Grondwethof gevra om wetlikheid van pakslae te hersien

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Die konstitusionele hof sal Donderdag ʼn aansoek aanhoor waarin versoek word dat ʼn hooggeregshofuitspraak van verlede jaar waarin beslis is dat lyfstraf in private huishoudings onwettig is, ter syde gestel word.

Die aansoek is gebring deur FOR SA (Vryheid tot Godsdiens in Suid-Afrika). Die organisasie sê dié uitspraak deur die hooggeregshof in Johannesburg beteken in effek alle vorme van lyfstraf vir kinders deur hul ouers, ongeag met watter goeie bedoelings dit toegedien word, is onwettig.

“Hierdie uitspraak sal misdadigers maak van goedbedoelende ouers wat lief is vir hul kinders en net die beste vir hulle wil hê,” sê Daniela Ellerbeck, regsverteenwoordiger vir FOR SA.

Maroela Media het vroeër berig die uitspraak is gelewer in ʼn saak teen ʼn Moslem-pa wat sy seun tuis geslaan het omdat hy na bewering na pornografie gekyk het. Die man is skuldig bevind op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy het appèl aangeteken teen die skuldigbevinding en die kwessie van “redelike tugtiging” van ʼn kind by die huis het tydens die appèl onder die vergrootglas gekom.

Regter Raylene Keightley het egter bevind “die gemenereg-verdediging van redelike tugtiging is ongrondwetlik en is nie meer van toepassing in ons wetgewing nie”. Keightley het in die hofuitspraak gesê lyfstraf is nie net onwettig in skole en private huishoudings nie, maar kan ook nie op grond van geloofsoortuiging geregverdig word nie.

Ellerbeck sê dié uitspraak het in wese tot gevolg dat indien ʼn ouer hul kind net ʼn ligte klap op die gewrig gee, die ouer in hegtenis geneem, vervolg en skuldig bevind kan word. “Behalwe dat die ouer ʼn lewenslange kriminele rekord sal hê vir die mishandeling van sy eie kinders, sal die kinders uit die ouerhuis verwyder word oor ʼn nietige, onskadelike klap. ʼn Mens kan jou net indink watter skade dit aan families in Suid-Afrika sal doen,” het sy verduidelik.

Volgens Ellerbeck is FOR SA ten sterkste gekant teen enige vorm van geweld teen kinders, maar moet daar ʼn duidelike onderskeid getref word teen geweld en mishandeling, en ligte, onskadelike lyfstraf. “Vir miljoene Suid-Afrikaners wat glo dat die heilige teks lyfstraf toelaat – indien nie selfs voorskryf nie – is fisiese tugtiging van hul kinders, waar nodig, in die beste belang van hul kinders.”

Regter Keightley het verlede jaar in haar uitspraak beklemtoon dat die doel nie is om ouers van ʼn misdaad aan te kla nie, maar eerder om hulle te lei om meer positiewe en doeltreffende maniere te vind om hul kinders te dissiplineer. Ellerbeck meen egter ouers het méér ouerskap-hulpmiddels nodig om hul kinders groot te maak, nie minder nie.

“Gebaseer op uitgebreide navorsing van die Amerikaanse Kollege van Pediaters, is elke kind anders en daarom sal nie elke dissipline-taktiek doeltreffend wees vir elke kind of vir elke situasie met dieselfde kind nie. Ouers het ʼn volle reeks van nie-gewelddadige dissiplinêre opsies nodig om hul kinders te lei om hul volle potensiaal te bereik,” sê sy.

FOR SA versoek die konstitusionele hof om te bevind die hooggeregshof was verkeerd toe dit verklaar het dat “redelike en matige fisieke tugtiging” neerkom op aanranding en dat dié uitspraak met ouers se ouerlike en godsdienstige regte inmeng. “Die reg om jou kinders groot te maak volgens jou eie oortuigings en begrip, is een van die waardevolste regte wat ʼn vrye samelewing sy lede bied,” sê Ellerbeck.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Al ·

Ek kan dit beaam.
Buitendien die Bybel is die beste riglyn om te volg.

Johannes ·

As ‘n beleidende Christen het ek ‘n Goddelike opdrag gekry om my kinders met liefde op te voed en te tug – dit sluit die gee van ‘n billike pakslae in wanneer nodig.

Ware gelowiges staar nou ‘n beproewing van vuur in die gesig – gaan ons God gehoorsaam, of ‘n duiwelse, humanistiese staat?

