Groot afname in Covid-19-gevalle vir Pretoria

(Argieffoto: GCIS)

Die Tshwane-metroraad het nóg ʼn afname in sy weeklikse getal aktiewe Covid-19-gevalle bevestig.

Aktiewe gevalle het Maandag tot 17 338 afgeneem.

Randall Williams, burgemeester van die Tshwane-metroraad, sê die afname in gevalle word verwelkom tydens die derde golf van die pandemie.

“Ons het die vorige week 25 491 aktiewe gevalle aangeteken. Die getal nuwe gevalle neem ook af – tussen 1 000 en 2 000 gevalle per dag.”

Williams sê alhoewel daar ʼn afname in die getal aktiewe gevalle is, is dit belangrik dat inwoners waaksaam bly om die verspreiding van Covid-19 te voorkom. Hy moedig kwalifiserende inwoners aan om vir inenting te registreer.

Die stad het tans 32 openbare inentingsentrums in verskeie streke.

Alan Winde, premier vir die Wes-Kaap, het gesê dié provinsie het tans 33 112 aktiewe gevalle met altesaam 366 237 gevalle tot dusver en 319 202 mense wat reeds herstel het. Altesaam 13 923 sterftes is in die provinsie aangemeld.

In hierdie stadium word 2 833 mense in hospitale in die provinsie weens Covid-19 behandel, van wie minstens 656 tans in hoësorgeenhede.

Altesame 779 698 inentings is teen 16 Julie deur die Wes-Kaapse regering toegedien.

Meer as ʼn miljoen inwoners het reeds vir die inenting geregistreer, waarvan 318 122 inwoners in die 35 – 49-ouderdomsgroep; 259 208 in die 50 – 59-ouderdomsgroep en 448 186 ouer as 60.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Baardman ·

Sinnelose info om te sê hoeveel mense is geregistreer. Sê hoeveel inentings is beskikbaar en wanneer die inentings gaan plaasvind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.