Groot beloning uitgereik ná bouer se moord

Kobus en Elmarie Brown. Foto: Verskaf

ʼn Groot beloning is uitgeloof vir enige inligting wat kan help om Kobus Brown, ʼn 61-jarige bouer wie se liggaam Saterdagoggend buite ʼn huis in Mthatha in die Oos-Kaap aangetref is, se moordenaars vas te trek.

Maroela Media het vroeër berig Brown se liggaam is kort ná middernag buite die huis in Southernwood aangetref met ʼn koeëlwond aan sy bolyf. ʼn 9 mm-patroondoppie is op die toneel gevind. Sover vasgestel kan word, is twee selfone en ʼn televisie gesteel. Daar was niemand anders by die huis toe hy gevind is nie.

Brown is ʼn inwoner van Scottburgh in KwaZulu-Natal en het tydelik in Mthatha gewoon toe hy vermoor is. Brown se vrou, Elmarie (61), het Maandag aan Maroela Media gesê dit gaan onder omstandighede goed, aangesien sy in hierdie moeilike tyd deur haar kinders bygestaan word.

Die Brown-egpaar woon die afgelope 14 jaar in Scottburgh nadat hulle van Polokwane (Pietersburg) in Limpopo daarheen verhuis het. Drie kinders, André Brown (41), Jenny Brown-Caroto (36) en Jaco Brown is uit hul huwelik gebore. Jaco is in die ouderdom van 18 oorlede.

Elmarie het gesê die nuus van haar man se moord het as ʼn groot skok vir die familie en die gemeenskap gekom en hulle word oorval met boodskappe van bemoediging. Brown was sy lewe lank ʼn bouer en ook nou betrokke by die Nuwe Apostoliese Kerk se Scottburgh-gemeente.

Elmarie is reeds afgetree en Brown was in Mthatha om aan ʼn boukontrak te werk toe hy vermoor is. “Hy is sowat twee maande gelede Mthatha toe om konstruksiewerk by ʼn winkelsentrum te doen. Hy het saam met ander kontrakteurs gebly en die projek moes teen November oorhandig word. Die polisie het ons laat weet ʼn buurvrou het omstreeks 00:30 twee mans opgemerk en sy het die polisie gebel nadat sy ʼn skoot gehoor het,” het Elmarie gesê.

Sy het haar man beskryf as iemand wat baie betrokke was in die gemeenskap. “Hy was baie lief vir die buitelewe. Ons het gereeld gaan voetslaan en het omtrent al die staproetes in Suid-Afrika voltooi. Hy was ook baie lief vir kamp,” het sy gesê.

Sy het gesê haar man was baie hardwerkend, beginselvas, standvastig en kon respek afdwing. “Hy was ʼn goeie pa en volgens Jenny, die beste oupa waarvoor ʼn mens kon vra. Sy familie was sy alles.”

Brown laat sy vrou, kinders en vier kleinkinders agter. Sy gedenkdiens vind Saterdagoggend in Pennington plaas.

Lt.kol. Mzukisi Fatyela, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

Volgens Elmarie het Brown se werkgewer ʼn R100 000-beloning uitgeloof vir mense wat inligting het wat tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van sy moordenaars kan lei. Inligting kan by die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 aangemeld word.

Kobus Brown en sy dogter, Jenny. Foto: Verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andrea ·

En die beloning word net uitbetaal wanneer die skuldiges aan die familie oorhandig word…

AL ·

So tragies en so onnodig! Sterkte aan die familie. Gierigheid en grypsug is aan die orde van die dag.

Theresa ·

Komaan REGERINGSAMPTENARE waar is jul gewetens??? Kyk wat aangaan en kom met ‘n oplossing!

jaco ·

sy ras is “verkeerd” so regeringsamptenare sal niks doen nie. dis mos maar net nog 1 wit rassistiese uitbuiter wat in die ou SA mense onderdruk het met sy wit monopoliekapitaal, wat nou dood is.

Marga ·

Persoonlike vriende van my. Ons hele gemeenskap is in rou gedompel oor hierdie sinlose daad. Ek glo dat hierdie beloning van Kobus se werkgewer ‘n geskarrel van ‘n ander aard gaan veroorsaak, want ons praat van ‘n groot geld en hopelik word die skuldiges baie gou aangekeer.

Nellie ·

So hartseer om te hoor van ons stapvriend se dood. Baie sterkte aan Elmarie en die kinders.

Sputnik ·

Tragies! Innige simpatie. Ek sal gladnie verbaas wees as die skuldige(s) in die boubedryf is of was nie – en aan hom bekend was nie. Dalk gewese werkers?

Deon ·

Moord gepleeg, en dit vir wat 2 selfone en n tv. Dan in teenstryd hiermee word gekyk na miljoene der miljoene wat vir eie persoonlikke gewin gesteel word. Die smag na mag en geld deur sommige n siekte, dit sal ook beter met gebore Suid Afrikaanse burgers gn as al die wat Suid Afrika binnegestroom het na 1994 uit die land gesmyt word sodat daar n mate van balans bewerkstellig kan word in terme van nr. 1 ….die reg tot n werk, en n inkomste. Weet nie wat hul gedink het en of dink……gn gebeur as mense geen inkomste het nie, n resep vir katastrofe en teelresep tot misdaad. En dit is waar alles begin het. Wonder wat se die regering se statistieke oor hoeveel van buite Suid Afrika, Suid Afrika binnegestroom het na 1994 ? Verder hoe word dit gekorregeer ?

wessie ·

Probleem is nie om hulle te vang nie,maar die suksesvolle vervolging. SA se regs dienaars is onbekwaam.

Lulu ·

Die parlementariers LAG vir moorde op blanke boere en blanke sakemanne, ook as hulle gevra word vir TWEE minute se stilte, hulle het nie eers daardie hoeveelheid respek vir die dood van blankes nie (en nee ek leef nie in die verlede nie, ek leef in die HEDE, want dit het minder as ‘n week gelede gebeur). Hoekom dink julle sal hulle regtig werk daarvan maak om die moordenaar op te spoor? So jammer om van die gesin se ongelooflike groot verlies te verneem. Sterkte aan julle in hierdie moeilike tye.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.