Arak ·

As dit is hoe hierdie onbevoegde regter redeneer oor lyfstraf sal ek ernstig kyk na alle uitsprake wat sy al gemaak het. Dit is weereens ‘n geval van ‘n staat wat hom bemoei met sake wat hom nie aangaan nie. Natuurlik is ons teen mishandeling, maar dit is nie waaroor dit hier gaan nie.

Lana ·

Arak, ons moet onthou dat die regter “voorgesê” word deur die wet.
Wees kwaad vir die mense wat die wet so gaan verander het.

Jax ·

Ek het pak gekry toe ek n kind was en ek het my kinders ook pak gegee as hulle stout was. Solank dit Met liefde gedoen word.
As die regering vir ouers wil vertel hoe hulle hul kinders moet voorberei vir die lewe na skool, kan die regering maar alle kostes dra om my kinders op te voed: klere, skooldrag, skoolfonds, boeke, kos en medies. As hulle nie vereid is om dit vir elke kind in die land te betaal nie, moet hulle dan maar stilbly oor kinderopvoeding!
Ek het egter n probleem Met ouers wat hulle kinders asemloos slaan/skop – dit is nie liefde met gevoel nie! n Plat hand of houtlepel op n boud of bo-been het nog niemand skade berokken nie!

Neels ·

Die Here tugtig die wat Hy liefhet omdat Hy nie wil hê dat hulle verlore moet gaan nie. Is dit ook nie waarom ons ons kinders tugtig nie? Dit is ‘n Bybelse opdrag. Ons moet kan onderskei tussen net ouerlike opvoeding en mishandeling.

Bekommerde ouer ·

Vandat die wet ingetree het, is ons te bang om ‘n hand te lig vir ‘n raps op die boud, want ons kinders is al by die skool en kerk aangesê, dat “As Mamma of Pappa jou pakslae gee of seermaak, moet julle ons kom vertel”. Met die gevol, sit ons nou met ‘n parmantige dogtertjie. Ons het al begin hok en goed weg vat en sakgeld weg gevat en geen maats en kuier en geen tv, maar niks werk so goed soos ‘n goeie pakslae nie. As sy haar pakslae gekry het, sou ons nie nou nog probleme gehad het nie.

jaco ·

aan die skool kan jy niks doen nie, maar kom weg uit daardie kerk.

Santjie ·

Dis juis omdat kinders deesdae praat en die ouers moet luister, dat hulle so handuit ruk in die skole. Sou ons ‘n onderwyser natgooit in die klas sou ons by die skool pak kry en by die huis ook nog.

B-man ·

Streng kinders en gehoorsame ouers is aan die orde van die dag. Ek is heeltemal vir “alternatiewe strawwe”, maar partykeer kort ‘n kind ‘n goeie loesing vir die punt om in te sink. Ek kry vandag se onderwysers besonder jammer. Ouers, in die algemeen, voed nie meer tuis op nie en verwag dan van onderbetaalde, oorwerkte mense om hulle hooligans maniere te leer.

De Villiers ·

Daar is ‘n groot verskil tussen mishandeling en goed bedoelde lyfstraf, maar die regstelsel tref nie die onderskeid nie. Dis bekende nuus hoedat disrespek vir gesag deur skoliere toegeneem vandat lyfstraf in skole verban is. Daagliks word onderwysers deur ongedissiplineerde kinders geteister, en geweld onder jeugdiges het ook toegeneem. Daar hoef nie eens navorsing hieroor gedoen te word nie om dit te bewys nie, want dis ooglopend, en die media loop oor van bewyse. Selfs lyfstraf deur die polisie vir minder ernstige orderings, soos dit in die verlede was, het die gewenste uitwerking gehad.

jaco ·

1. hoeveel kinders gaan, nadat hulle by die huis geslaan is, polisiestasie toe loop om hulle ouers te gaan aankla?
2. en as ‘n kind dit nou wel doen, gaan daar noodwendig bewyse wees dat hy/sy wel geslaan is?
3. kan die ding so ver gevoer word dat ‘n blote kind ‘n hofbevel teen sy eie ouer kan kry?
4. en as ‘n enkelouer sy/haar kind slaan, skuldig bevind word en tronkstraf kry vir aanranding, wat word van die kind?

hierdie nuwe wet het seker mooi humanistiese beginsels en doelstellings, maar hoe gaan dit toegepas word? gaan dit werk?

Karolis ·

1) Baie
2) Moontlik
3) Ja
4) Hy sluit aan by ‘n weeshuis en ek bemaak my testament aan die eff.

