Grondwet lei besluit oor Tafelberg-skoolgrond, sê Zille

Die ou perseel van Hoërskool Tafelberg Remediërend in Seepunt, Kaapstad (Bron: Google Maps)

Die ou perseel van Hoërskool Tafelberg Remediërend in Seepunt, Kaapstad (Bron: Google Maps)

Daar is nog geen besluit geneem oor die verkoop van die ou Tafelberg-skoolperseel in Seepunt in Kaapstad nie, het premier Helen Zille Sondag gesê.

Sy het reageer op ʼn berig in die City Press dat die eiendomsbelange van ʼn voormalige senior beampte in die departement van openbare werke moontlik die regering kon beïnvloed wat die toekomstige gebruike van die perseel betref.

“Daar was tot dusver geen onregmatige invloed in die besluite oor die eiendom nie, en daar sal ook nie wees nie soos die proses vorder,” het Zille gesê. “Enige besluit sal gebaseer wees op ons grondwetlike en wettige verpligtinge, insluitend ʼn oorweging van die openbare terugvoer wat ons ontvang het.”

Die betrokke stuk grond was vroeër die tuiste van Hoërskool Tafelberg Remediërend voor dit in 2010 na ʼn nuwe perseel in Bothasig geskuif het. Die skoolgeboue in Seepunt het leeg gestaan en van die eenhede is verhuur. Reclaim the City (RTC), ʼn groep aktiviste, het in Januarie uitgevind die grond is vir R135 miljoen aan die Phyllis Jowell Jewish Day School verkoop. Hulle poog sedertdien om dié oordrag te stop.

Die 1,7 hektaar grond, wat aan die provinsiale regering behoort, was aanvanklik vir laekostebehuising geoormerk. Die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings het in 2013 gesê die perseel sal as laekostebehuising ontwikkel word. RTC meen die ideaal sal wees om minstens 200 bekostigbare huise te bou waar die huurgeld tussen R700 en R2 250 per eenheid sou wees. Die provinsiale regering het egter ʼn hofaansoek van dié groep aktiviste teengestaan.

Die ou Hoërskool Tafelberg Remediërend se geboue staan leeg in Seepunt (2014) (Foto: Discott - Eie werk, via Wikimedia Commons)

Die ou Hoërskool Tafelberg Remediërend se geboue staan leeg in Seepunt (2014) (Foto: Discott – Eie werk, via Wikimedia Commons)

“Ons het ʼn regverdige en deursigtige proses gevolg, tot so mate dat ons weer openbare deelname beskikbaar gemaak het toe ʼn lid van die publiek gesê het sy het nog nie die geleentheid gehad om kommentaar te lewer nie. Ek volg deurgaans regsadvies in ingewikkelde regeringsprosesse, en hierdie een is nie anders nie,” het Zille bygevoeg.

Sy het gesê die provinsiale uitvoerende raad sal ʼn besluit neem oor die eiendom sodra al die ongeveer 5 000 kommentare regverdig oorweeg is, in ooreenstemming met die Grondwet en ander toepaslike wette. Al die regsadvies wat in elke stadium van die proses ontvang is, sal ook aan die raad beskikbaar gemaak word.

Zille het gesê die betrokke beampte was nie betrokke nie, of werksaam by die departement van vervoer en openbare werke nie toe die besluit geneem is om die eiendom by die provinsiale herlewingsmandaat in te sluit, of betrokke tydens die departement se aanvanklike voorstel oor die verkoop van die perseel aan die provinsiale uitvoerende raad nie. “Hierdie besluite het gevolg voor of ná die beampte by die departement werksaam was.”

Sy het benadruk die beampte is ook nie op enige manier betrokke by die huidige proses nie. “Volgens sy bestaande indiensnemingsvoorwaardes, is sy enigste rol om die verskaffing van ʼn groot bekostigbare behuisingsprojek by die perseel van die ou Conradie-hospitaal te koördineer. Sy kundigheid het ʼn beduidende en positiewe impak op dié projek.”

Zille het gesê die provinsie en die stad het goeie vordering gemaak wat bekostigbare behuisingsontwikkeling in Kaapstad se middestad betref. Een van die vlagskipprojekte was die Better Living Model op die voormalige Conradie-hospitaal se perseel in Pinelands. Dié ontwikkeling bied meer as 3 500 wooneenhede, groen openbare ruimtes, vervoerinfrastruktuur en skole.

Die stad het ook onlangs planne aangekondig om die strandfront van die middestad te ontwikkel, wat bekostigbare behuising sal bied. Die stad het reeds met die proses begin waar belanghebbendes voorstelle kan indien.

“Ons is toegewyd tot ons behuisingsmandaat, soos die Grondwet bepaal. Die ekonomiese sukses en poste wat in Kaapstad se middestad geskep word, het gelei tot ʼn groter aanvraag vir goed geleë, bekostigbare behuising. Die oplossings wat ons volg is uniek in Suid-Afrika, met die vermoë om ʼn ware impak te hê op ruimtelike beplanning in die stad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Berhalet Beukes ·

Van al die oop stukke grond sal hierdie een nou juis perfek vir lae koste behuising wees? Ja, bring maar die kriminele elemente in die woonbuurte in, hier in Pretoria sien ons alreeds hoe dit gaan. Misdaad styg teen ‘n skokkende tempo maar beter weet sal die regering beter weet want dit is mos nou die doel! Om ons te besteel en uit te moor!

Ampie ·

Ek weet nou nie of daar korrupsie iewers betrokke is nie, maar dis logies dat die stadsraad grond vir R135 miljoen sal verkoop voor hulle 200 “laekoste behuising” eenhede bou en hoop om R700 per eenheid vir huur te ontvang. Soms is hierdie “aktiviste” se gevegte so absurd dat jy net hardop kan lag.

Jan maak n Plan ·

Wat is nou belangriker – kinders wat skool moet gaan – of mense wat moet huise kry. Daar is mos nog genoeg ander grond om nog baie meer as 200 huise op te kan bou. Met die R135mijoen rand kan die stadsraad seker meer as 200 huise elders bou of hoe.

Johann ·

Aktiviste? Rerig? Bloot geen perspektief op die groter prenkie nie. Eie selfsugtige absurdhede enigste fokus. Assof Kaapststad nie reeds beroof word van sy Wereld klas status deur ge”plakte” plakkerskampe om die stad nie? Kyk mooi: deel van die ANC en trawante se strategie om mense af te dwing op funksionele gemeenskappe ten einde onstabiliteit en ongure omgewings te skep…

Sara ·

Ja Zuma se mos die Wes-Kaap is nog die enigste provinsie wat “bevry” moet word. Wonder waarheen die mense wat in die ander provinsied vlug wat honger is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.