Grondwethof beslis in AfriForum-regsman se guns teen HETN

Willie Spies Foto: Radio Pretoria

Willie Spies Foto: Radio Pretoria

’n Regstryd van meer as twee jaar tussen die Higher Education Transformation Network (HETN) en AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies het sopas ’n hoogtepunt in die grondwethof bereik toe tien regters eenparig die HETN en sy voorsitter, Lucky Thekiso se aansoek om verlof tot appèl teen ’n vroeëre interdik teen hom, geweier het.

Die grondwethof het bevind dat die HETN en Thekiso se aansoek geen vooruitsig op sukses het nie.

Die stryd tussen Spies en die HETN het in Oktober 2012 begin toe die organisasie by monde van sy voorsitter ’n reeks lasterlike mediaverklarings uitgereik het waarin Spies as ’n rassis en geweldenaar gebrandmerk is. Spies het in Februarie 2013 ’n tussentydse interdik teen Thekiso en sy volgelinge in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria verkry. Die lasterveldtog is teen Spies begin nadat hy Thekiso in ’n verkiesing vir raadslede van die Universiteit van Pretoria (UP) geklop het.

Tydens die verrigtinge in die hooggeregshof het Thekiso en die HETN die wenkbroue laat lig omdat hulle die regter-president van Gauteng, Dunstan Mlambo in ʼn brief versoek het om die voorsittende regter, Cynthia Pretoria te verwyder, omdat sy wit is en by die UP studeer het. Hulle het later ook formeel aansoek gedoen dat sy haar moes rekuseer van die verhoor, omdat sy na hulle mening bevooroordeeld sou wees. Sy het hulle aansoek egter van die hand gewys en ’n interdik verleen teen die publikasie van hulle lasterlike bewerings ten opsigte van Spies.

Thekiso en die HETN het terselfdertyd met ’n stryd teen die universiteit en Tukkies Alumni in die gelykheidshof begin waarin hulle onder meer aanvoer het dat Thekiso nie tot die raad van die Universiteit verkies is nie weens beweerde sistemiese diskriminasie teenoor swart mense by die UP. In die verkiesing wat in September 2012 plaasgevind het, het Spies 1075 stemme op hom verenig teenoor die 95 stemme van Thekiso. Die saak in die gelykheidshof is nog hangende.

Spies het in reaksie op die grondwethof-uitspraak gesê hy is verheug oor die uitspraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Carel ·

So as jy nie genog stemme kry nie en die wit ou kry wel genoeg stemme dan is die wit ou n rasis? Sjoe verstaan nie die logika nie – en as die hof se jy is verkeerd dan is die regter nou ook sommer n rasis??

Koch waar is jy nou jong – lig jou mening (nie dat dit sal saak maak nie want ons dink jy praat net twak maar jou dnke oor rasisme is nogal snaaks – dom maar snaaks…

anet ·

Ek is baie bly om hierdie goeie nuus te kry. Baie Geluk Willie, jy is ‘n besondere mens wat glo in jouself en jou etniese waardes

CAV ·

Dis nou goeie nus inderdaad. Die boodskap moet deurkom dat as als nie na jou kant toe gaan, hulle dit op rasisme kan blameer nie. Dit sou nou nog beter wees was Tshkiso nou aangevat word oor vals beskuldigings, maar ek dink vir nou is n oorwinning darm daar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.