Grondwethof sê oor Gauteng se skooltoelatingsbeleid

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se appèl, teen ʼn uitspraak van die appèlhof, is vanoggend deur die grondwethof van die hand gewys.

Hierdie uitspraak is die uiteinde van ʼn regsgeding wat reeds in 2013 deur Fedsas begin is oor die geldigheid van die Gauteng-onderwysdepartement se omstrede toelatingsregulasies vir openbare skole.

Volgens dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, beteken die grondwethof se uitspraak dat die provinsiale onderwyshoof, Edward Mosuwe, kan besluit wanneer ʼn skool in Gauteng finaal vol is. “Dit beteken byvoorbeeld ʼn enkelmedium Afrikaanse skool kan plek hê en die onderwyshoof kan besluit om die oop plek te gebruik. Die onderwyshoof gaan spreek dan die beheerliggaam van die skool en hulle moet tot ʼn vergelyk probeer kom. As hulle nie tot ʼn vergelyk kan kom nie, het die onderwyshoof die finale sê.”

Volgens Deacon kan die onderwyshoof egter nie die skool se toelatingsbeleid ignoreer nie. “Indien die onderwyshoof die finale besluit moet neem, kom dit op ʼn administratiewe besluit neer en moet die besluit regmatig, redelik en prosedureel billik wees. Die onderwyshoof kan dus nie net maak wat hy wil nie.”

Deacon het gesê hoewel hulle teleurgesteld is omdat die uitspraak nie in hul guns was nie, is die hof se uitspraak oor die omstrede 5 km-radius-reël positief. “Die reël het bepaal kinders kan slegs na ʼn skool gaan wat 5 km van hul ouers se werk- of woonadres is. Dit sou byvoorbeeld tot nadeel wees van enkelgeslagskole soos Affies. Die hof het gesê dit is nie prakties nie. Die LUR het nou wel die mag om voedingsareas te bepaal en het 12 maande vir oorlegpleging met belanghebbendes om die nuwe voedingsareas te bepaal.”

Deacon het gesê die uitspraak het minstens ook duidelikheid verskaf. “Die voedingsareas-kwessie was vir ons ʼn groot kopseer en daarom is dit ʼn verligting. Die voortdurende kopstampery oor wanneer ʼn skool vol is, is nou ook verby, aangesien die onderwyshoof die finale sê het. Hoewel dit nie heeltemal is wat ons wou hê nie, gee dit duidelikheid en is daar ʼn raamwerk om mee te werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Theuns ·

Daar gaan die vryheid van assosiasie by die agterdeur uit.Stadig aan sal die skole gerysmier word met nie Afrikaans sprekende leerlinge en dan word alles maar in engels aangebied. Kry vir jou FW en Kie.

Skatymir ·

Dit is baie goeie nuus dat die regsgeding nou tot ‘n einde is. Nou sal daar planne gemaak kan word wat inpas by die strategie soos besluit op die Toekoms Beraad – “Doen jou eie ding”. Ongelukkig leer die meeste van ons slegs deur te voel en ek hoop werklik dat hierdie ‘n draaipunt in ons geskiedenis of liewer ons toekoms sal wees.

My dogter tuiskool haar kinders al ‘n hele paar jaar met baie sukses. Inligting en kennis is nou meer beskikbaar as ooit tevore maar skole is duurder as ooit. Dit is ‘n skande dat ons kinders se opvoeding ‘n besigheid geword het, net nog ‘n bewys van die verval van ons samelewing. Die rede vir dit is die een waarde wat alle ander waardes oorgeneem het – geld! “The one ring to rule them all”.

Vir verskeie redes kan almal nie tuiskool nie, dus is ‘n goeie alternatief miniskole of “cottage schools”. ‘n Ideale plek om dit te doen is die baie kerke wat met die geld van die Afrikaanse gemeenskap gebou is en dus aan die Afrikaanse gemeenskap behoort. Dit kan suksesvol en met baie lae koste aangewend word om ons kinders ‘n plek te gee om opgevoed te word. Hulle kan selfs groente plant en ander basiese lewensvaardighede aanleer om sodoende meer selfonderhoudend te wees.

Moenie hierdie uitspraak as ‘n nederlaag sien nie maar sien dit as ‘n positiewe gebeurtenis wat ons volkie in ‘n nuwe rigting sal stuur – doen jou eie ding!

Bert ·

Lesufi is gevaarliker as Kitchener, Milner en al die ou Engelse imperialiste. Verloor ons ons skole, dan bly daar niks oor vir ons in SA nie. Om private skole te begin verswak ons: ons hulpbronne is nie onbeperk nie en die fasiliteite gaan aanvanklik minderwaardig wees teenoor wat ons nou het.

rudi ·

Jip. Opgeboude skole gaan soos universiteite verengels en dan afgebreek word. Net een oplossing en dis tax weerhou. Ons dwing selfbeskikking af. Net een probleem
Daar is te min regte Afrikaners oor en te veel DA dwase

Disselboom ·

Uitspraak deur die gerekende Adjunkhoofregter Dikgang Moseneke (sien Willie Spies se Facebook-blad) en eenparig met kollegas.

Die beginsel van sentrale inmenging in wat Fedsas as gemeenskapsbesit sien, is nou in die hoogste hof as regsbeginsel gevestig. Die openbare skole behoort aan die staat, en die staat gaan bepaal wat daar aangaan. In moderne Suid-Afrikaans: “Eish. Die hofroete, hy’s stukkend”.

Grap ·

As ek dit reg verstaan kan die hordes taxi’s wat kinders kilometers aanry na skole buite hulle gebied ook nou stop en as dit so is dink ek die plan het dalk meriete.

Ander Koos ·

Die Grondwethof sal nie teen die regering van die dag uitspraak lewer nie, meriete tel nie. Onthou Renate Barnard saak. Wies brood mens eet, wies woord mens spreek!!

Boetman ·

Eie onderwys, eie taal, eie kultuur ens. Dan dink die DA Zuma is ‘n grap! Die eintlike joker was ou FW en sy trawante met hul wigte en teenwigte.

rudi ·

Dit sluit die model C skole in waarvoor baie mense in 1992 JA gestem het. Dit beteken dat al die borge, projekte, skenkings en skoolfondse wat gebruik word om extra onderwysers en klasse te bou nou gebruik kan word om die staat se tekorte aan te vul. Die ANC het vergeet om skole te bou in Gauteng. Daar is tans meer as 50 kinders in ‘n klas in die ANC skole. Om hul foute weg te steek moet die model C skole nou hul leerlinge aanvaar.

Joann ·

Ja De Klerk het ons verkoop. Hy was te besig om ander man se vrou afterokkel dat hy nie aan al die implikasies kon dink nie. Lands verraaier.

Cobus ·

Wat my verbaas is dat die meeste Afrikaners deesdae so christelik liberaal geword het. Die meeste ondersteun willens en wetens kulturele marxisme. Hulle wil dit so hê en dit ten koste van hulle eie kinders. Die prentjie lyk presies dieselfde oorsee, so vlug gaan nie help nie.

Skatimyr ·

Cobus, jy slaan die spyker op sy kop, ek kon dit nie beter gestel het nie.

Jan ·

As ń volk sy taal en identiteit verloor het, het hy alles verloor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.