Grondwet waarborg elke burger se reg op ʼn kultuur-erfenis

Suid-Afrikaanse vlag (Foto: Self – Self-photographed via Wikimedia Commons)

Die aanhef tot Suid-Afrika se Grondwet lui onder meer dat die land aan almal behoort wat daarin woon, verenig in hul verskeidenheid. Dit waarborg daarom elkeen wat in die land woon, se reg op ʼn kultuur-erfenis.

“Dit beteken dat erkenning gegee moet word aan verskeidenheid van tale, kulture en herkomste van elke groep in die land; wit, bruin, Indiër en die onderskeie swart bevolkingsgroepe,” sê Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. “Slegs deur die erkenning en respektering van hierdie diversiteit kan mense verenig word soos die strewe daarna wat in die aanhef van die Grondwet uitgespreek word.”

Erfenisdag erken hierdie diversiteit, maar die realiteit is dat die ANC nie uitvoering daaraan gee nie, meen Groenewald. “Die ANC-regering misken die diversiteit van die mense van Suid-Afrika en daarom kan daar nie sprake wees van vereniging in verskeidenheid nie.”

Dit manifesteer in beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), regstellende aksie (RA) wat die ekonomie aftakel en lei tot werkloosheid en talryke ander maatskaplike probleme wat eerder verdeel as verenig.

Die regering moet daadwerklik gehoor en uitvoering gee aan die Grondwet se strewe na vereniging in verskeidenheid, voeg hy by.

“Die Afrikaner het sedert die volksplanting gewys dat hy ʼn bouer is. Ook hier meld die Grondwet dat daar respek moet wees vir diegene wat hul beywer het om die land ‘op te bou en te ontwikkel’. Suid-Afrika is inderdaad opgebou tot ʼn kernmoondheid in die wêreld en ʼn gesogte beleggingsland. Die ANC het hierdie opbouproses wat oor eeue gestrek het, in minder as drie dekades tot só ʼn mate vernietig dat beleggers nou hul rug op die land draai.”

Groenewald sê dit is wel ook belangrik dat mense self hul erfenis koester en bewaar. “Erfenis is ʼn onlosmaaklike deel van enige volk se voortbestaan. Wanneer ʼn volk se erfenis vernietig word, word die volk ook vernietig. Die VF Plus doen daarom ʼn beroep op die Afrikaner en ander volke in die land om met trots hul kultuur te beoefen en erkenning en waardering te hê vir dié van ander.

“Die wenresep in Suid-Afrika is daarom om almal in die land se diversiteit te erken. Dit sal mense verenig tot voordeel en vooruitgang van die land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dries ·

Dit is n edele roeping maar dit is wensdenkery solank n komunistiese party die land regeer

Jr ·

Erfenis dag vir my SHOPPING MALL DAG OF BRAAI DAG, niks anderste. My taal, erfines is afgebreek vir 27 jaar nou. Voel niks vir dit.

Jannie van Niekerk ·

Kukltuurerfenis bestaan nie want as ek in ‘n sekere kultuur nie met ander kulture of tale wil deel of meng nie, word ek ‘n rassis genoem. (Hier praat ek nie spesifiek net van swart mense nie, maar ook van Chinese en Oos Europeërs) Neem bv Orania se suskesverhaal, elke ANC, EFF en Cosatu ondersteuner is woedend oor Orania bewys het dat hulle nie ander groepe nodig het om hulle reg op vryheid van assosasie uit te oefen nie. Net so terloops, ek het saam met die Tswana mense groot geword en praat ook Sestswana wat my tweede taal is. (Engels praat net uit selfverdediging)

Marianna ·

Dit gaan oor bestaande erfenisse en kultuur in te filtreer en te vernietig sodat dit later nie meer herken kan word nie. Vernietiging is die nuwe kultuur en as jy nie daarby wil aanpas nie, is jy ‘n rassis. Hoekom moet ‘n kultuurgroep hul deure oopgooi vir ‘n ander een wat dit net gaan oorneem? Ons moet nou maar ons kultuur geniet want oor tien jaar sal daar niks oor wees nie.

Philip ·

Helen Suzman se ultra liberalisme en oppertunisme is nog baie sterk teenwoordig in die DA wat nou by kiesers met hulle sogenaamde toekoms visie smous dit word net by verskillende gehore aangepas.ASB kan die DA bestuur en ondersteuners /media ingesluit hulle weerhou om modder te gooi dit maak toekomstige samewerking baie moelik en die oppesissie bydrae verswak in die proses as n geheel tot nadeel van almal.

Dirk Mostert ·

Dis FW se NP wat die verrotting aan die gang gesit het.

Jack ·

Met n vlag wat verdeeldheid aantoon en n volkslied wat dit verder ondersteun deur verskillende tale sal hierdie land verdeeld bly omdat die nasionale simbole dit daagliks aan ons opdring. Kom ons kry n eentalige volkslied en n neutrale vlag en probeer weer na amper 30 jaar se probeer. Die nasionale party het in sy kort tyd die land omvorm in n eerste wereld land. Wat het verkeerd gegaan?

Dirk Mostert ·

Wat het verkeerd gegaan? Die NP wat deur SAP-oorlopers geinfiltreer is en sy beleid 180 grade omgeswaai het.

Dirk Mostert ·

Naamveranderings van dorpe, lughawens ensovoorts is ‘n vertrapping van ons kultuur en verdrukking deur die heersersras.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.