Grondwethof sê oor Gauteng se skooltoelatingsbeleid

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se appèl, teen ʼn uitspraak van die appèlhof, is vanoggend deur die grondwethof van die hand gewys.

Hierdie uitspraak is die uiteinde van ʼn regsgeding wat reeds in 2013 deur Fedsas begin is oor die geldigheid van die Gauteng-onderwysdepartement se omstrede toelatingsregulasies vir openbare skole.

Volgens dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, beteken die grondwethof se uitspraak dat die provinsiale onderwyshoof, Edward Mosuwe, kan besluit wanneer ʼn skool in Gauteng finaal vol is. “Dit beteken byvoorbeeld ʼn enkelmedium Afrikaanse skool kan plek hê en die onderwyshoof kan besluit om die oop plek te gebruik. Die onderwyshoof gaan spreek dan die beheerliggaam van die skool en hulle moet tot ʼn vergelyk probeer kom. As hulle nie tot ʼn vergelyk kan kom nie, het die onderwyshoof die finale sê.”

Volgens Deacon kan die onderwyshoof egter nie die skool se toelatingsbeleid ignoreer nie. “Indien die onderwyshoof die finale besluit moet neem, kom dit op ʼn administratiewe besluit neer en moet die besluit regmatig, redelik en prosedureel billik wees. Die onderwyshoof kan dus nie net maak wat hy wil nie.”

Deacon het gesê hoewel hulle teleurgesteld is omdat die uitspraak nie in hul guns was nie, is die hof se uitspraak oor die omstrede 5 km-radius-reël positief. “Die reël het bepaal kinders kan slegs na ʼn skool gaan wat 5 km van hul ouers se werk- of woonadres is. Dit sou byvoorbeeld tot nadeel wees van enkelgeslagskole soos Affies. Die hof het gesê dit is nie prakties nie. Die LUR het nou wel die mag om voedingsareas te bepaal en het 12 maande vir oorlegpleging met belanghebbendes om die nuwe voedingsareas te bepaal.”

Deacon het gesê die uitspraak het minstens ook duidelikheid verskaf. “Die voedingsareas-kwessie was vir ons ʼn groot kopseer en daarom is dit ʼn verligting. Die voortdurende kopstampery oor wanneer ʼn skool vol is, is nou ook verby, aangesien die onderwyshoof die finale sê het. Hoewel dit nie heeltemal is wat ons wou hê nie, gee dit duidelikheid en is daar ʼn raamwerk om mee te werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Theuns

Daar gaan die vryheid van assosiasie by die agterdeur uit.Stadig aan sal die skole gerysmier word met nie Afrikaans sprekende leerlinge en dan word alles maar in engels aangebied. Kry vir jou FW en Kie.

Skatymir

Dit is baie goeie nuus dat die regsgeding nou tot ‘n einde is. Nou sal daar planne gemaak kan word wat inpas by die strategie soos besluit op die Toekoms Beraad – “Doen jou eie ding”. Ongelukkig leer die meeste van ons slegs deur te voel en ek hoop werklik dat hierdie ‘n draaipunt in ons geskiedenis of liewer ons toekoms sal wees. My dogter tuiskool haar kinders al ‘n hele paar jaar met baie sukses. Inligting en kennis is nou meer beskikbaar as ooit tevore maar skole is duurder as ooit. Dit is ‘n skande dat ons kinders se… Lees meer »

Bert

Lesufi is gevaarliker as Kitchener, Milner en al die ou Engelse imperialiste. Verloor ons ons skole, dan bly daar niks oor vir ons in SA nie. Om private skole te begin verswak ons: ons hulpbronne is nie onbeperk nie en die fasiliteite gaan aanvanklik minderwaardig wees teenoor wat ons nou het.

Disselboom

Uitspraak deur die gerekende Adjunkhoofregter Dikgang Moseneke (sien Willie Spies se Facebook-blad) en eenparig met kollegas.

Die beginsel van sentrale inmenging in wat Fedsas as gemeenskapsbesit sien, is nou in die hoogste hof as regsbeginsel gevestig. Die openbare skole behoort aan die staat, en die staat gaan bepaal wat daar aangaan. In moderne Suid-Afrikaans: “Eish. Die hofroete, hy’s stukkend”.

Grap

As ek dit reg verstaan kan die hordes taxi’s wat kinders kilometers aanry na skole buite hulle gebied ook nou stop en as dit so is dink ek die plan het dalk meriete.