Grondwethof: ‘Rassisme regverdig nie outomaties ontslag’

Konstitusionele hof van Suid-Afrika (Foto: Stefan Schäfer, Lich – eie werk,via Wikemedia Commons)

Die konstitusionele hof het Donderdag ʼn maatskappy wat nege werknemers afgedank het oor hulle ʼn struggle-lied gesing het wat “rassisties” was, se appèl van die hand gewys.

Duncanmec, ʼn maatskappy van Germiston, het die nege werkers afgedank nadat hulle in April 2013 aan ʼn onbeskermde staking op die maatskappy se perseel deelgeneem het. Die werkers, lede van die vakbond Numsa, het tydens die staking ʼn struggle-lied gesing wat onder meer lirieke bevat wat verwys daarna “om ʼn boer leed aan te doen”.

Die werkers is daarvan aangekla dat hulle aan ʼn onbeskermde staking deelgeneem het en dat hulle hul onvanpas gedra het deur rasgebaseerde liedere te sing en op daarop te dans op ʼn aanstootlike manier terwyl hulle aan diens was.

Tydens die dissiplinêre verhore wat in Mei 2013 gehou is, is die werknemers op albei aanklagte skuldig bevind. Daar is bevind dat die sing van die betrokke lied rassisties was en dat dit afdanking regverdig het terwyl die deelname aan ʼn onbeskermde staking ʼn finale waarskuwing regverdig.

Numsa en sy lede was egter nie tevrede met die uitspraak nie en het hulle tot die bedingingsraad van die metaal- en ingenieursbedryf gewend. Die verhore is op 16 en 19 Mei 2014 gehou waarna ʼn arbiter beslis het hoewel die sing van die lied onvanpas is, veral in die konteks van ʼn werksplek, dit nie op rassisme neerkom nie.

Die arbiter het gesê daar moet onderskei word tussen die sing van die lied en om na iemand in rassistiese terme te verwys. Sy het gesê dit is ʼn struggle-lied en dat dit ʼn geskiedenis het, terwyl die sing van die lied aanstootlik kan wees en seer kan veroorsaak vir diegene wat dit hoor.

Die arbiter het nadat sy beeldmateriaal van die staking gesien het, beslis die werknemers se gedrag was nie gewelddadig nie en dat die staking “vreedsaam en van korte duur was”. Sy het ook gesê die vertrouensverhouding tussen die werkgewer en die werknemers is nie in so ʼn mate geskaad dat dit die ontslag van die werkers regverdig nie en dat hulle weer aangestel moet word.

Duncanmec het die arbeidshof genader en versoek om die besluit te hersien. Die arbeidshof het egter die arbiter gelyk gegee dat die werkers onregmatig ontslaan is en heraangestel moet word. Dié hof sowel as die arbeidsappèlhof het ook later Duncanmec se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys waarna die maatskappy die konstitusionele hof genader het.

Volgens die konstitusionele hof was daar twee kwessies in die meriete van die saak. Die eerste is of die gedrag van die werknemers in die sing van die betrokke strydlied op rassisme neerkom en die tweede kwessie is of die arbiter se uitspraak onredelik was.

Volgens die konstitusionele hof se uitspraak is die enigste woord in die lied wat na ras verwys die woord “boer”. Gegewe die konteks kan die woord na iemand verwys wat boer of ʼn wit persoon en is nie een van die betekenisse rassistiese nie, aldus die hof.

Duncanmec het egter aangevoer dat dit die konteks waarin die woord gebruik is wat die sing van die lied rassisties gemaak het. Volgens die konstitusionele hof het die arbiter nie bevind die werknemers was rassisties nie, maar dat die lied onvanpas was en aanstootlik kan wees en dat daar dus ʼn onderskeid getref is tussen die sing van die lied en die gebruik van rassistiese terme.

Die hof het ook gesê al sou die sing van die lied daarop neerkom dat rassistiese woorde geuiter is, kan ontslag nie vanselfsprekend volg nie.

“Daar is geen beginsel in ons wet wat vereis dat ontslag outomaties in die geval van rassisme gevolg word nie. Wat nodig is, is dat arbiters en howe rassisme streng moet hanteer, maar ook die oortreder regverdig moet behandel,” lui die hof se uitspraak.

