedrag wat ons jaarliks gee moet daar nou al ‘n klomp geld in die trust wees om te belê met rente inkomste.
Betaal hulle ooit 1c belasting. Trusts betaal nie op ‘n glyskaal nie maar van die eerste rand af.
Oeps! Hoe kan ek so dom wees. Al die inkomste gaan seker vir administrasie koste ens. ens.

Ja nee ·

Wanneer dit die grond van blankes is, dan is dit onteining sonder vergoeding maar wanneer dit Ingonyama trust grond is, wil die Koning oorlog maak.

Willehond ·

Vat die grond! Ons kort nie nog n koning nie ons het alreeds duisende wat dink hulle is konings!

George in Bloem ·

Hmmmm………los hulle grond asb uit maar vat gerus die blanke boere se grond. Ai tog natuurlik. Hoe dan nou anders? Pleks kom die ANC spul eerder by en doen wat goed is vir die land en AL sy mense maar nou ja,wat is die kanse?

Merie Perd ·

Ek sal nogal graag die ANC se top ses en ander ministers se kwalifikasies onder oe wil neem. Waar kry n mens dit in die hande?
Waar het hulle geller om te regeer?

nabetragting ·

Al hoe meer mense sal ‘n hofsaak teen die regering steun. Mag die belastingprotes wys hoeveel mense so’n inisiatief steun. Hierdie geleentheid kan ‘n draaipunt in die chaos wees, as dit reg bestuur word.

Willem Grobler ·

As die Zoeloes ‘n koning het kan die Boere seker ‘n president hê, of hoe??

Hanna Hoekom ·

En julle dink dat die afvat (en vernietiging) van n boer se grond nie ook sy siel sal roer nie? Boer en sy grond is onlosmaaklik deel van mekaar. Hier kom groot dinges!

marco polo ·

Maar Afriforum steun dit dan dat daar nie aan die Ingonyama Trust se grond geraak word nie. Hoe dan nou?

michele ·

marco polo: Ja Afriforum steun dit. Ek ding dit is dat as hulle die Zoeloe steun en die Zoeloes behou hulle trust, dan kan die Blanke afrikaners ook onafhanklikheid grond he.

ne ·

Die mense woon daar maar is daar nie boerdery aan die gang nie. As hulle die grond produktief gebruik kan hulle mos geld maak. Die 3 rye mielies by elke kaija is nie eers genoeg vir hoenders nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.