Groot besending renosterhoring uit SA in Hongkong gevind

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

Doeaneowerhede in Hongkong het beslag gelê op ʼn besending renosterhoring van nagenoeg R29 miljoen wat uit Suid-Afrika gesmokkel is.

Albi Modise, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse departement van omgewingsake, het gesê die 82,5 kg renosterhoring is vermoedelik uit Suid-Afrika gesmokkel as ʼn besending wat as voertuigonderdele gemerk is. Dit was op pad na Maleisië toe doeaneowerhede in Hongkong ná ʼn wenk daarop beslag gelê het.

Die renosterhoring is gevind nadat X-strale van die besending geneem is.

Die Hongkongse doeaneowerheid het die besending as die grootste die afgelope vyf jaar van ʼn bedreigde spesie bestempel. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

“Die departement van omgewingsake verwelkom die beslaglegging op die renosterhoring, veral omdat dit gebeur het terwyl die regering probeer om optrede teen renosterstropery en die onwettige handel in renosterhorings te verskerp deur sy teenstroperyplan.

“Dis egter kommerwekkend dat die besendings nie raakgesien en gekonfiskeer word voordat dit Suid-Afrika verlaat nie. ʼn Hersiening van maatreëls word gedoen sodat ons kan aanpas by die veranderinge in die werkswyse van die sindikate wat by dié internasionale misdaad betrokke is,” het Modise gesê.

“Ons is in verbinding met die departement van landbou, visserye en bewaring in Hongkong om DNS-monsters van die horings na Suid-Afrika te stuur, sodat vasgestel kan word of dit verbind kan word met enige stroperyondersoeke.”

Lede van die publiek wat voorvalle van renosterstropery en ander omgewingsmisdaad wil aanmeld, kan die departement se noodlyn skakel by 0800 205 005 of die polisie bel by 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lana ·

Hoe op dees aarde kry iemand so groot hoeveelheid uit S.A. gesmokkel sonder dat owerhede dit agterkom?

Non-existent ·

@Lana watter owerhede? Ek kan nie onthou dat ons die laaste paar jaar owerhede gehad het nie?

Tino ·

Lana, kom nou! Die owerhede wat daar wel is help dit aan. Die konsep van werk en waarde toevoeg vir geld is taboe, jy moet ‘n tip kry om jou werk te doen wat meer as jou salaris is en net die wat bereid is om te betaal se sake word behartig

Hans Richardt ·

Dom vraag, hoe gaan remosterhoring land uit verby doane?

ne ·

Omkoop geld of doeane beamptes het ‘n vinger in die “paai”

Renschia ·

Ons doeane prosedure is ‘n grap! Ons was onlangs vir 3 weke in China en Hong Kong. Ons het van publieke vervoer gebruik gemaak en tussen groot stede gevlieg. Almal, maak nie saak wie jy is nie, word elke keer deursoek, sowel as jou bagasie. Of jy nou trein ry of op vliegtuig klim. Die beamptes is deeglik en daar is tot 4 wat een ingang by treinstasie beman. Niks kom by hulle verby nie. My dogter het vir haar ‘n stel kombuismesse gekoop en moes toe met taxi huistoe ry. Sy mag dit nie op die trein gevat het nie. Wat ek probeer sê is dat die probleem beslis by ons doeane beamptes en prosedures lê. Ons het die verskil dadelik opgemerk toe ons weer in die land aankom.

Willie ·

Moet asb net nie iets oor die Chinese se nie, dan tas jy weer hulle waardighede aan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.