Groot daling in rentekoers aangekondig

Die Reserwebank. Foto: ANA

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Donderdag ʼn daling in die rentekoers aangekondig.

Kganyago het gesê die repokoers daal met 100 basispunte tot 5,25%. Die repokoers is die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen.

Die besluit volg ná vandeesweek se vergadering van die monetêrebeleidskomitee. Kganyago het die daling toegeskryf aan ʼn kwesbare plaaslike ekonomiese vooruitsig. Die daling tree op 20 Maart 2020 in werking.

Hy het gesê inflasie is onder beheer en geen verrassings word verwag nie.

Dit is die tweede daling vanjaar ná die repokoers in Januarie met 25 basispunte verlaag is tot 6,25%.

Jaco Mulder, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor handel en nywerheid, het die aankondiging verwelkom. “In die lig van die wurggreep waarin die korona-pandemie Suid-Afrika se ekonomie geplaas het en oor die ernstige krisis waarin die land se ekonomie reeds verkeer het, verwelkom die VF Plus die rentekoers-verlaging. Die verlaging opsig self, bied egter nie genoeg verligting nie en die VF Plus sal die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, nader om in die lig van die krisis wat korona veral vir kleiner sake-ondernemings veroorsaak het, verdere hulpmaatreëls te oorweeg.”

Mulder het gesê bykomende maatreëls wat die minister vandag aangekondig het, soos ʼn bepaling dat ondernemings se winsgrense dieselfde bly soos dit voor die korona-krisis was, word wel verwelkom. “Bykomende maatreëls is egter van die grootste belang om ondernemings en die publiek van finansiële ondergang te red. Die VF Plus sal die minister daarom versoek om as ʼn saak van dringendheid skuldverligting deur ʼn sogenaamde skuld-terugbetalingsvakansie vir ʼn periode van vier tot ses maande te oorweeg na oorleg met banke en ander kredietverskaffers ingevolge die magte wat die nasionale ramptoestand aan hom verleen.”

Bianca Botes, tesourievennoot by Peregrine Treasury Solutions, het intussen gesê die rand het effe verstewig ná Kganyago se aankondiging. “Die ekonomie bly egter onder druk, ongeag die daling. Dit sal egter effe verligting bring vir verbruikers. Die daling in die rentekoers stem ooreen met wêreldwye monetêre verligting in reaksie op Covid-19.”

Die rand het Donderdag teen R17,22/$, R18,58/€ en R20,04/£ verhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

johan ·

Glad nie sleg nie. Nou kan ons asem haal. Nou gaan daar van ons seker nog toilet papier koop.

henndrik ·

Dit is ‘n verligting vir baie maar vir die wat van rente lewe is dit ‘n probleem

Niné ·

Rentekoerse steeds te hoog. Kyk oorsee hoe het dit gedaal. Amerika tans op .25%

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.