Groot Brak-moorde: Beskuldigde verander sy weergawe

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Die beskuldigde in die Human moordsaak, Stephen Lekoro, het vandag onder kruisverhoor in die rondgaande hof in Mosselbaai getuienis gelewer wat lynreg verskil van sy pleitverduideliking wat aan die begin van die verhoor by die hof ingedien is.

Dit het regter Mark Sher genoop om in ʼn stadium aan Lekoro te sê dat hy niks van dit wat nou beweer word voorheen in die saak gehoor het nie.

Lekoro staan tereg op twee aanklagte van moord en twee van roof met verswarende omstandighede. Dit spruit uit die dood van die bejaarde Tewie en Eurika Human van Groot Brakrivier wat in Junie 2016 in hul huis vermoor is.

Lekoro, ‘n burger van Lesotho, was ʼn werknemer van mnr. Human. Hy het die dag ná die moorde na Bloemfontein gevlug en is ses dae later oor die grens na Lesotho. Hy is laat verlede jaar in Botshabelo in hegtenis geneem ná hy uit die buurland na Suid-Afrika gekom het, skynbaar om tradisionele medisyne te verkoop.

Sy vriend, Thamsanqa Sishuba, is reeds in 2017 twee lewenslange vonnisse vir die moorde opgelê. Hy het verlede week teen Lekoro getuig en gesê hy praat vir die eerste keer die waarheid en dat Lekoro die moorde beplan het. Sishuba het onder meer getuig dat Lekoro mnr. Human na die motorhuis gelok het en dat hy hom sonder waarskuwing met die mes aangeval het. Lekoro het dit as ʼn leuen afgemaak.

In sy vroeëre pleitverduideliking het Lekoro erken dat hy wyle mnr. Human met ʼn mes gesteek het, maar gesê dat hy daarna van die toneel weggehardloop en nie weet wat verder gebeur het nie. Hy kon vandag egter nie die fynere detail van sy vorige getuienis of sy verklaring onthou nie en het later die blaam op sy advokaat, Dawie Scholtz, geplaas en gesê hy het foute gemaak.

Lekoro het aan die hof gesê dat hy vroeg die oggend van die moorde saam met Sishuba in die Humans se motorhuis gewag het dat mnr. Human moes wakker word. Sishuba sou glo op mnr. Human se versoek daardie dag in die tuin kom werk. Lekoro het gesê dat hy die lig aangeskakel het en solank olie in die grassnyer gegooi het sodat Sishuba dadelik met die werk kon begin maar dat hy ʼn fout gemaak en die verkeerde olie gebruik het.

In sy pleitverduideliking het hy egter gesê dat die lig in die motorhuis af was en dat mnr. Human dit aangeskakel het toe hy by die deur ingekom het. Hy het ook gesê dat mnr. Human hom gevra het om die olie in die grassnyer te gooi en dat Human later na die motorhuis teruggekom het en toe agtergekom het dat die verkeerde olie gebruik is.

Dit het glo daartoe gelei dat mnr. Human hom aan sy klere gegryp en met die vuis teen die kop geslaan het waarna Lekoro vir Human met die mes gesteek het.

Toe Lekoro deur die aanklaer, adv. Lenro Badenhorst, daarop gewys is dat sy weergawe van die gebeure vandag verander het, het hy gesê die vrae word nou anders aan hom gestel as tydens sy konsultasie met sy advokaat.

Regter Sher het Lekoro gevra om aan die hof te wys hoe hy die mes kon bykom terwyl hy styf aan sy klere vasgehou is? Lekoro het toe op die hofordonnans demonstreer hoe hy sy regterhand gebruik het om die mes op die tafel te vat en hoe hy mnr. Human daarmee aan die regterkant van sy bors gesteek het hoewel hy styf vasgehou is.

Die foto’s wat verlede week in die hof gewys is van wapens en duisende rande kontant sowel as mans met klapmusse is glo deur ene Thabiso geneem, het Lekoro vandag aan die hof vertel. Hy het dit glo met die hulp van iemand anders na sy skootrekenaar oorgedra vir veilige bewaring vir Thabiso. Op een van die foto’s poseer Lekoro met twee skootrekenaars en die staat beweer dat dit die rekenaars is wat uit die Humans se huis verdwyn het. Lekoro het dit ontken.

Dit was die eerste keer dat Thabiso se naam in die hof genoem is en toe adv Badenhorst Lekoro daarmee konfronteer het hy beweer dat hy wel Thabiso se naam aan die ondersoekbeampte, adjudant Gerald Rabie, genoem het.

Die staat en verdediging sal môre hul slotbetoë lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Magda ·

Ag shame – nou skielik het die Man wat vermoor is jou aangerand – mmmm en hy is nou nie hier om dit te ontken nie, en nou sommer is dit ook jou Advokaat wat alles verdraai het – Julle dink julle is slim, maar slim vang sy baas – Hoop jy kry eintlik die Dood straf maar nee jy sal tronk toe gaan en ons belasting betalers moet vir JOU jou GEMORS sorg – Hoop jy brand eendag in die HEL, want dit is eintlik waar jy hoort.

jakes ·

Hierdie mense word gewoonlik baie maklik uitgevang wanneer hulle lieg want hulle kan nie lekker onthou wat hulle n paar sekondes gelede gese het nie.

Outoppie ·

Hy het hopelik hulle altwee goed vasgelieg in ‘n lewenslange tronkstraf . Dis net vreeslik jammer dat ‘n welverdiende doodstraf nie meer toepasbaar is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.