Groot afleggings by Landbounavorsingsraad dreig

(Foto: LNR/Facebook)

Die dreigende afleggings by die Landbounavorsingsraad (LNR) is nie net slegte nuus vir die meer as ʼn duisend werkers wat dalk binnekort sonder ʼn inkomste sit nie, maar hou ook ʼn bedreiging vir Suid-Afrika se voedselsekerheid in.

“Dit is kommerwekkend om te dink dat die LNR bereid is om vaardige werknemers af te dank en die hele land se voedselsekerheid sodoende in gedrang te bring. Wat nog meer kommerwekkend is, is dat hierdie afleggings op die tafel geplaas word midde-in ʼn krisis wat reeds ʼn bedreiging vir voedselsekerheid en toegang tot voedsel tot gevolg het,” het Peirru Marx, sektorkoördineerder by Solidariteit, Dinsdag gesê.

Die vakbond sê hy het verlede week ʼn brief van die LNR ontvang waarin die organisasie aandui dat hy oorweeg om tot soveel as 1 000 werkers af te dank. Hy sal ook met die LNR vergader om die beste moontlike uitkoms te probeer vind.

Solidariteit sê egter die omkeerplan wat hy aan die raad voorgelê het, is met “weinig belangstelling” begroet.

“Dit is jammer dat die LNR, wat eens ʼn trotse en suksesvolle organisasie was, in só ʼn situasie beland het, maar om te sien dat die LNR nou weier om hulp te aanvaar en met ʼn besluit wil voortgaan wat nie net sy werknemers nie, maar ook die res van die land negatief sal beïnvloed, is betreurenswaardig.

“Wat nog meer skokkend is, is dat dit ʼn staatsinstelling is en dat die regering volgens wet verantwoordelik is vir die sekerheid en toeganklikheid van voedsel vir sy landsburgers,” het Marx gesê.

Marx sê Solidariteit ontken nie dat herstrukturering by die LNR nodig is nie, maar hy kan ook nie die aflegging van sowat ʼn duisend mense steun nie.

“Ons neem werk- en voedselsekerheid ernstig op, selfs al word dit nie deur die werkgewer en regering met dieselfde erns opgeneem nie en daarom sal ons bly veg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Stofdonkie ·

So wat is die doel van die LNR? Hoeveel voedsel verbou hulle dat die ons voedselsekerheid kan beinvloed? Die artikel kon dalk net eers bietjie vertel wat die ouens doen, weet solidariteit ooit wat hulle doen as hulle reken die afleggings kan die voedselsekerheid beinvloed?

Vrijburger ·

As jy meer oor ‘n ondewerp wil weet gaan kyk op hul webwerf of gaan google?

marius ·

Is daar ‘n woord van ander vakbonde ? Nee want landbou is ‘n vloekwoord in hul woordeskat

Willem ·

Hierdie regering “worry” net oor hul eie vet salarisse

Willem ·

Hierdie was n uitstaande besigheid wat deur kundiges bedryf was tot so 2008 . Daar kom toe slim manne wat niks van landbou weet nie en sny die begroting van die staat aan die novorsings rade. Nelspruit ,onderstepoort en Nietverbei in die Kaap. Hierna moes hulself vir fondse soek.
Die anc het net nog n besigheid wat gewerk het toegemaak.

Grond ·

Die probleem is nie net die “sny die begroting van die staat” , maar die drastiese afname in eksterne inkomste, omdat kommersiële boere en die sektore wat hulle bedien deur die LNR vervreem is, omdat die klem hoofsaaklik op sogenaamde kleinboere geplaas is. Hierdie sektor van die landbou dra weinig by tot voedselsekuriteit en nog minder tot die inkomste van die LNR.

Johan ·

Almal kla oor die staat wat te veel werknemers het as hulle wil afbetaal kla ons ook wat dan nou.

Alexander ·

LNR is semi-staat en navorsing belangrik vir Landboubedryf. Kom ons hoop Solidariteit behaal sukses.

gatgogga ·

Maar het ons dan nog landbounavorsing nodig?
Een van die dae vat die mense wat KAN boer mos die plase oor – en hulle het nie wetenskaplike advies nodig nie.
Nie waar nie?

Leon ·

Hoekom sal die regering bekommerd wees. Die VN sal kos skenk soos al die ander Afrika lande en hulle voer maar net kos in van Rusland, Sjina, en Kuba.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

‘n Bra niksseggende beriggewing. Wat beteken “vaardige werknemers”? Waarom nie uiteensit hoe afleggings die navorsers self gaan raak nie? Immers, navorsers is die spil waarom die LNR draai.

Verder, die donkie van “voedselsekerheid” is al holrug gery om voorkeurbehandeling en subsidies te kry onder die vaendel van “voedselsekerheid”. Wat van “toerisme-sekerheid” vir werkverskaffing ens.?

Miskien het die tyd aangebreek dat die privaatsektor self alle navorsing bedryf vry van enige ANC patronaatstelsel en kaders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.