Groot behoefte aan pleegouers, plekke van veiligheid   

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Meghan Holmes / Unsplash)

Omstandighede noodsaak dit soms dat kinders jonger as 18 jaar onmiddellik uit hul ouers se sorg verwyder en dringend in plekke van veiligheid en pleegsorg geplaas moet word. In baie gevalle is daar egter nie plekke van veiligheid óf pleegouers beskikbaar om dié kinders in te neem en te beskerm nie.

Redes vir die verwydering van kinders sluit onder meer fisieke, seksuele en/of emosionele mishandeling in, asook verwaarlosing, ernstige gesinskonflik en -geweld, alkohol- en dwelmmisbruik deur die ouers en onstabiele maatskaplike funksionering.

Dié kinders moet dan hangende ʼn ondersoek by die kinderhof in plekke van veiligheid geplaas word, totdat ʼn bevel uitgereik word wat bepaal of dié kinders aanneembaar is of in pleegsorg, ʼn kinderhuis of terug by hul ouers geplaas moet word.

Isabel Faurie, maatskaplike werker by Helpende Hand, sê statistieke – wat deur die departement van maatskaplike ontwikkeling bygehou moet word – is moeilik bekombaar. Nietemin kon dié organisasie uit navorsing onder kindersbeskermingsorganisasies vasstel dat daar gedurende die 2021-’22 finansiële jaar minstens 105 kinders noodgedwonge in residensiële instansies soos kinderhuise geplaas moes word, omdat daar nie genoeg geskikte pleegouers was nie.

“Hierdie kinders was almal meer geskik vir pleegsorg, maar weens die tekort aan pleegouers moes hulle in residensiële instansies geplaas word.”

Helpende Hand het in die lig hiervan ’n platform geskep wat meer inligting oor pleegsorg verskaf en dit makliker maak vir mense om aansoeke in dié verband in te dien. Die organisasie doen ʼn ernstige beroep op mense om hulself as plekke van veiligheid of pleegouers beskikbaar te stel.

Pleegsorg is uiteraard iets wat oor ʼn langer termyn geskied, terwyl plekke van veiligheid ʼn korttermyn-ingryping is. Familielede van kinders wat uit ouersorg verwyder word, kan ook as plekke van veiligheid óf pleegouers gekeur word. In gevalle waar kinders dringend verwyder word, kan die keuringsproses binne enkele dae afgehandel word.

Nina de Caires, aannemingsinspekteur by Kinderwelsyn Tshwane, sê kinders kan tussen drie en nege maande – en in sommige gevalle korter – by plekke van veiligheid geplaas word, waar ʼn pleegsorgbevel gewoonlik vir ʼn periode van twee jaar uitgereik word.

Dié bevel word dan elke twee jaar hersien om te bepaal of die pleegsorgtyperk verleng moet word of nie.

“Mense wat hul huise en harte vir kinders in nood oopmaak, kan ʼn groot verskil in daardie kinders se lewe maak,” het De Caires gesê.

Sy waarsku egter dat pleegsorg nie as ʼn kortpad tot aanneming gesien moet word nie.

“Wanneer kinders uit hul ouers se sorg verwyder word, is die doelwit altyd om dié kinders weer met hul ouers te herenig. Daar sal egter altyd in die beste belang van die kind opgetree word. Dit kan beteken dat die kinders langer in pleegsorg bly, aanneembaar verklaar word, of weer by hul ouers geplaas word.”

‘Veg vir daardie kind’

Maroela Media het vandeesweek met ʼn Pretoriase gesin gepraat wat ʼn dekade gelede hand opgesteek het om sorgbehoewende kinders in te neem, en vandag steeds hierdie kinders in hul sorg het.

Hul name word weerhou om die identiteit van die kinders te beskerm.

In dié geval het pleegsorg onverwags oor die egpaar se pad gekom nadat hulle byna vyf jaar gesukkel het om kinders van hul eie te hê.

ʼn Sesjarige kind moes dringend uit haar ouers se sorg verwyder word en dié egpaar het ingestem om die kind in te neem. Hulle is kort daarna ook as pleegouers gekeur. Enkele maande later het die betrokke maatskaplike werker die egpaar weer genader en gevra of hulle ʼn tweede kind van 18 maande sal inneem.