Die hof het rakende die kwessie oor of die arbiter se uitspraak onredelik was, bevind dat as die redes wat aangevoer is die uitkoms rasioneel ondersteun dat inmenging met die uitspraak op grond van onredelikheid nie geregverdig is nie. Dit sou die posisie wees, selfs as die hof nie saamstem met die redes wat verstrek is nie. Artikel 33 van die Grondwet waarborg nie ʼn perfekte of korrekte administratiewe optrede nie, maar ʼn redelike een.

Volgens die hof se uitspraak het die arbiter die konteks waarin die wangedrag plaasgevind het in ag geneem. Die hof meen die arbiter het rasioneel opgetree om tot ʼn gevolgtrekking te kom en dus redelik was en dat Duncanmec se appèl om dié rede van die hand gewys is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Selfbeskikking ·

Daarom tyd vir selfbeskikking, die ANC trek ons net af.

Hennie ·

Kom ek stel dit so: As ek ‘n blanke werknemer was en daardie lied word gesing, sal ek verseker geaffronteer voel omdat ek deel van hul probleem gemaak word wat niks met die hede te make het nie. Ek sal ook voel hulle probeer daardeur druk op die bestuur plaas om op gevoel te speel en onregmatige voordeel te bekom. My verhouding met hulle sou ook daarna in heroorweging geneem word. Dan vra ek wie vat deesdae verantwoordelikheid vir goeie verhoudinge, in die werkplek en daarbuite? Antwoord … net die wit mense.

Pistor ·

@Christo, nee. Boer is nie n ras nie, boer is n werk. Die K woord is geskiedkundig n rassistiese slur, net soos die N is die VSA. Kan nie die twee vergelyk nie.

Ray ·

O my genade, daar maak hulle ‘n deur oop vir Adam, en die sing van die Stem. Hier kom ‘n ding

lewies ·

Hoe sal ons ooit weet wat die onsigbare motief (wortel) van die staking of afdanking is. ‘n Onbeskermde staking is strafbaar soos die “woord” wat in die psige van die mens gevorm word en wat gebruik is om na ras in ‘n negatiewe sin te verwys. Hulle het nie “Sarie se lappop” gesin nie.

Natan ·

MM het onlangs berig van ‘n blanke werknemer by ‘n myn wat afgedank is omdat hy die woord swartman gebruik het. Sy werkgewer en hof het aangedui dat sy afdanking regverdig is, omdat hy ‘n negatiewe konnektasie aan die woord geheg het.

Duidelik dubbele standaarde. Moet nie geld op hierdie hof sit nie of sy verwante.

Al ·

Miskien moet die blanke werknemer nou sy werk terugeis.
En al die wittes wat hul werk verloor het agv rassisme.

MS ·

Dis belaglik! Ek kan nie glo hulle kom weg met hierdie goed nie.

Louisa ·

Dan is dit heeltemal aanvaarbaar om Die Stem te sing . As hulle ‘struggle’ liedjies aanvaarbaar is dan kan die Afrikaners DIe Stem met net soveeel oorgawe sing, ongeag dat die lied ‘aanstootlik is en seer veroorsaak’

Boerseun ·

Dit is net n probleem as jy Die Stem by afrikaanse kunstefeeste sing, dan moet jy summier gebrand word op die stapels.

Hansie Slim ·

Dáar moet iets gedoen word aan hierdie dubbele standaarde. Is daar iemand wat kan raad gee?

Heidi Pretorius ·

Dis ‘n baie gevaarlike uitspraak wat dui op Apartheid style regsbank, net erger want die regters het hier wet gemaak nie net uitgevoer nie. Witmense wat Moegeng Moegeng se prys sing is eenvoudig dof. Sedert Zuma hom aagstel het het een na die ander anti wit uitspraak uitgekom.

Henk Roos ·

Dit word algaande duideliker dat die Konstitusionele Hof ook maar net ‘n ANC meeloper is; weliswaar meeloper van ‘n bepaalde faksie, maar steeds meeloper.

Edds ·

Was daar nie dan in die jaar nog ‘n blanke mynwerker afgedank omdat hy na ‘n kolega verwys het as ‘n swart man nie?

Ontnugter ·

Ja.
Uitspraak was gelewer in Mei in die saak Rustenburg Platinum Mine v SAEWA obo Bester and Others. Ek vind die 2 uitsprake teenstrydig.

