Groot beloning ná moord op twee wat sanitasiewerkers begelei

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Istock)

ʼn Beloning van R100 000 word aangebied vir inligting wat lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van diegene verantwoordelik vir die moord op twee veiligheidswagte. Die wagte is Dinsdag vermoor toe hulle sanitasiewerkers van die Stad Kaapstad in die Phola Park-woonbuurt in Philippi begelei het.

Die amptenare was in die buurt om ʼn rioolpyp te herstel.

Die gewapende veiligheidswagte het met hul eie maatskappyvoertuig na die perseel in Phola Park gery, terwyl ʼn voertuig van die stad vyf sanitasiewerkers vervoer het.

Met hul aankoms het die spanne uitgeklim en toerusting begin gereed kry om die pyp te inspekteer. Terwyl hulle hiermee besig was, het twee gewapende mans die voertuig genader terwyl nog twee na die toiletblok is, lui ʼn verklaring van die stad.

Hier het verskeie skote geklap.

Die werkers en inwoners het gevlug en die private veiligheidswagte is doodgeskiet.

Een amptenaar is beseer toe sy hard geval het tydens die chaos.

Volgens Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het wetstoepassers en die polisie die misdaadtoneel afgesper. Die ondersoek duur voort.

Verskeie van die stad se dienste word erg geraak deur misdaadaanvalle in dele van Philippi, waaronder die informele nedersetting Kosovo, waar ʼn stormwateropknappingsprojek aan die gang is.

Weens die voortdurende veiligheidsbedreigings word taktiese reaksie- en sekerheidsbegeleidingsdienste aan personeel en kontrakteurs in die Philippi-omgewing toegeken.

Hill-Lewis sê hulle sal nie ophou om dienste aan die inwoners van Philippi te lewer nie.

“Ons amptenare op die voorste linie is onder beleg en het jul hulp nodig.

“Ons as ʼn stad is geskok oor die sinnelose daad wat die lewe geëis het van twee mense wat hard gewerk het om die gemeenskap te dien,” sê Hill-Lewis.

Die betrokke amptenare sal ook mediese versorging en traumaberading ontvang.

“Hierdie verskriklike ervarings raak almal diep, veral diegene wat aan die voorpunt van dienslewering werk.”

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê die jongste aanvalle in Philippi volg op onlangse voorvalle waar personeel elders in die stad ook geteiken is. Op Woensdag 17 April is amptenare ook in twee afsonderlike voorvalle op dieselfde dag beroof. In die een voorval was ʼn span besig om te reageer op ʼn verstopte rioolpyp in Clarke Estate in Elsiesrivier toe een van die amptenare van sy selfoon beroof is.

In die tweede voorval is ʼn span van vyf met ʼn vuurwapen aangehou en van hul persoonlike besittings, waaronder selfone, beroof. Hulle was in Blue Downs besig om ʼn gebarste waterpyp te herstel.

Hill-Lewis doen ʼn beroep op die gemeenskap om enige misdadigheid aan te meld wat water- en sanitasiedienste en opknappings in die gemeenskap in die wiele ry. Enige inligting wat ontvang word, sal vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack ·

As dit al nodig is om herstel personeel te begelei met wagte sodat hulle net hulle werk kan doen is dit die einde.Ek het geen hoop meer vir die land nie.

Martie ·

Moenie daar gaan werk nie. Dis baie maklik vir Gordon Hill Lewis om te sê ons sal daar gaan werk want dis nie sy mense wat beroof en vermoor word nie. Daardie mense verdien dan nie dienste nie, betaal in elk geval nie daarvoor nie.

Di ·

Die mentaliteit van sekeres in die land is skokkend! As hulle nie oproer veroorsaak deur swak dienslewering nie, dan val hulle hierdie mense aan wat daar is om hulle lewensomstandighede beter te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.