Groot beloning uitgeloof vir dié mans

Twee verdagtes wat deur die Gautengse polisie gesoek word. Foto: SAPD

Die Gautengse polisie het ʼn groot beloning uitgeloof vir enigiemand met inligting oor waar twee mans, wat met sake van verkragting en roof verbind word, hul bevind.

Kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê die mans word verbind met ʼn voorval wat in Maart vanjaar plaasgevind het.

Volgens Dlamini het ʼn vrou en haar seun in Ontdekkersweg in Delarey in Johannesburg in ʼn minibustaxi geklim. Twee mans in die taxi het die vrou van haar juweliersware, beursie, bankkaarte, selfoon, huissleutels en R1 700 beroof. Een van die mans het die vrou ook verkrag.

‘n Verdagte wat deur die Gautengse polisie gesoek word. Foto: SAPD

Die vrou se bankkaarte is later deur die verdagtes gebruik om verskeie items, insluitend drank, aan te koop.

Die polisie het Donderdag foto’s uitgereik van die twee mans waar hulle na bewering die slagoffer se bankkaart gebruik. “ʼn Beloning van tot R50 000 word aangebied vir enige inligting wat kan lei tot die opsporing en vervolging van die verdagtes,” het Dlamini gesê.

Volgens Dlamini is die voorval deel van verskeie sake wat in Maart by die polisie aangemeld is. Die voorvalle het onder meer in Meadowlands, Booysens, Alberton, Germiston, Honeydew en Dobsonville voorgekom en het daartoe gelei dat die Gautengse provinsiale polisiekommissaris ʼn span speurders van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) aangestel het om hierdie voorvalle te ondersoek.

“Tot dusver het die span vier verdagtes in hegtenis geneem wie se sake tans in howe in Johannesburg en Soweto aan die gang is. Daar is ook verskeie leidrade wat opgevolg word aangesien sommige van die verdagtes vermoedelik taxibestuurders is wat vir sekere taxiverenigings werk,” het Dlamini gesê.

Enigiemand met meer inligting oor die verdagtes in die foto’s of bogenoemde sake kan kapt. Elon Bester by 079 890 7472 of konst. John Mokoena by 071 675 6166 bel. Inligting kan ook anoniem by 08600 10111 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ouma ·

Onthou julle die program jare gelede: “Crime-watch” (of so iets) wat aangebied is op TV? Dalk moet dit weer terugkeer na die TV. Ek het self losies aan so ‘n persoon verskaf en het my byna uit my bloedgroep geskrik toe ek die berig sien. Maar hy is aangekeer.

LS ·

Ouma ek stem met jou saam, maar hulle gaan een kanaal vir 24 uur aaneen aan die gang moet hou vir so iets met dit wat in Suid Afrika aangaan ELKE LIEWE DAG!

Tinktinkie ·

Wonder waarom hierdie saak voorkeur geniet?? Sien baie min so iets met byv plaasmoorde??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.