Grondwethof gevra om wetlikheid van pakslae te hersien

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Die konstitusionele hof sal Donderdag ʼn aansoek aanhoor waarin versoek word dat ʼn hooggeregshofuitspraak van verlede jaar waarin beslis is dat lyfstraf in private huishoudings onwettig is, ter syde gestel word.

Die aansoek is gebring deur FOR SA (Vryheid tot Godsdiens in Suid-Afrika). Die organisasie sê dié uitspraak deur die hooggeregshof in Johannesburg beteken in effek alle vorme van lyfstraf vir kinders deur hul ouers, ongeag met watter goeie bedoelings dit toegedien word, is onwettig.

“Hierdie uitspraak sal misdadigers maak van goedbedoelende ouers wat lief is vir hul kinders en net die beste vir hulle wil hê,” sê Daniela Ellerbeck, regsverteenwoordiger vir FOR SA.

Maroela Media het vroeër berig die uitspraak is gelewer in ʼn saak teen ʼn Moslem-pa wat sy seun tuis geslaan het omdat hy na bewering na pornografie gekyk het. Die man is skuldig bevind op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy het appèl aangeteken teen die skuldigbevinding en die kwessie van “redelike tugtiging” van ʼn kind by die huis het tydens die appèl onder die vergrootglas gekom.

Regter Raylene Keightley het egter bevind “die gemenereg-verdediging van redelike tugtiging is ongrondwetlik en is nie meer van toepassing in ons wetgewing nie”. Keightley het in die hofuitspraak gesê lyfstraf is nie net onwettig in skole en private huishoudings nie, maar kan ook nie op grond van geloofsoortuiging geregverdig word nie.

Ellerbeck sê dié uitspraak het in wese tot gevolg dat indien ʼn ouer hul kind net ʼn ligte klap op die gewrig gee, die ouer in hegtenis geneem, vervolg en skuldig bevind kan word. “Behalwe dat die ouer ʼn lewenslange kriminele rekord sal hê vir die mishandeling van sy eie kinders, sal die kinders uit die ouerhuis verwyder word oor ʼn nietige, onskadelike klap. ʼn Mens kan jou net indink watter skade dit aan families in Suid-Afrika sal doen,” het sy verduidelik.

Volgens Ellerbeck is FOR SA ten sterkste gekant teen enige vorm van geweld teen kinders, maar moet daar ʼn duidelike onderskeid getref word teen geweld en mishandeling, en ligte, onskadelike lyfstraf. “Vir miljoene Suid-Afrikaners wat glo dat die heilige teks lyfstraf toelaat – indien nie selfs voorskryf nie – is fisiese tugtiging van hul kinders, waar nodig, in die beste belang van hul kinders.”

Regter Keightley het verlede jaar in haar uitspraak beklemtoon dat die doel nie is om ouers van ʼn misdaad aan te kla nie, maar eerder om hulle te lei om meer positiewe en doeltreffende maniere te vind om hul kinders te dissiplineer. Ellerbeck meen egter ouers het méér ouerskap-hulpmiddels nodig om hul kinders groot te maak, nie minder nie.

“Gebaseer op uitgebreide navorsing van die Amerikaanse Kollege van Pediaters, is elke kind anders en daarom sal nie elke dissipline-taktiek doeltreffend wees vir elke kind of vir elke situasie met dieselfde kind nie. Ouers het ʼn volle reeks van nie-gewelddadige dissiplinêre opsies nodig om hul kinders te lei om hul volle potensiaal te bereik,” sê sy.

FOR SA versoek die konstitusionele hof om te bevind die hooggeregshof was verkeerd toe dit verklaar het dat “redelike en matige fisieke tugtiging” neerkom op aanranding en dat dié uitspraak met ouers se ouerlike en godsdienstige regte inmeng. “Die reg om jou kinders groot te maak volgens jou eie oortuigings en begrip, is een van die waardevolste regte wat ʼn vrye samelewing sy lede bied,” sê Ellerbeck.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Al

Ek kan dit beaam.
Buitendien die Bybel is die beste riglyn om te volg.

Johannes

As ‘n beleidende Christen het ek ‘n Goddelike opdrag gekry om my kinders met liefde op te voed en te tug – dit sluit die gee van ‘n billike pakslae in wanneer nodig.

Ware gelowiges staar nou ‘n beproewing van vuur in die gesig – gaan ons God gehoorsaam, of ‘n duiwelse, humanistiese staat?

Arak

As dit is hoe hierdie onbevoegde regter redeneer oor lyfstraf sal ek ernstig kyk na alle uitsprake wat sy al gemaak het. Dit is weereens ‘n geval van ‘n staat wat hom bemoei met sake wat hom nie aangaan nie. Natuurlik is ons teen mishandeling, maar dit is nie waaroor dit hier gaan nie.

Jax

Ek het pak gekry toe ek n kind was en ek het my kinders ook pak gegee as hulle stout was. Solank dit Met liefde gedoen word. As die regering vir ouers wil vertel hoe hulle hul kinders moet voorberei vir die lewe na skool, kan die regering maar alle kostes dra om my kinders op te voed: klere, skooldrag, skoolfonds, boeke, kos en medies. As hulle nie vereid is om dit vir elke kind in die land te betaal nie, moet hulle dan maar stilbly oor kinderopvoeding! Ek het egter n probleem Met ouers wat hulle kinders asemloos slaan/skop… Lees meer »

Neels

Die Here tugtig die wat Hy liefhet omdat Hy nie wil hê dat hulle verlore moet gaan nie. Is dit ook nie waarom ons ons kinders tugtig nie? Dit is ‘n Bybelse opdrag. Ons moet kan onderskei tussen net ouerlike opvoeding en mishandeling.