Lynette ·

Nou moet elke blanke wat
al outomaties afgedank is na n rassistiese woord gaan aandring op heraanstelling. Die hof het mos gese daar is geen beginsel in ons wet wat vereis dat ontslag outomaties in die geval van rassisme gevolg word nie.

Ek verwonder.. ·

Ek gaan dit nou maar sê.Dubbele standaarde is hier om te bly en dis net die begin. Jou en my en ons nageslagte se voortbestaan is definitief nie deel van die regering se planne vorentoe nie. Die nuwe regime het kinders vir jare op skool gebreinspoel en gekondisioneer dat ons vir alles wat ooit sleg is, was of sal wees verantwoordelik is. Dus is n kultuur van haat gekweek wat nie sal weggaan nie. Dit is met opset gedoen omrede die verskillende inheemse stamme stamgebondenheid toepas. Dit veroorsaak erge onverdraagsaam teenoor mekaar wat tot konflik ly. Die regering kon dit nie bekostig nie en moes met n plan na vore kom om hulle te vereenig. Dis nou waar ek en jy inkom…die “common enemy”. Solank as wat hulle vir ons kwaad is en kwaad bly kan die regering se kaders aan bewind bly om hul eie persoonlike agendas na te jaag. Gemeet aan die geskiedenis het dit bitter min indien ooit goed geeindig vir enige minderheidsgroepe in Afrika. Baie maal in volksmoorde ontaard. Waar los dit ons? As verdrukte minderheidsgroepe kwalifiseer ons nou moontlik as sogenaamde “freedom fighters” in eie reg en die wereld se ogies is besig om stadig oop te gaan? Liberaliste en mense in ontkenning gaan een oggend wakker word in n baie realistiese nagmerrie. As huidige politiek, verswakkende ekonomie, werkloosheid, grondvergrype en groeiende misdaad syfer aanhou is totale anargie of dalk erger redelik onafwendbaar. Fight or flight ons gaan ongelukkig moet kies.

Anneli ·

“Ek Verwonder”- ek dink jy slaan die spyker op die kop. Ons leef in ‘n uiters vlambare land. Hier is baie groot gevaar. Ek verstom my net dat meeste mense salig onbewus hiervan is. Ek glo ook nie ons kan veel aan die situasie doen nie- ons is getalle gewys net te min.

Sputnik ·

Kan die maatskappy nie ontbind word en ‘n nuwe een geskep word nie? Dan is daar nie ‘n maatskappy wat hul móét aanstel nie.

Gerhard ·

Nog n bewys dat “versoening” n onrealistiese uiteinde is en nog altyd was. Die skrif is aan die muur mense. Dit is al lankal tyd vir ons eie staat en oor ons eie sake besluit.

Debbie ·

So daar is 2 stelle reëls!!! Blankes het ook ‘n geskiedenis maa word verhoed om dit ten toon te stel.

Adri van Niekerk ·

Die ANC en trawante is besig om hulle eie agterwerelde vet te smeer vir ‘n groot pakslae.
Wag maar die 200 liter drom is al in plek en wag net vir die bukslag. Hulle kaarte huis gaan induie stort

Pieter Coetzee ·

Kan geen hof uitspraak meer vertrou. Hul verander uitspraak na smaak.

Johan ·

Jammer om myself te herhaal, maar ek sal dit oor en oor skryf. Die Konstitusionele Hof is ‘n instrument in die hande van die ANC, om die blankes regmatig by te kom. Die regstelsel is die laaste uitweg vir enige persoon om teen iets te stry. Nou faal die regstelsel ook die mens (blankes) en hulle het niks om op terug te val nie. Presies wat die ANC soek.

Ek herhaal – die regters in die Konstitusionele Hof is subjektiewe narre. Al verskil tussen die Konstitusionele Hof en ‘n sirkus is die grootte van die tent.

Casper Labuschagne ·

Kom ek verduidelik hoe dit werk, dit hang alles af van aan watter kant van die straat jy afry in Rassismelaan. As dit aan die wit kant van die straat is, dan sal jy oombliklik jou werk kwyt wees vanweë rassisme, maar aan die swart kant van die straat sal jy weer oombliklike vrywaring verkry.

Lana ·

Mooi man. Al wat dié uitspraak regkry, is om rassisme lewendig te hou!!!

Afrikaanse Knaap ·

Ek gaan onthou dat rassisme nie outomatiese ontslag beteken nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.