Grondwethof lewer uitspraak teen EFF oor betreding, aanhitsing

(Foto: EFF/Twitter)

Die sakegroep Sakeliga verwelkom die uitspraak van die Grondwethof vandag, naamlik dat betreding ’n misdaad bly, in teenstelling met die aansprake van Julius Malema en die EFF. Sakeliga verwelkom ook die hof se instandhouding van Malema en ander se aanspreeklikheid vir die misdaad van aanhitsing, alhoewel beperk tot ernstige misdrywe.

Sakeliga is bly om as amicus curiae die Grondwethof te kon bystaan in hierdie saak tussen die Ekonomiese Vryheidsvegters en Julius Malema v die minister van justisie en korrektiewe dienste en ʼn ander.

“Malema en die EFF wou, deur agter die vaandel van vryheid van spraak weg te kruip, aanspreeklikheid vir kriminele oortredings ontsnap,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “Hierdie uitspraak steek daar ʼn stokkie voor, ondersteun die kantoor van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) in sy vermoë om te vervolg, versterk die regsorde, verbeter die sakeomgewing, en is in die openbare belang. Dit is bevredigend om ’n rol daarin te kon speel.”

Sakeliga het tydens die hofverrigting in Februarie 2020 geargumenteer teen die applikante se poging om belangrike dele van die Wet op Oproerige Byeenkomste (17 van 1956) en die Wet op Betreding (6 van 1959) ongeldig te laat verklaar, wat hulle vrypas sou gee om hul volgelinge tot onwettige grondbesettings aan te hits.

Die saak het gespruit uit die applikante se pogings deur die loop van jare om vervolging vir die misdaad van aanhitsing te ontsnap. Soos aangedui in hofstukke is daar verskeie soortgelyke klagtes teen Malema hangend, naamlik dat hy “onregmatig en doelbewus sy Ekonomiese Vryheidsvegter-volgelinge en/of ander aangehits, opgesteek, beveel, of ingespan het om ʼn misdaad te pleeg, in besonder: betreding … deur onwettig enige oop grond te beset …”.

Mettertyd het die NDOV besluit om Malema te vervolg. Nadat hy van die vervolging in kennis gestel is, het Malema en die EFF probeer om skuldigbevinding vry te spring deur die grondwetlikheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste en die Wet op Betreding te bevraagteken.

Vuyani Pambo, woordvoerder van die EFF, het intussen in ʼn verklaring gesê die EFF verwelkom ook die uitspraak. “Die uitspraak kom as ʼn gevolg van die EFF wat die Grondwethof genader het om te wys dat hierdie rassistiese en despotiese wet ongrondwetlik is, ná dit deur die NDOV gebruik is om die EFF-president en bevelvoerder Julius Malema te vervolg. Die ANC maak al sedert 2015 van dié ongrondwetlike en ondemokratiese wetgewing gebruik om die EFF-president te vervolg wanneer hy korrek verklaar dat ons mense die grond moet beset waar hulle dit benodig. Die Grondwethof se besluit om hierdie argaïese en ongrondwetlike rassistiese stuk wetgewing ongeldig te verklaar, beteken dat die aanklagte teen ons president nie meer kan voortgaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Zombie ·

Ek is weereens stomgeslaan oor die logika van sommiges, nadat ek gelees het wat die EFF se woordvoerder aanvoer. Is hy ń sprekende voorbeeld van die Dunning-Kruger-effek?

Gemaskerde Sopbeen ·

Soos die Engelsman sê: “the mind boggles”

Politikus ·

Dit is dieselfde gebrek aan logika wat by die huidige president van die VSA waarneembaar is wat aantygings oor verkiesingsbedrog maak sonder ‘n enkele bewys om dit te steun….ek is ook stomgeslaan en stem met jou saam Zombie

Mundus ·

Ek dink nie die DK effek is van toepassing op ‘n doelbewus misleidende uitspraak deur ‘n politikus nie.

Persheks Adri ·

Ontbind hierdie klomp EFF’ers en vat hulle vas oor die aanhitsing van geweld en haat spraak ons is moeg verby vir hulle en hulle rassistiese aanmerkings! Die hele blerrie lot moet net tsek man pffft! Hulle maak naar verby ek kan sy gesig nie meer hanteer nie

Frederik C ·

Dit wil voorkom asof Pambo trots is op sy president. Behoed my!!

Gemaskerde Sopbeen ·

Nee beslis nie. Die EFF gaan dit waarskynlik as ‘n steunpilaar gebruik (net mense na aan hulle sal verstaan) om meer betreding in die nabye toekoms te pleeg.

Pietertjie ·

Mens kan so-iets verwag van ‘n klomp wie se leier ‘n F vir houtwerk gekry het.

Dirk Mostert ·

Goed, hy is skuldig bevind. Ons wag in spanning op die vonnis.

Zombie ·

Hy kon nie skuldig bevind word nie, omdat hy nie verhoor was nie. Die grondwetlikheid van ‘n wet, was in die hof getoets en uitspraak is daaroor gelewer. Niemand is aan niks skuldig bevind nie.

Snowball ·

Hopelik een stap nader om terroriste en hulle terreurdade sodanig te kan identifiseer dat hulle vervolg kan word, al sit hulle in die parlement van SA.

Eend Bessinger ·

Hierdie outjie maak my, soos ‘n bul, rooi sien… Kwaak! Hier kom ek!

Anoniem ·

Ons Land se Regeerders is te papbroekig om teen EFF op te tree. Hulle is gewoond aan Anargie en wil SA ook in daardie rigting dwing!!!!

Herpiet ·

Dit wil vir my voorkom of die anc doelbewus die eff los met alles wat hulle kwytraak. Inherent smag hulle na n burgeroorlog. Maar hulle wil nie die aanvoerders wees nie. Daarom eff hulle vuil werk doen..

Riette ·

Kan ek dus aanneem dat Vuyani Pambo nie die uitspraak verstaan nie?

Politikus ·

Die “president” van die EFF en ‘n sekere “president” van die VSA wat sopas ‘n verkiesing daar verloor het en dit nie kan verwerk nie, is van presies die selfde stoffasie gemaak…klipkoppe

Andre ·

Ek neem aan jy praat van die een wat maak of hy verkies is.

AndrewL ·

Maroela media verwys bloot na die twee uitsprake van organisasies. Wat is die volledige uitspraak van die hof? Wat is die werklike impak daarvan?

Jakes ·

Kyk, as iemand vir Julius sy president noem dan maak baie dinge vir my sin. Dit se vir my watter kaliber mense eintlik vir die Eff stem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.