Hulle het dit sonder huiwering gedoen en is tans in die proses om albei meisies – wat nou al tien jaar deel van hul gesin is – wettiglik aan te neem. Hulle het kort nadat die kinders oor hul pad gekom het, ook ʼn kind van hul eie gehad.

“Twee het in my hart gegroei, en een in my maag. Dis wat ek altyd vir hulle sê wanneer daar vrae en onsekerheid opduik. Die Here het ons gesin perfek en op sy manier aanmekaar geplak,” het die vrou aan Maroela Media gesê.

Sy het benadruk hoewel pleegsorg absoluut verrykend is, mense nie moet vergeet dat hierdie kinders dikwels uit uiters traumatiese omstandighede kom nie.

“Die kinders kan verskriklike emosionele probleme hê – uitdagings wat nie altyd met liefde gedokter kan word nie, al gee jy hoe baie. Jy moet besef dat jy ʼn pad met hierdie kinders gaan moet stap en bereid moet wees om elke uitdaging saam met hulle te pak.

“Jy moet veg vir daardie kind. Daardie kinders verdien nie om gelos te word omdat ons as grootmense bang is vir ʼn verlies, gedragsprobleme of ʼn uitdaging nie.”

Sy doen ʼn beroep op mense wat nie die kapasiteit het om self ʼn pleegouer te wees nie, om pleegouers op ander maniere by te staan.

“Soek bewustelik vir ouers wat pleegkinders het en ondersteun hulle onvoorwaardelik, hetsy deur afslag op dienste of morele ondersteuning. Selfs al leer jy net jou kind om vir ʼn só ʼn kind ʼn maatjie te wees.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Christine ·

Pragtige berig wat mens weereens laat besef hoeveel kinders grootword in aaklige omstandighede. Sulke getraumatiseerde kinders kan egter geweldige druk op ‘n pleegsorg gesin plaas.

Nico ·

Wat gaan aanmet die ouers het hulle die pad duister geraak, dit is net alkohol, dwels, owerspel nou nou moet die onskuldige kind betaal vir die ouers se lekker jolly fikasies. Daar is baie ouers wat smag na ‘n baba en die ander vernietig die kinders.

Maan&Sterrekind ·

Ek sal met die grootste liefde n pleegouer wil wees, maar die nadeel is ek sal nooit die kinders wil terug gee nie. Dit is maar die grootste rede hoekom ek dit nog nooit oorweeg het nie. Ek myself, het my 3 kinders in die dood afgestaan en dit is reeds moeilik gewees, so sal nooit as te nimmer daai kiddies wil terug gee nie.

Elize ·

Ek verstaan nie altyd nie. Op groepe wat op FB is word pleegouers so sleg gemaak en vertel hoe kinders daar ook maar mishandel word en by ander hoor ek van die gruwels wat aangaan in kinderhuise. Waar is kinders veilig? Wat ‘n skande het ons ouers in ons land nie geword nie. Kastig ‘n Christen land.

Akhenatha ·

Ek het vantevore in Amerika gebly en was daar ‘n pleegouer, maar in Suid Afrika is ek nie goed genoeg nie. Die mense wat die keurings doen, is so hoogmoedig, hulle vertel jou gou jy is nie goed genoeg nie. Dis geen wonder daar is ‘n tekort aan pleegouers nie. ‘Jy is te oud’ of ‘Jy verdien nie genoeg nie’ of ‘Jy verdien heeltemal genoeg, maar jy is geskei’, ensovoorts. Gewone mense is nie goed genoeg om te kwalifiseer as pleegouers nie, selfs al is jou eie kinders goed opgevoed en aangepas, en doen goed op skool. Die website sê nie presies wat die reëls is vir mense wat wil aansoek doen nie, maar dit is baie moeilik om deur die hoogmoedige ‘keuring’ te kom. As jy nie heeltemal volmaak is nie, moenie eers aansoek doen nie. Vermy die teleurstelling en vernedering.

