Grondwethof gaan sê oor geheime stemming

Lees ook:
Grondwethof lewer uitspraak oor geheime stemming

hof-hamer

Argieffoto.

Die konstitusionele hof sal Donderdag uitspraak lewer rakende die versoek dat die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma met ’n geheime stemming plaasvind.

Die United Democratic Movement (UDM) het die aansoek gebring wat deur ander opposisiepartye gesteun is.

Opposisiepartye het ná Zuma se middernagtelike kabinetskommeling waartydens Pravin Gordhan as minister van finansies gepos is, versoek dat ’n mosie van wantroue geskeduleer word. Dit sou aanvanklik op 18 April plaasgevind het.

Opposisiepartye het egter gevra dat dit uitgestel word hangende die aansoek in die konstitusionele hof dat ’n geheime stemproses toegelaat word.

Dali Mpofu, vir die UDM, het tydens die hofverrigtinge aangevoer die aansoek het niks met die skeiding van magte te doen nie. “Ons sal bewys ʼn geheime stemming kan nie net heeltemal verbied word nie. Ons sal bewys dit is buite die kwessie.” Mpofu het verder aangevoer Baleka Mbete, die speaker van die nasionale vergadering, is verplig om ʼn geheime stemming te skeduleer vir die mosie van wantroue wat deur die opposisie ingestel is.

Narend Singh, IVP-LP, het gesê sy party het al talle briewe aan Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, geskryf waarin hulle versoek het dat die mosie van wantroue met ’n geheime stemming plaasvind, maar sonder sukses.

“Die IVP het sedert 2012 die saak gedryf. As iemand ingestem word deur middel van ’n geheime stemming, moet dieselfde kan geld om hulle uit te stem. Ek dink die hof sal in ons guns beslis.”

Julius Malema, leier van die EFF, het gesê ’n geheime stemming is nou meer relevant as ooit tevore. “Mbete se weiering om ’n geheime stemming toe te laat wys weer dat sy nie die belange van die land op die hart dra nie, maar altyd haar eie politieke party voortrek.”

Volgens Malema sal daar geen rede wees om Zuma te herroep indien daar toestemming verleen word vir die geheime stemming nie. “ANC-LP’s met wie ons gesels het, het gesê hulle sal teen Zuma stem selfs al is dit nie ’n geheime stemming nie, so kan jy dink wat sal gebeur indien ons wel toestemming kry vir ’n geheime stemming?”

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het gesê hy voel geregverdig nadat Marumo Moerane en Ishmael Semenya, Mbete en Zuma se regsverteenwoordigers, glo toegegee het dat die speaker die verantwoordelikheid het om ’n geheime stemming toe te laat.

Daar is tydens die aanhoor van die saak spesifiek gefokus op die skeiding van magte en of die hoogste hof in die land die prerogatief het om Mbete te versoek om die geheime stemming te skeduleer.

Uitspraak word om 10:00 gelewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nettie ·

Almal kan spoeg, spring, skreeu, dans, huil en tjank soveel hulle wil. In my opinie is al hierdie heen-en-weef hof-toe hardlopery met allerlei sake teen die ANC en/of Zuma ‘n vermorsing van tyd, energie en geld. “So much for democracy in the new South Africa” sê ek. Zuma het gekom om te bly, al is dit nie noodwendig in die vorm van Jacob Zuma nie, sal dit vir die afsienbare toekoms wees in die vorm van sy eks-vrou as die eerste vroulike president van die land, of die voortsetting van die Guptas se invloed en baie vingers in verskeie staatspartye, of die voorsetting van ANC-korrupsie. Mandela se nalatenskap was vrede en voorspoed vir almal. Zuma s’n is korrupsie en self-verryking.

Alida ·

Hopenlik besef die Regters wat die besluit moet neem dat ‘n geheime stemming die enigste manier is om van die no een skelm ontslae te raak en ons land te red. Hy, die speaker en die OB moet almal sommer waai sodat die Rand weer bietjie waarde kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.