Inwoners van Gordonsbaai, Somerset-Wes en die Strand is sonder elektrisiteit weens vandalisme by die Lourensrivier-substasie.
Volgens Eskom is daar omvangryke skade aangerig en lei dit tot ʼn vertraging om die kragtoevoer te herstel. Teen Vrydagmiddag was daar steeds geen sekerheid oor wanneer die kragtoevoer moontlik herstel sou wees nie.
Eskom het gesê daar was die afgelope paar maande ʼn groot toename in vandalisme van toerusting en infrastruktuur in die Kaapse metropool. “Kabeldiefstal en vandalisme van infrastruktuur lei tot langdurige kragonderbrekings tot die frustrasie van gebruikers,” het Eskom gesê.
Die kragvoorsiener het ʼn beroep op die publiek gedoen om voorvalle van vandalisme en onwettige kragverbindings aan te meld by 0800 11 27 22.
ʼn Eskom-werknemer is intussen Donderdag in hegtenis geneem nadat hy glo staalplate wat ʼn kragmas ondersteun gesteel het. Die voorval het by Eskom se Academy of Learning in Midrand plaasgevind.
Volgens Eskom het sy veiligheidspan ʼn wenk ontvang oor staalplate wat by ʼn skrootmetaalhandelaar in Midrand verkoop is. Die span is na die skrootmetaalhandelaar waar daar op 40 stukke staalplate afgekom is.
Die eienaar van die handelaar het bevestig dat ʼn Eskom-werknemer dit aan hom verkoop het en aangedui dat die betrokke werknemer later die dag gaan terugkeer om die betaling te ontvang. Hy is by sy terugkeer by die skrootmetaalhandelaar in hegtenis geneem.