Wildemien ·

Ek is bly vir jou kommentaar, want het gewonder of ek as geskeide enkelma sou kwalifiseer. My hart is baie jammer vir hierdie kinders al is ek ook bang dit kan my ook potensieel seermaak.

chantelle ·

ons is tans self besig met die proses. alles het bitter vinnig gebeur.
hulle kyk nie na jou geloof of watookal nie.

ek dink party maatskaplikke werkers probeer dinge net onnodig moeilik maak.
ons is geseend om hulp van n wonderlike maatskaplikke werker.

miraclealigner ·

Ons is ook tans besig met die proses, ook bitter vinnig gebeur, in ons geval is ons geloofsoortuiging gevra maar dit is nie noodwendig dat dit ‘n rol speel nie. Ons het ook wonderlike maatskaplike werkers met wie ons te doen het. Alles van die beste vir julle @chantelle; hou asb vir ons duime voete hande en tone vas, ons is nog steeds so paar maande in die ‘temporary care’ -fase in en ek kan nie sien dat die kind enigsins kan of moet teruggaan na ‘n dwelmhuis waar daar verwaarlosing plaasvind nie. Die kind is die lig van ons lewens en ek kan regtig nie ons lewe indink meer sonder die kind nie.

Petrus ·

Die vraag of antwoord is nie wat doen andere nie; die vraag is wat doen jý aan die saak.
Ons het ‘n tweeling in ons pleegsorg geneem toe hulle slegs twee maande oud was. Daarvandaan was dit ‘n geweldige stryd met die biologiese ouers en ons poging om die kinders wettiglik aan te neem.
Uiteindelik is hulle vir 2 jaar in ons pleegsorg geplaas en daarna is hulle permanent in ons sorg. Ons wag huidiglik op die nuwe geboortesertifikate wat hulle op ons van plaas.
Natuurlik was dit baie traumaties, maar die liefde wat ons terug ontvang, maak op vir alles. Hulle is ons 7de kinders. Die jongste 25 en dan hulle wat nou 10 is.
Moenie net vra wat jy moet opoffer nie, maar dink ook aan wat dit beteken, nie net vir die kinders nie, maar ook die geweldige seën wat jy daaruit ontvang.
Dink aan ‘n oplossing vir die probleem en wat en of jy dalk kan help daarmee.

Wielspore ·

Met die lees van die berig besef ek net weereens dat mens met liefde en sorg die toekoms van ‘n kind kan verander. In 1989 kry my vrou en ek ons eerste aanneem kind, sy is een jaar oud, dit is ook ons enigste kind, jaar later word ons eie kind gebore, nou het ons twee pragtige dogters, 3 jaar later word ons eie seun gebore. So groeie ons gesin van 5 saam, ondersteun mekaar en bou ‘n hegte band. Die oudste maak klaar met skool, die volgende dogter volg ook, albei begin werk en skrop hul eie nessies. Ons huis raak leeg en seun begin ook te werk, hy bly vir eers nog by die huis, ek dink my vrou is nog nie heeltemal reg om te laat gaan. Drie jaar terug neem ons weer ‘n kind aan, hy maak net klaar met skool, was sy hele lewe lank tussen familie en weeshuise maar het ‘n baie goeie opvoedingsvlak. So kry hy ook werk waar my jongste seun werk, vandag is hulle beste vriende. Hulle bly nog by ons in die huis en ek hoor die twee beplan om ‘n woonstel in Desember op te sit. Ons huis is weer leeg.

Nici ·

Ons is pleeg- en plek van veiligheid ouers. Dit breek my hart as ek moet sê ons het nie plek nie. Ek het in laas week alleen plek gehelp soek vir 5 kinders. Ja, dit is nie maklik nie, maar op die ou einde van die dag is ons daar om die kinders te help wat aan ons toevertrou is en hulle te probeer help om te genees.

Marcello ·

Dankie vir die berig, Dankie, vir ouers wat pleegsorg onderneem. Want soms word hierdie kinders wat uit ‘n gesin verwyder word deur die Welsyn in instansies ingedruk wat hulle meer opstandig maak. Praat van ondervinding.

Christelle ·

Ons is al vir meer as 13 jaar pleeg ouers. Ons is nie die probleem nie. Die stelsel is. Geen diens of ondersteuning. Ek kan heentemal verstaan hoekom mense nie wil betrokke raak nie. Ons WIL en sal enduit baklei vir ons pleegkinders, maar daar moet ernstig aandag gegee word aan die proses voor en na plasing!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.