Groot buitelandse eer vir DA-hoofsweep

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, word met ‘n ridderskap en ‘n medalje vereer deur die Italiaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Paolo Cuculi (Foto verskaf)

Daar is deesdae ‘n dottoressa in die Suid-Afrikaanse parlement, en haar naam is Natasha Mazzone, DA-hoofsweep.

Dottoressa is die Italiaanse term en aanspreekvorm vir ‘n ridderskap (soortgelyk aan lord, lady of sir in Brittanje) en in Italië sal Mazzone voortaan as sulks aangespreek word, maar sy wil in Suid-Afrika en in die Suid-Afrikaanse parlement net as Natasha of agbare Mazzone aangespreek word.

Tesame met die titel het die Italiaanse regering ‘n medalje – die Orde van die Ster van Italië – aan haar oorhandig.

Sowel die ridderskap as die medalje word deur die Italiaanse regering toegeken aan mense van trots Italiaanse afkoms wat ‘n groot positiewe verskil maak in die lande waar hulle nou woon.

Die ridderskap kan slegs toegeken word indien die regering van die land waarin die ridder nou woon, daartoe instem. Mazzone het aan Maroela Media gesê dit beteken vir haar baie dat die Suid-Afrikaanse regering – en by name die minister van internasionale verhoudinge, Naledi Pandor – die ruimheid van gees gehad het om in te stem met die verering van ‘n felle politieke opponent.

Die Italiaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Paolo Cuculi, het Mazzone verlede jaar vir die ridderskap en die medalje genomineer aan die hand van haar werk teen staatskaping, haar rol as DA-hoofsweep, en haar uitleef van haar Italiaanse erfenis.

Die Italiaanse regering het in Desember besluit om die toekenning aan Mazzone te maak. Gewoonlik word die toekenning elke jaar slegs op 2 Junie (Republiekdag in Italië) gedoen, maar omdat Mazzone se trots Italiaanse pa tans terminaal siek is in die hospitaal is besluit om dit reeds hierdie afgelope week te doen sodat hy dit kan beleef.

“Dit was ‘n wonderlike gebaar – my pa is so trots hy kan bars,” het Mazzone vertel. “Vir my beteken dit baie dat mense meen ek slaag in my doel om ‘n positiewe verskil te maak in my geliefde geboorteland, Suid-Afrika. Ek sal voortgaan om my bes te doen.

“Dit is ook waar dat my Italiaanse bloed sterk loop – mense kan dit sien in my passie, my voorkoms en my ongeduld!”, het Mazzone bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Althes ·

Baie geluk! Dis beslis ñ wonderlike prestasie en om internasionale bondgenote te hê teen korrupsie en staatskaping laat mens moed skep.

JohanR ·

Die Economic Fleeing Fighters wou gehad het die dame moes terug Italia toe gaan, maar nou het Italia na haar toe gekom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.