Groot daling in brandstofpryse verwag

Argieffoto

Argieffoto

Goeie nuus wag dalk volgende Vrydag op vuisvoos motoriste wanneer ʼn daling in die brandstofprys na verwagting aangekondig gaan word.

Die prys van petrol kan op 5 November met sowat 42c per liter daal terwyl die groothandelprys van diesel met ongeveer 58c behoort te daal, het die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) Dinsdag gesê.

Hierdie verwagte dalings sal die prys van 93-oktaan petrol in Gauteng op ongeveer R13 per liter en die groothandelprys van diesel op minder as R12 per liter te staan bring – vlakke wat laas in Desember 2013 gesien is. Die vooruitskatting van die daling in brandstofpryse is geskoei op die wisselkoers van die rand teenoor die dollar, asook internasionale petroleumprodukpryse.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die SNI, het verduidelik dat die verswakking in die waarde van die rand ʼn daling in plaaslike brandstofpryse teëwerk. Hy het gesê die rand het in September gemiddeld teen ongeveer R10,89 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel. Ten spyte van die versterking verlede week het die rand tot dusver in Oktober gemiddeld teen ongeveer R11,19 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel.

“Gelukkig het internasionale petroleumprodukpryse, die ander faktor wat plaaslike brandstofpryse bepaal, deur die loop van die maand oliepryse afwaarts gevolg,” het Joubert gesê. “Die prys van Opul-olie, wat deur die loop van September $96,45 per vat was, verhandel tot dusver gemiddeld in Oktober bykans 9% laer op $88,10 per vat.”

Joubert het aangedui dat die relevante tydperk vir die berekening van November se plaaslike brandstofpryse nog tot en met Donderdag 30 Oktober duur.

Hy het gewaarsku dat indien die rand óf oliepryse van nou tot dan groot fluktuasies ervaar, die prysverandering in November beduidend van hierdie voorspelling kan afwyk. Die departement van energie sal die finale aankondiging oor die brandstofprysveranderinge op 31 Oktober doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Wonderlike nuus. Maar wat nou van al die winkels wat so vreeslik noodsaaklik pryse van alle goedere moet verhoog sodra petrolpryse selfs met min omhoog gaan ? Nou die pryse die afgelope paar maande aansienlik afgekom het, bly hulle tjoepstil. Ook maar skelms wat net aan hulle eie bultende sakke dink.

Paul ·

Die kort antwoord hierop, Pieter, is: Dis ‘n mite dat winkels pryse hoofsaaklik verhoog weens stygings in brandstofpryse. Die mite het veral in 2008 posgevat, en sedertdien bly dit voortgestaan, selfs al is daar nie waarheid daaraan nie.
Aangesien dit ‘n mite is, is dit dus ook nie verbasend dat die pryse nie daal as brandstofpryse (tydelik) daal nie.

Maar ja, hoekom nou ‘n goeie storie met feite bederf?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.