Dries du Toit ·

Hierdie regering en howe is besig om n wig in te dryf tussen ouers en hul kinders. Tussen onderwysers en leerlinge en dan ten einde tussen geregtigheid en wanorde

Thinus ·

Hierdie is bloot kommunistiese neigings met die staat as die oppergesag. Met so ‘n onbevoegde en korrupte regering beteken dit niks goeds nie. Hulle druk hul neuse orals in, al faal hulle in alles waarvoor hulle verantwoordelik is. Nou wil die klomp sosialiste my kom se hoe ek my kind moet opvoed? Hulle kan gaan vlieg, hulle en die uitspraak het nie die reg om inbraak te maak op my huishouding nie. Wie gee hulle die reg om in te meng oor lyfstraf wanneer nodig? Hulle moet eers hulle eie huis in orde kry voordat hulle wil baas speel.

Raadop ouer ·

Ek self het n dogtertjie van 8jaar oud wat net so parmantig en pleinweg stout is en niks help nie. Nie eers n goeie pakslae nie! En die pakslae was nie om aan te rand nie maar die boudjies was blou! Net soos bekommerde ouer doen ons al daai dinge selfs met n pakslae so nou en dan wat dan uiters nodig is maar steeds help dit nie! Ek is bly vir die ouers wat n pakslae gee en die kind dan luister of dit nie weer doen nie, ek sou wat gee om net 1 dag n rustige dag te he….:( dan se mense vir my sy moet rittelin begin gebruik, sys ADHD maar is dit nie medikasie wat dan lewenslank gebruik moet word nie?

Mossie ·

Raadop ouer.
Daar is baie toetse wat gedoen kan word om vas te stel of jou dogtertjie wel ADHD is. Indien wel, is medikasie soos rittelin of concerta glad nie die euwel wat oningeligte persone dit wil uitmaak nie. Het dieselfde met my seun 11jr terug gehad, jy kon straf op enige denkbare wyse, niks wou werk nie. Die hartseer is dat jou dogter bitter graag wil luister en jou goedkeuring wegdra, maar sy weet nie hoe om dit te doen nie bloot omdat daar n chemiese kortsluiting in die breintjie plaasvind wat dan deur die regte medikasie reggestel kan word. Bg medikasie is nie verslawend nie en in baie gevalle nie lewenslank nodig nie, dit werk ook binne 12 ure uit jou sisteem na inname. Laat toets jou kind, want om heeldag en aldag groot te word met straf hier en straf daar, gaan vir jou kind baie ongelukkige en opstandige grootword jare besorg.

julius ·

Vergeet van die kommunistiesse wette en doen wat die Bybel van jou verwag en tugtig jou kinders as hulle stout is. Jy gaan op die einde sit met ongehoorsame kinders as jy hulle nie reg opvoed nie.

ctd ·

Ek verstaan een ding nie . Hoe kan jy jou kind slaan (pyn toedien ) en nog steeds se jy is lief vir jou kind.Dit kan n kind net afbreek. Daar is ander maniere om jou kind te dissiplieneer sonder om die kind te slaan . Pakslae is vir ouers wat net n maklike uitweg soek. Dink n bietjie verder ,gee jou kind n bietjie meer aandag en speel saam met jou kinders , sing saam met hulle , deon waarvan die kind hou saam met jou kind dit werk.

Elize ·

@ctd. Jou kinders het seker wit vlerkies en die saint kringetjie bokant die kop! ‘n Ordentlike pakslae het niemand nog ooit doodgemaak nie en die bloedjies het maniere gehad. Wat is jou beroep?

vramaarnet ·

Liewe ou ctd, jy moet seker n huis mamma wees wat glo in baie praat en , nou kom ek gee jou n dag in my lewe, tiener van 17 en 12 jarige staan op in oggend gee koffie I die bed maak huis skoon terwyl hulle kla maak , ek gaan trek aan en maak klaar vir werk laai hulle af, werk tot half 5 dan laai ek klein boet op by naskool ry gaan doen wat nodig is in dorp, kom by huis dan begin die vrae wat eet ons????nou ja dan begin ons kos maak en ek begin kyk of klein boet sy lui guit laat staan het en dalk iets gedoen het omtrent huis werk, 17 jarige slaan deur toe en laat jou verstaan y ken sy werk, man soek aandag en kinders vra hoelank nog…nou kyk na n dag saam nuwe suid Afrika is klaar kort van draad….en almal eet kinder bad ek kry kans om gou te gaan bad koue water want almal stort mos in 80liter …so is dit half 9 en kinders bed toe so as ek nou vir jou se did bed tyd of jy tantrim of gooi floer moer dan gaan ek jou wiks…want dit werk…om te praat lei tot ongemanierde kinders so ja ek slaan en sal slaan oor hulle ore moet oop!

