Groot dele van Gauteng onder water

Vloede in Johannesburg (Foto: Twitter)

Groot dele van Pretoria en Johannesburg het van so vroeg as 04:00 Saterdag al deurgeloop onder vloede weens erge reën wat in Gauteng uitgesak het.

“Tshwane se nooddienste het sedert 05:30 talle oproepe ontvang oor huise wat oorstroom het in die Lotus Garden- en Atteridgeville-gebied. Gelukkig is niemand beseer nie.”

Volgens die Stad Tshwane het die brandweer ook gehelp om 12 voertuie na veiligheid te bring nadat dit in water vasgeval het op die brug in WF Nkomo- en Citroenstraat. Nóg ʼn voertuig het in die water oor ʼn laagwaterbrug in Centurion vasgesit. Die insittendes kon betyds uit die voertuig ontsnap.

In nog ʼn voorval het ʼn wendyhuis in Centurion aan die brand geslaan nadat ʼn weerligstraal ʼn nabygeleë boom getref en die boom op die huis geval het.

In Johannesburg het strate rondom Witkoppenpad erg oorstroom. Die Jukskeirivier in Robyn Park het sy walle oorstroom. Dele van Roodepoort en Krugersdorp het ook oorstroom.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het boonop nóg reën Saterdag vir groot dele van Gauteng voorspel. Nooddienste het inwoners gemaan om veral versigtig te wees wanneer hulle bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.