jaco ·

Dan gaan ek nou begin tik gebruik saam met my kind, want hy hou daarvan.

ctd ·

Elize ons het een dogter en sy is 10 jaar oud sy hou baie van sing, swem en met die honde te speel na skool. Sy is nie n engeltjie nie maar om aan haar te gaan slaan oor n fout of slegte punt vir n toets gaan niks reg maak nie dit gaan haar net afbreek waaraan sy so hard werk. Daar is beter maniere om jou kind te help om nie weer te oorrtee nie . Ek het baie pakslae gekry op skool en by die huis . Sekere kinders oorleef dit maar sekere kinders word gebreek en is dan stukkend. So ek sal eerder versigtig wees oor net slaan en straf op n ander manier toedien.

Dries du Toit ·

Ctd. Jy is gelukkig. Die feit is dat daar wel kinders is wat van nature met min of geen pak deur die lewe kan gaan maar daar is wel baie wat (met die tong in die kies) meer pakslae as kos nodig het en somtyds smeek vir n pak slae

Mossie ·

Kinders verskil, ek stem met jou daar saam, maar n pakslae werk vinniger uit as kwetsende woorde of n teleurstellende kyk. Dit bly lewenslank met jou en beinvloed jou menswees net so erg! Ek was 5 toe my pa my die laaste keer gewiks het met die plathand, maar ek sou eerder dit meer verkies het as die koue skouer wanneer iets verkeerd geloop het. Tog ten spyte van pakslae of geestelike afbreuking, het ek die wereld se respek vir my ouers. Ek steur my ook nie aan wetgewing wat lyfstraf betref nie, 2 tiener seuns is nie n grap nie of jy nou werk of by die “huis sit en niks doen nie”. Wat my seuns betref volg ons, ons Bybel se riglyne en wette en raai wat ons kry daagliks komplimente oor ons seuns se mooi maniere. Terloops, daar skort niks met beide seuns se selfbeeld nie.

Pa lief vir sy seuns ·

N pakslae was en sal nooit die antwoord wees nie maar is die middel tot die antwoord. Daar is n verskil tussen iets wat verkeerd gedoen word en ongehoorsaamheid. Die Here tugtig selfs Sy eie sodat gehoorsaamheid bevorder kan word. My kinders kry pakslae omdat hulle ongehoorsaam is en leer hulle dat ongehoorsaamheid het gevolge wat nie lekker is nie. Hoe ouer hulle word hoe meer begin ander strawwe ook in werking kom maar wanneer hulle klein en jonk is het hulle nie n benul van sakgeld wat weggeneem word nie. Volg Bybelse riglyne en jy kry maksimum uit n kind. Keer terug na dit wat die Here vir ons gegee het en volg dit met vreugde en blydskap en jy sal sien hoe jy kan liefhê self al moet daar pakslae gegee word. Die Here tugtig dié wat Hy liefhet.

KRD ·

Ek het van die begin af gesien dat die wetgewing moeilikheid gaan veroorsaak. Ek het as kind my “fair share” van pakslae gekry, (elke een was nodig, al het ek nie op daardie stadium so gedink nie) en ek LEWE NOGSTEEDS. In die Bybel staan, buig die boompie terwyl hy nog klein is. Die straf daarvoor is baie sleg, maar ten minste weet ek dat ek tot die beste van my vermoë my kind groot maak en die regte dissipline toe pas.

Piet ·

Louw het altyd gesê , maak die sitvlak warm dan smelt die was in die ore.

Domvraag ·

Nee Lana jy slaan die bal hopeloos mis. Hierdie regter moet die wet kan intepreteer en instaat wees om onderskeid te kan tref tussen tug en aanranding. Hierdie herinner aan die Oscar geval waar die regter nie instaat was om die wetsbepalings reg te kon intepreteer nie.

Philip ·

Dis van hierdie wieliewalie “praat net met die kinders” tipe opvoeding dat hulle nou al aanvaar, dat dit reg is om, ouers en onderwysers, te beledig en selfs fisies aan te val. Hulle weet mos daars geen nagevolge nie. Hoe anders!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.